Dit was ’n liefdesverhaal wat deur die soet en suur van die lewe oor meer as sewe dekades gestrek het.

Toe die jong prinses en die aantrek­like vlootkadet mekaar die eerste keer ontmoet het, was dit die begin van ’n romanse wat die toets van die tyd en die eise van ’n lewe in die felste kollig deurstaan het.

Die koningin het prins Philip as haar rots en anke
Die koningin het prins Philip as haar rots en anker deur al die jare beskryf. Foto: Getty Images/Gallo Images

En nou het die slottoneel aangebreek in die liefdesverhaal sonder weerga van koningin Elizabeth II en haar geliefde prins Philip. Op 99-jarige ouderdom – net twee maande voor sy 100ste verjaardag – het die hertog van Edinburgh sy laaste asem uitgeblaas met sy vrou langs sy sterfbed.

Die 95-jarige koningin het met “diepe hartseer” die dood van haar wederhelf van die afgelope 73 jaar bekendgemaak. Vlae het halfstok gehang en saluutskote van die weermag het oor die land opgeklink.

Die koningin het prins Philip as haar rots en anke
Die koningin het prins Philip as haar rots en anker deur al die jare beskryf. Foto: Getty Images/Gallo Images

Op die koningin se sosialemediaplatforms is ’n portret van haar en Philip gedeel met ’n roerende aanhaling daarby uit ’n toespraak wat sy met hul goue huweliksherdenking in 1997 gelewer het: “Hy was al hierdie jare my rots en anker, en ek en sy hele familie, hierdie land en baie ander lande is meer aan hom ver­skuldig as wat hy ooit sou eis, of wat ons ooit sal weet.”

Die verlies van haar sielsgenoot het die koningin in rou gedompel, maar mense in die binnekring sê sy was daarop voorbereid.

“Sy sou al baiekeer oor hierdie oomblik gedink het, en sy sal dit op haar manier hanteer deur so standvastig en kalm moontlik te bly,” het Charles Anson, ’n voormalige woordvoerder van haar, aan die tydskrif People gesê.

“In die jare dat ek saam met haar gewerk het, was sy altyd kalm, maak nie saak wat nie. Maar vir enige mens is dit traumaties,” het hy bygevoeg. Ná die agt dae van openbare rou oor sy dood, sal die koningin nog 30 dae in privaatheid rou.

Sy put troos daaruit dat sy en Philip die afgelope paar maande soveel tyd saam kon deurbring, sê bronne. Die egpaar was vir die grootste deel van die inperking by Windsorkasteel, waar hy op 9 April vreedsaam gesterf het.

Ná sy uittrede in 2017 het hy meestal in Norfolk op die platteland gewoon terwyl sy vrou haar koninklike pligte vanuit Buckinghampaleis en Windsorkasteel uitgevoer het. Die inperking was die eerste keer in jare dat hulle heeltyd bymekaar kon wees, met feitlik geen openbare verpligtinge nie.

Die hertog van Edinburgh sou daarmee kon spog dat hy die langs dienende koninklike gade in die Britse geskiedenis was en ook die manlike lid van die koningsgesin wat die oudste geword het. Maar vir sy vier kinders was hy net “Pappa”.

Prins Charles (72) beskryf hom as ’n “besonderse mens”. In ’n boodskap aan ITV wat vooraf opgeneem is, sê die eerste aanspraakmaker op die troon hy sal sy pa mis.

Sy pa was ’n man wat “nie dwase kon duld nie”, vertel Charles. “Hy was baie goed daarmee om jou met verskeie dinge touwys te maak.”

Tydens ’n onlangse besoek aan sy pa in die hospitaal het hulle ’n emosionele gesprek gehad wat Charles duidelik aangedaan gelaat het. Die hertog het sy oudste seun toe gevra om na die koningin te kyk en die koninklike familie te lei, verklap ’n bron.

Prinses Anne (70) was vol lof vir haar pa dat hy deur die loop van sy lang lewe “kon tred hou met die tegnologiese veranderings”.

