Dit is ’n operasie waartydens jou baba verlos word deur middel van ’n klein snytjie onder op jou buik. Waar kom die term vandaan? Daar is verskeie verduidelikings, waaronder een dat Julius Caesar, die bekende Romeinse keiser, op hierdie manier die wêreld ingebring is. Of dit waar is, is te betwyfel, aangesien sy ma nog lank ná sy geboorte geleef het. Hoewel daar al in daardie dae chirurgies ingegryp is om ’n baba te verlos, het die ma dit nooit oorleef nie.
Dié algemene operasie is dalk kort, maar alles verloop volgens ’n baie fyn wedstrydplan. Die eerste stap is spinale verdowing. Dit word deur ’n narkotiseur hanteer, wat die middel deur jou ruggraat toedien. Die gevolg is dat jy geen gevoel van jou tepels af ondertoe het nie, maar self so wakker soos ’n haas bly. ’n Verpleegsuster sal, indien nodig, ook voor die operasie enige hare wat laer af op jou maag is skoon skeer en jou maag met antiseptiese oplossing skoon was. Jy sal ook ’n kateter kry.
Noodkeisersneë word uitgevoer wanneer die ma of baba se lewe bedreig word. Só ’n ingryping verg narkose wat jou heeltemal aan die slaap maak omdat daar bloot te min tyd vir ander metodes is.