Swangerskap: Vir baie vroue is dit van die gelukkigste en opwindendste maande van hul lewe, maar vir ander gaan dié tyd gepaard met emosies wat wissel van angs en hartseer tot spanning en verwardheid.
“Swanger vroue weet dikwels nie hulle het depressie nie, want die simptome – soos moegheid en angs – stem baie ooreen met die simptome van swangerskap,” sê dr. Azelle Mayne, ’n psigiater van Kaapstad.
Volgens Azelle ly 10 tot 20 persent van swanger vroue aan matige tot ernstige depressie. Dié soort depressie verskil min van ander soorte. “Swangerskapsdepressie is ’n gemoedsversteuring net soos kliniese depressie en ons gebruik dieselfde kriteria om dit te diagnoseer, soos wanhoop en mismoedigheid,” sê Azelle.