“My pa was my leermeester, my ondersteuner en my kritikus, maar dit is veral sy voorbeeld van ’n lewe wat goed gelei is en diens wat vryelik gelewer is, wat ek wil nastreef.”

Prins Andrew (61) sê sy pa se dood was vir hom ’n ontsettende verlies.

“Ons het die oupa van die nasie verloor.” Die hertog van York het aan die BBC gesê die familie ondersteun hul ma.

“Die koningin probeer ’n kalm front voorhou. Maar sy beskryf dit as ’n reuse-leemte wat in haar lewe gelaat is.”

Prins Edward (57) het sy pa daarvoor bedank dat hy ’n “groot bron van aanmoediging en leiding” was.

Die graaf van Wessex het ook oor sy ouers se verhouding gepraat en van sy jeugherinneringe gedeel, soos om hulle saam op ’n rusbank te sien sit en lees.

Prins Philip het ’n vol en ryk lewe gelei – as gel
Prins Philip het ’n vol en ryk lewe gelei – as geliefde eggenoot, pa en oupa. Foto: Getty Images/Gallo Images

“My ouers het mekaar deur al daardie jare, geleenthede en oorsese toere so wonderlik ondersteun. Om iemand te hê wat jy in jou vertroue kan neem en saam met wie jy oor dinge kan glimlag waaroor jy dalk nie in die openbaar kon glimlag nie, is uiters belangrik,” sê hy.

Sedert prins Philip se dood stroom huldeblyke van wêreldleiers in. Maar een aanhanger som dit dalk die beste in ’n aanlyn huldeblyk op met die woorde: Haar majesteit het “die blinkste juweel in haar kroon verloor ”.

VIR MEKAAR BEDOEL

Elizabeth was net 13 jaar oud toe sy Philip die eerste keer tydens ’n besoek saam met haar gesin aan die koninklike vlootkollege gesien het. Die aantreklike jong kadet het dadelik haar oog getref. In haar tienerjare het sy talle briewe aan hom geskryf en ’n ­geraamde foto van hom langs haar bed gehou.

Philip het nie sy jong bewonderaar ernstig opgeneem nie tot hy in 1943 saam met ’n familielid vir Kersfees in Windsorkasteel oorgebly het.

Daardie naweek het hulle partytjie gehou, speletjies gespeel, gedans en flieks gekyk. Dit was vir hom ’n keerpunt.

Elizabeth (toe 17) was so opgewek soos “geeneen van ons haar al gesien het nie,” het haar eertydse goewernante ­Marion Crawford later vertel.

Ook Philip het smoorverlief geraak. In ’n brief aan haar skryf hy: “Ek is bang dat ek nie in staat is om dit alles in die regte woorde te stel nie, en ek is beslis nie in staat om vir jou die dankbaarheid te toon wat ek voel nie.”

In ’n ander brief skryf hy: “Om in die oorlog gespaar te word en oorwinning te sien, om die kans te kry om te rus en my weer aan te pas, om volkome en sonder voorbehoud verlief te raak, laat al ’n mens se persoonlike en selfs die wêreld se probleme klein en nietig lyk.”

’n Jong prinses Elizabeth en haar verloofde, Phili
’n Jong prinses Elizabeth en haar verloofde, Philip Mountbatten, op 10 Julie 1947 in Buckinghampaleis. Foto: Getty Images/Gallo Images

In 1946 het Philip koning George VI om sy dogter se hand gevra. Die koning het ingestem, maar gevra dat hulle met die aankondiging moet wag tot Elizabeth 21 jaar oud word. Hul verlowing is op 9 Julie 1947 amptelik bekendgemaak.

Howelinge het die toekomstige koningin afgeraai om met hom te trou, het die biograaf A.N. Wilson in ’n onderhoud in 2016 onthul.

“Hulle het dit om talle redes gesê, maar die feit is hy was die verkeerde keuse vir haar. Die koningin is ’n baie terughoudende, toegewyde mens. Hy is nie. Hy was ’n vlootoffisier en boonop skreeu­snaaks.

