Johan du Preez* is vyf jaar oud en moet volgende jaar grootskool toe gaan, maar sy ma, Engela*, is nie so seker dat hy gereed is nie.
“Sy kleuterskoolonderwyseres kla aanhoudend dat hy nie konsentreer nie en ek sien dit self by die huis. Hy kan nie eens daarop fokus om net op ’n stoel te sit en sy kos klaar te eet nie. Hy is soos daai batteryhasies – hy spring van een ding na ’n ander. Ons het nou met arbeidsterapie begin om te kyk of dit help.”
Dis waar dat baie vyfjariges nie juis ’n prys vir hul konsentrasievermoë sal wen nie – hoekom jou dan by een aktiwiteit bepaal as daar ’n wêreld vol opwindende moontlikhede daar buite is wat net wag om verken te word?