Die liefdesvlam het hoog gebrand toe die Jurassic World-akteur en Katherine Schwarzenegger onlangs op ’n ontspanne piekniek gekiek is.

Katherine en Chris is onlangs op ’n ontspanne piekniek gekiek. Foto: Great Stock/Backgrid

Sy is glo sy meisie. Chris (39) tel tans onder Hollywood se 10 bes betaalde akteurs, maar die 28-jarige Katherine hoef glad nie terug te staan nie – sy is veel meer as net die oudste kind van Maria Shriver, van die beroemde Kennedy-familie, en die voor- malige akteur en politikus Arnold Schwarzenegger.

Katherine en haar pa, Arnold Schwarzenegger. Foto: Instagram

Die ambisieuse leefstylblogger het al die selfhelpboeke Rock What You’ve Got: Secrets to Loving Your Inner and Outer Beauty from Someone Who’s Been There and Back en I Just Graduated... Now What? en ’n kinderboek, Maverick and Me, geskryf.

Sy het ook ’n hegte verhouding met haar beroemde familie, insluitend haar suster, Christina (26), en broers, Patrick (24) en Christopher (20), ten spyte daarvan dat Arnold en Maria in 2011 uitmekaar is.

Haar sibbes, Christina (26), en broers, Patrick (24) en Christopher (20). Foto: Instagram

Gelukkig vir Chris het sy al vantevore gesê haar ouers se egskeiding het haar nie van trou afgesit nie.

“Ek wil beslis trou,” het sy in 2016 aan die tydskrif People gesê oor haar ouers se skeiding (nadat dit op die lappe gekom het Arnold is die pa van die 20-jarige Joseph Baena, ’n kind wat hy jare gelede by hul huishulp verwek het).

“Ek leer baie by albei my ouers oor die huwelik en hoe om ’n goeie, gesonde verhouding te hê.”

Anna het ook ’n nuwe vlam

Anna Faris (41) se naastes is in die wolke omdat sy weer liefde gevind het by die kinematograaf Michael Barrett (48).

Die paartjie, wat sedert November verlede jaar saam is, is onlangs gewaar tydens ’n vakansie in Italië saam met Anna en Chris se vyfjarige seun, Jack.

Anna Farris en haar nuwe liefie Michael Barrett. Foto: Great Stock/Backgrid

“Michael is wonderlik met hom (Jack) en dis al waaroor Anna omgee,” het ’n vriend na aan die paartjie vertel.

Die aktrise van The House Bunny-faam het onlangs oopgemaak oor hoe dit is om ouerskap met die Guardians of the Galaxy-akteur te deel.

“Ons maak seker Jack is omring deur baie liefde en geluk – ons is baie goed daarmee,” het sy gesê.

Bronne: DailyMail, USmagazine.com