“Baie van sy grappe is as blapse afgemaak. Wel, ek dink nie dit was die geval nie. Dit is die soort grappe wat ’n vlootoffisier op ’n sekere ouderdom dalk doelbewus sal maak.”

DIE KONINKLIKE TROUE

Meer as 2 000 gaste was by die koninklike troue op 20 November 1947 in Westminster Abbey in Londen en BBC Radio het die plegtigheid aan 200 miljoen mense uitgesaai.

’n Dag voor die troue, op pad na ’n ete voor die troue saam met hul gaste, het die polisie Philip voorgekeer omdat hy deur die strate van Londen gejaag het.

“Ek is jammer beampte, maar ek het ’n afspraak met die aartsbiskop van Kantelberg,” het hy ewe parmantig laat hoor.

Net 150 gaste was by hul huweliksonthaal, ’n middagete by Buckinghampaleis. Al uitspattigheid was toe die bruid en bruidegom hul vierlaagtroukoek van 113 kg met Philip se swaard gesny het.

Die bruidegom se toespraak was kort en roerend. Philip het onder meer gesê hy is “trots op my land en my vrou”.

HUL HUWELIK

Elizabeth en Philip op 20 November 1947 op hul tro
Elizabeth en Philip op 20 November 1947 op hul troudag in Westminster ­Abbey in Londen. Foto: Getty Images/Gallo Images

As gade van die koningin moes Philip daaraan gewoond raak om twee tree agter sy vrou te loop. Dit het aan die begin van hul huwelik spanning veroorsaak, maar hy het dit mettertyd aanvaar.

“My eerste, tweede en laaste taak is om nooit die koningin in die steek te laat nie,” het hy eenkeer gesê.

Sy sou nooit haar pligte sonder hom kon uitvoer nie, meen die mense na aan haar. Soos haar kleindogter prinses ­Eugenie dit al gestel het: “Ek dink regtig hy is haar rots en sy is syne.”

Prins Harry het dit beaam: “Sy sou nie haar werk sonder hom kon doen nie.”

Philip is ál een wat die koningin kon laat lag het, en hy het sy “Lilibet” dikwels geterg. Hy het haar liefdevol “Cabbage” genoem.

In 1997 het hy onthul wat hy reken die suksesresep van hul huwelik is: “Verdraagsaamheid is die een noodsaaklike bestanddeel van enige gelukkige huwelik. Die koningin het die eienskap van verdraagsaamheid in oorvloed.”

In ’n brief aan haar ma het Philip eenkeer geskryf: “Lilibet koester? Ek wonder of daardie woord genoeg is om uit te druk wat alles in my is.”

GERUGTE VAN ’N DWALENDE OOG

Die voormalige kadet wat as 18-jarige by die vloot aangesluit het, het ’n kaptein met ’n belowende toekoms geword. Maar pleks van vaarte op vreemde waters, het die paleisprotokol hom as die koningin se gade aan bande gelê.

Sy oorsese reise was ’n manier om vir ’n wyle daarvan te ontsnap. Philip het 143 lande – van China en Sri Lanka tot Kanada en Australië – in sy amptelike hoedanigheid besoek.

Hy en Elizabeth was nege jaar getroud toe hy ’n vyf maande lange soloreis aangepak het. Die reis het in Australië begin en is as ’n diplomatieke sending bestempel, maar dit het ongelooflike druk op hul verhouding geplaas.

Dit het ook aanleiding gegee tot gerugte oor ontrouheid.

“Selfs ’n toegewyde koningsgesinde soos die romanskrywer Barbara Cartland, wat die koninklike familie aanbid, praat van ’n geheime liefdesverhouding waarvan sy by Philip se oom, die graaf Mountbatten gehoor het,” skryf Kitty Kelley in haar boek The Royals, wat in 1997 uitgereik is.

“Die stories oor die vroue in Philip se lewe en geheime ontmoetings is so talryk en uiteenlopend soos die hawens waar hy aangedoen het,” beweer Brian Hoey, nog ’n koninklike skrywer.

