VRAAG
Ek is agt weke swanger. Wat mag ek nie eet tydens my swangerskap nie?
ANEL KIRSTEN ANTWOORD: Die meeste voedselsoorte is veilig tydens swangerskap, maar daar is sommige kosse wat ’n mens liewer moet vermy. Rou vleis, rou vis (soos soesji), rou hoender, rou vark of rou skulpvis is veral gevaarlik en moet te alle tye vermy word. Daar is die gevaar van voedselvergiftiging as gevolg van besmetting met die koliformbakterie, toksoplasmose-parasiet of die Salmonella-bakterie. Kouevleis by delitoonbanke kan moontlik besmet wees met die Listeria-kiem, wat ’n miskraam kan veroorsaak. As jy vleis eet, moet dit goed gaar wees, of jy kan dit herverhit. Kouevleis van die deli moet deurwarm wees.