Wanneer ’n baba voor 37 weke van swangerskap gebore word, word dit as ’n vroeë geboorte beskou. Dit kan veroorsaak word deur mediese toestande soos ’n infeksie, ’n plasenta wat laag lê of geskeur het, jou water wat vroeg gebreek het, ’n besering wat jy in jou maag opgedoen het of afwykings by die fetus. Nog ’n groot oorsaak is hoë bloeddruk wat deur die swangerskap veroorsaak is en tot preëklampsie lei.
Meerlinge kom ook graag vroeër omdat die ruimte in die baarmoeder knap raak.
As jy voorheen vroeg begin kraam het, is die kans groter dat dit nou weer sal gebeur. Nog ’n rits risikofaktore sluit in dat jy ’n steek in jou serviks gekry het, progesteroon moes neem, vantevore miskrame gehad het, veelvuldige aborsies ondergaan het, as daar ’n kort tydperk tussen jou swangerskappe was, as jy vetsugtig is, diabetes het of as jou baba deur IV-bevrugting verwek is.