Die gerugte is in die kiem gesmoor. “As die koningin se man het hy ’n mate van onaantasbaarheid gehad,” sê Kitty.

Die prins se blapse

Prins Philip het nie enige skandaal in die familie geduld nie. Tog het sy sêgoed deur die jare dikwels die oë laat rek en hom die bynaam die “Duke of Hazard” besorg. Hier is ’n paar:

1966

“Britse vroue kan nie kook nie.”

1981

“Almal het gesê ons het meer vrye tyd ­nodig. Nou kla hulle dat hulle werkloos is.” – Tydens die verpletterende resessie van 1981.

1986

“As julle nog ­langer hier bly, gaan julle almal skrefiesoë kry.” – Aan ’n groep Britse studente tydens ’n koninklike besoek aan China.

1999

“Doof? As julle naby hieraan is, is dit g’n wonder dat julle doof is nie.” – Aan ’n groep gehoorgestremdes in Cardiff wat naby ’n staaltromorkes ­gestaan het.

2001

“Jy’s te vet om ’n ruimtevaarder te wees.” – Prins Philip aan die 13-jarige Andrew Adams wat hom van sy droom vertel het om ruimte toe te gaan.

2002

“Gooi julle nog spiese?”  – Aan ’n groep inheemse Austra­liërs tydens ’n besoek aan die land.

2010

“Werk jy in ’n ontkleeklub?” – Aan die 24-jarige seekadet Elizabeth Rendle toe sy hom vertel sy werk ook in ’n nagklub.

2013

 “Kinders gaan skool toe, want hul ouers wil hulle nie in die huis hê nie.” – Aan Malala Yousafzai, wat ’n sluipmoordaanval deur die Taliban oorleef het en haar nou beywer vir meisies se reg om sonder vrees te kan skoolgaan.

2017

“Jy lyk uitgehonger.” – Aan ’n pensioentrekker tydens ’n besoek aan ’n ouetehuis vir mans.

MOEILIKE JEUGJARE

As ’n kleuter in 1922. Foto: Getty Images/Gallo Im
As ’n kleuter in 1922. Foto: Getty Images/Gallo Images

Al het prins Philip blou bloed in sy are, is hy nie met ’n silwerlepel in die mond gebore nie.

Sy ma, prinses Alice van Battenberg, het op 10 Junie 1921 op ’n kombuistafel op die Griekse eiland Corfu aan hom geboorte gegee in die tyd van die Grieks-­Turkse oorlog.

Sy pa, prins Andreas van Griekeland en Denemarke, was ’n jonger broer van die Griekse koning Konstantyn.

Die volgende jaar, ná die nederlaag in die oorlog, is Andreas, ’n bevelvoerder in die weermag, van verraad beskuldig en deur die nuwe militêre regering verban. Die eenjarige Philip is in ’n lemoenkrat op ’n skip uitgesmokkel toe die gesin gevlug het na Parys, Frankryk, waar hulle die volgende dekade gewoon het.

“Al was sy ouers albei baie lief vir hom, het Philip in sy nomadiese vroeë jare min van hulle gesien,” skryf Philip Eade, die skrywer van Young Prince Philip. “Sy ma was baie gespanne weens die gesin se ballingskap uit Griekeland; daarom is die kinders gereeld na vriende en familie gestuur.”

Philip was 10 toe Alice, wat doof ge­bore is, ’n ineenstorting gehad het en in ’n inrigting in Switserland opgeneem is. Skisofrenie is ­later by haar gediagnoseer.

Maar hy was gelate oor sy swaar jeugjare.

“Dit is bloot wat gebeur het,” het die hertog later gesê. “Die gesin het verbrokkel. My ma was siek, my susters was getroud, my pa was in die suide van Frankryk. Ek moes met die lewe aangaan. Jy doen dit. ’n Mens doen dit.”

