Waarskynlik die grootste enkele rede waarom vroue ’n natuurlike geboorte verkies, het te doen met die moontlike invloed van medikasie op hul baba – en ook op hul eie vermoë om normaal te kraam. Narkose wat tydens keisersneë toegedien word, asook die meeste ander verdowingsmiddels kan deur die plasenta in die baba se bloedstroom beland en die baba ná die geboorte tydelik aantas. Of en hoe erg medikasie ’n baba tydens ’n normale bevalling raak, hang af van die soort middel, die wyse van toediening en wanneer dit toegedien word.
Middels wat ingespuit word steek die plasenta byvoorbeeld vinniger oor as middels wat mondeliks gegee word. As ’n middel soos petidien te laat toegedien word, kan dit baba se asemhaling aantas en is dit nodig dat ’n “teenmiddel” ingespuit word om baba te help herstel. Sou medikasie wel die plasenta oorsteek, sal baba se Apgartelling waarskynlik laer wees en kan dit sy hartklop en asemhaling tydelik aantas.
Met epidurale verdowing is die grootste risiko dat jou bloeddruk kwaai kan daal, wat die bloedvloei na jou baba kan belemmer. Dit kan veroorsaak dat baba nie genoeg suurstof kry nie. Epidurale verdowing verhoog ook die moontlikheid van ’n keisersnee effens omdat dit soms jou vermoë om te druk kan belemmer as jy nie die kontraksies kan voel nie, wat weer ander implikasies vir jou baba het.