Byna die helfte van alle swanger vroue beleef naarheid, veral soggens. Vroue met ’n tekort aan sekere voedingstowwe is meer geneig tot naarheid, hoewel swangerskapsverwante hormone die eintlike sondaars is. Dié hormone skiet die hoogte in gedurende week nege en 10 van jou swangerskap en dis wanneer vroue op hul slegste voel. Onthou, naarheid kan ook jou liggaam se manier wees om ontslae te raak van gifstowwe. Troos jou daaraan dat die meeste gevalle van mislikheid net in die eerste trimester voorkom.
Raad
Party vroue sweer hul neus raak verstop die oomblik dat hulle hoor hulle is swanger – en dit is heel moontlik as gevolg van waterterughouding of opgeswelde asemhalingsvliese weens al die ekstra vloeistof in jou liggaam. Sommige vroue neem meer suiwel- en graanprodukte in tydens swangerskap en dit kan ook die oorsaak van hul toe neus wees.