Prins Philip in 1935 aangetrek vir ’n skoolopvoeri
Prins Philip in 1935 aangetrek vir ’n skoolopvoering van Macbeth. Foto: Getty Images/Gallo Images

Alice se familie in Engeland – die Milford Havens en Mountbattens – het gehelp om Philip te versorg. Danksy hul bande met die Britse koninklike familie – Alice was ’n agterkleindogter van koningin Victoria – het Philip in Engeland skoolgegaan.

Hy was later minder as ’n jaar lank in Duitsland op skool en is met sy terugkeer by die kosskool Gordonstoun in Skotland ingeskryf.

Sy gesin het nooit herenig nie. Sy susters het met Nazi’s getrou wat Hitler ondersteun het, sy ma het ’n non geword en sy pa het by Philip se lewe in- en uitgedryf tot hulle kontak verloor het.

Luit. Philip Mountbatten sa­lueer op 31 Julie 194
Luit. Philip Mountbatten sa­lueer op 31 Julie 1947 om sy bywoning van die Koninklike Vloot­offisier­skool in Kingsmoor, Hawthorn, Engeland, te hervat. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die hoof van Gordonstoun, Kurt Hahn, het ’n vaderfiguur in Philip se lewe geword. Hy het in 1937 die tyding aan hom oorgedra dat sy suster Cecilie, haar man en hul twee kinders in ’n vliegtuig­ongeluk dood is.

’N FORMIDABELE PA

’n Jong prins Philip en koningin Elizabeth saam me
’n Jong prins Philip en koningin Elizabeth saam met hul kinders Charles en Anne in 1951. Foto: Getty Images/Gallo Images

Al lyk dit asof hulle eindelik vrede gemaak het, was Philip se verhouding met prins Charles altyd gespanne.

Die kroonprins het eens hul verhouding as “koud” beskryf en gesê hy voel sy pa het hom geboelie.

“Hy’s ’n romantikus en ek is ’n pragmatis,” het Philip in 2016 aan die koninklike biograaf Gyles Brandreth gesê. “Dit beteken ons sien dinge anders. En omdat ek nie dinge sien soos ’n romantikus sou nie, is ek gevoelloos.”

Prins Philip saam met sy oudste seun, Charles. Fot
Prins Philip saam met sy oudste seun, Charles. Foto: Getty Images/Gallo Images

Philip het daarop aangedring dat Charles na die Skotse seunskool Gordonstoun gaan. Hy het gehoop dit sou vir sy seun net so ’n positiewe ervaring wees as wat dit vir hom was. Maar die jong prins is afgeknou en het gesukkel om vriende te maak.

Diana Spencer was ook ’n teer punt tussen die twee. Philip het voor die paar­tjie se verlowing vir sy seun ’n brief geskryf wat Charles as ’n ultimatum vertolk het.

Prins Philip se opregte besorgdheid en steun vir D
Prins Philip se opregte besorgdheid en steun vir Diana in die tyd dat sy en Charles in 1992 uitmekaar is, blyk duidelik uit hul briewe aan mekaar. Foto: Getty Images/Gallo Images

’n Familielid van Philip stem egter nie saam nie. “Ek het die brief gesien, en hy het bloot daarop gewys dat Charles in ­gedagte moet hou die meisie is net 19, baie kwesbaar en met ’n reputasie om te verloor.

“As hy wou voortgaan om haar uit te neem, moes hy dit ernstig oorweeg om verloof te raak, anders sou dit nie reg­verdig teenoor Diana wees nie. Charles het dit beskou as ’n manier om hom te dwing om te trou.”

Philip het beter verhoudings met sy ander drie kinders gehad.

Prins Andrew het sy pa beskryf as ’n merk­waardige
Prins Andrew het sy pa beskryf as ’n merk­waardige man. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy het geen geheim van sy liefde vir Edward gemaak nie – ál portret in sy studeerkamer was dié van die graaf van Wessex.

Edward (regs), Philip se jongste kind, het glo ’n
Edward (regs), Philip se jongste kind, het glo ’n baie sterk band met sy pa gehad. Foto: Getty Images/Gallo Images

Edward het ná sy pa se aftrede in 2017 talle van sy pligte oorgeneem. Hy sal ook Philip se titel as hertog van Edinburgh ná die koningin se dood kry.

Prinses Anne, Philip se enigste dogter, het ’n lie
Prinses Anne, Philip se enigste dogter, het ’n liefde vir sport en perdry met haar pa gedeel. Foto: Getty Images/Gallo Images

Prinses Anne het ook ’n spesiale plekkie in haar pa se hart gehad. “Philip het altyd meer pret saam met Anne gehad,” het Eileen Parker, die vrou van sy hegte vriend Mike Parker eenmaal gesê.

’N SORGSAME OUPA

As oupa het Philip deeglik vir sy tekortkomings as pa vergoed. Hy het ná prinses Diana se dood in 1997 vir William (toe 15) en Harry (toe 12) hul hartseer help verwerk.

Toe ’n raadgewer van die destydse premier, Tony Blair, voorstel die prinse moet by prinses Diana se begrafnis agter haar kis aanstap, het Philip sy humeur verloor, vertel Adam Boulton, die man van Anji Hunter wat toe Blair se direkteur van regeringsbetrekkinge was.

“Die koningin het die oomblik geniet toe Philip oor die foon vanuit Balmoral skree: ‘F***f! Ons praat hier van twee seuns wat pas hul ma verloor het.’ ”

Die seuns het op die ou end in die stoet geloop. Philip het William glo gevra: “As ek stap, sal julle saam met my stap?”

Die hertog het gemeen sy kleinseuns sou dit later berou as hulle nie by die stoet aansluit nie.

Hier is prins Philip saam met ’n jong prins Willia
Hier is prins Philip saam met ’n jong prins William, graaf Spencer, prins Harry en Charles by die begrafnis van prinses Diana in 1997. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Ek dink oupa is ongelooflik,” het ­Eugenie in 2016 in die ITV-dokumentêr Our Queen at 90 gesê. “Hy is sterk en konse­kwent. Hy was al die jare daar en ek dink hy is ons almal se rots.”

Philip het ook vir prins Harry ondersteun toe hy besluit het om die konink­like lewe vaarwel toe te roep, al het hy gemeen dis ’n fout.

“Die hertog van Edinburgh was nie ingenome daarmee nie en het nie geglo Harry en Meghan doen die regte ding vir die land of vir hulself nie,” het Gyles, wat ook ’n hegte vriend van ­Philip was vir meer as 40 jaar, in die Daily Mail geskryf.

“Hy het vir my gesê: ‘Mense moet hul lewens lei soos hulle dit goeddink.’ ”

SY SKOONDOGTERS

Wat die familienaam en die lewe as ’n koninklike betref, het Philip een reël gehad: Moet nooit enigiets doen wat die familie in die skande steek nie. As hoof van die familie het hy die grootste sê oor familiesake gehad.

Philip het Diana soos ’n dogter liefgehad en haar by die beperkings van die lewe as ’n koninklike help aanpas.

Sy opregte besorgdheid, liefde en steun vir haar in die tyd dat sy en Charles in 1992 uitmekaar is, het duidelik uit hul briewe aan mekaar geblyk. Tydens ’n ondersoek ná haar dood in 2007 is hul ­briewe bekendgemaak, hoewel dit kwaai gesensor is.

Diana se voormalige butler Paul ­Burrell vertel Philip het “uiters ondersteunende briewe” aan haar geskryf.

“Hy het vir haar gesê: ‘Ek en Mamma keur nie Charles se verhouding met ­Camilla goed nie, en dit gaan ons verstand te bowe waarom hy Camilla bo jou kies,’ ” vertel Paul.

Die brief was onderteken: “Met baie liefde, Pa.”

“Liefste Pa,” het Diana geantwoord, “Jy gee werklik om . . . ”

Dinge het begin skeefloop toe Philip vir Diana gesê het sy stel die monargie in ’n slegte lig met haar gedrag.

Al was hy hoe lief vir haar, sou dit hom nie van sy standpunt laat afwyk het om nooit die familie in die skande te steek nie.

Hy het om dieselfde rede vir Sarah Ferguson die rug toegekeer. Sy was glo in ’n stadium sy gunstelingskoondogter. Hulle het ’n stout sin vir humor en ’n liefde vir vlieg gedeel.

“Ek dink sy sal ’n wonderlike bate wees,” het die hertog van Edinburgh gesê toe sy en Andrew in 1986 afgehaak het.

Maar die rooikop het gou in onguns verval. Foto’s het in Augustus 1992 opgeduik van ’n sonbruin en bostuklose ­Fergie terwyl haar Amerikaanse minnaar, John Bryan, besig was om haar tone te suig. Fergie en Andrew, wat toe nog nie geskei was nie, het by sy ouers by die ­Balmoral-landgoed gekuier toe die nuus breek.

“Die koningin was woedend,” het ­Fergie later vertel.

En Philip? “Dit was belaglik – sodra ek by een deur instap, het hy byna oor die corgi’s gestruikel om by die ander deur uit te kom,” het sy aan Gyles vertel.

’N MODERNE GEES

Byna 30 miljoen mense was voor die kassie vasgenael om te sien hoe die koningin op 2 Junie 1953 gekroon word.

Dit was hoofsaak­lik op Philip se aandrang, ondanks fel kritiek van regeringsamptenare. Hy was oorgehaal om die koningshuis te moderniseer.

“Philip was vasbeslote dat die monargie by die nuwe gees van verandering moes baat vind. Hy wou die antieke instelling vernuwe sodat dit relevanter vir ’n minder gedienstige publiek sou lyk en met die samelewingsrevolusie tred sou hou,” sê Robert Jobson, skrywer van biografie Prince Philip’s Century, wat binnekort ver­skyn.

’N PASSIE VIR VERVOER

Prins Philip was ’n gekwalifiseerde vlieënier, matroos, motorbestuurder en koetsdrywer. Hy het in die 1950’s sy Royal Air Force-­vliegtuig- en helikoptervlerkies en sy privaat vlieglisensie gekry.

Met sy uittrede in 1997 het hy 6 000 vliegure agter sy naam gehad. Seiljagvaart was ook ’n passie. Hy het gereeld sy seiljag, Bloodhound, met gesinsvakansies op die koninklike “seiljag” Britannia – eintlik ’n massiewe skip – saamgeneem.

Die prins het ook sy land in koetsry verteenwoordig – ’n sport wat hy in Brittanje gewild gemaak het. Sy kleindogter Louise Wind­sor, prins Edward en Sophie se dogter, het sy liefde daarvoor geërf. Hy het ook boeke oor die onderwerp geskryf.

LIEFDE VIR KUNS EN SPORT

Hy het graag met olieverf geskilder. Foto: Getty I
Hy het graag met olieverf geskilder. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy het graag met olieverf geskilder. In een van sy bekender kunswerke, The Queen at Breakfast, Windsor Castle, beeld hy sy vrou uit aan die ontbyttafel met ’n koerant in haar hande.

Hy het ná ’n brand in 1992 in Windsorkasteel met die restourasie daarvan gehelp deur ’n gebrandskilderde glasvenster vir die privaat kapel te ontwerp.

Hy het ook die aangepaste Land Rover help ontwerp wat met sy begrafnis gebruik sal word om sy liggaam te vervoer.

Fiksheid en sport het ook ’n groot rol gespeel. Op skool was hy kaptein van sy krieket- en hokkie­spanne. Hy was twee termyne lank die voorsitter van die Lords-­krieketklub en ’n kranige polospeler. Hy was ook versot op visvang en om saam met sy gesin te jag.

SY GESONDHEID

Die jong prins Philip was altyd die toonbeeld van blakende gesondheid. Later in sy lewe het hy wel met verskeie gesondheidsprobleme gesukkel.

Prostaatkanker is in 2008 by hom gediagnoseer, al het hy dit aanvanklik ontken. In April daardie jaar is hy ná ’n borsinfeksie in die King Edward VII-hospitaal opgeneem.

Hy het ook hartprobleme gehad. Die hertog is in Desember 2011 met bors­pyne hospitaal toe geneem. Dit was weens ’n geblokkeerde kroonslagaar.

Op 15 Februarie vanjaar is hy weer in die King Edward VII-hospitaal opgeneem. Hy is later vir ’n hartoperasie na die St. Bartholomew’s-hospitaal oorge­plaas.

Ná ’n hospitaalverblyf van ’n maand – die langste in sy lewe – is hy in middel Maart ontslaan.
Hy het daarna vir die koningin gesê hy wil nie teruggaan hospitaal toe nie, want hy wil in sy eie huis sterf.

DIE BEGRAFNIS

Die planne vir Philip se begrafnis – onder die kodenaam Operation Forth Bridge – moes weens covid-19-beperkings verander word. Die begrafnis op 17 April is daarom ’n veel kleiner en eenvoudiger geleentheid as wat aanvanklik be­plan is.

Philip sou hiermee gelukkig gewees het. Hy wou nie ’n staatsbegrafnis hê of in staatsie lê soos met vorige koninklike begrafnisse nie.

Onder die 30 mense wat hul laaste eer aan hom betoon, is die koningin, prinses Anne, prins Charles en sy vrou, Camilla, prins Edward en sy vrou, Sophie, en prins Harry, maar sonder sy vrou, Meghan. Omdat sy hoogswanger is, het dokters haar afgeraai om die 11 uur lange vlug van Kalifornië te onderneem.

“Harry voel skuldig omdat hy nie daar was om prins Philip persoonlik te groet nie,” het ’n bron aan die tydskrif Us ­Week­ly gesê.

Philip se begrafnis is dan ook die eerste koninklike geleentheid wat prins Andrew bywoon sedert sy vriendskap met die Amerikaanse seksoortreder en pedofiel wyle Jeffrey Epstein geweldige omstredenheid veroorsaak het. Andrew gaan vergesel word van sy eksvrou, Sarah ­Ferguson, hul dogters, prinsesse Eugenie en Beatrice, en dié se gades.

Om die hertog se besonderse verhouding met die weermag te weerspieël, stap kisdraers stadig aan weerskante van die kis terwyl dit deur die perseel van Wind­sorkasteel tot by die kapel beweeg, met nabye familielede wat die Land ­Rover te voet volg.

’n Statige en gedempte afskeid vir ’n gentleman wat nie ’n “fuss” wou hê nie.

Die prins in syfers
  • 2017 Die jaar van sy amptelike uittrede op 96-jarige ouderdom uit die koninklike diens.
  • 1948 Die jaar van sy eerste openbare verpligting by ’n bokswedstryd in die Royal Albert Hall in Londen.
  • 22 000 Soveel openbare soloverpligtinge het hy van 1952, toe sy vrou koningin geword het, tot en met sy aftrede na­gekom.
  • 5 496 Soveel toesprake het hy in meer as 76 lande ­ge­lewer.
  • 637 Soveel interna­sionale soloreise het hy namens die koningin ­onderneem.
  • 14 Soveel boeke het hy geskryf, waarvan talle op die natuurlewe en -bewaring ­fokus.
  • 785 Van soveel ­organisasies was hy die ­beskermheer.
  • 1971 Die jaar toe hy sy geliefde polo laat vaar het omdat dié sport die artritis in sy ­linkergewrig ­vererger het.
BRONNE: WOMANANDHOME.COM; THESUN.CO.UK; INEWS.CO.UK; WMAGAZINE.COM; INDEPENDENT.CO.UK; TOWNANDCOUNTRYMAG.COM; STANDARD.CO.UK, ABCNEWS.GO.COM; BUSINESS­INSIDER.COM, THECROWNCHRONICLES.CO.UK, VANITYFAIR.COM, METRO.UK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe