Januarie

Megxit

Nommer 1 op die lysie is beslis Megxit wat groot opskudding veroorsaak het. Prins Harry (36) en sy vrou, Meghan (39), het boonop op 8 Januarie aangekondig hulle tree uit as senior lede van die Britse koninklike familie – en dit op hul Instagram-blad en nie volgens koninklike protokol met al die regte handtekeninge nie.

Harry en Meghan en hul 19 maande oue seuntjie, Archie, bevind hulle nou in Santa Barbara in Amerika. Hardnekkige gerugte van ’n Netflix-ooreenkoms waaruit hulle glo £112 miljoen kan maak duik ook gereeld op. Die paartjie is reeds deur die stroomdiens betaal vir projekte wat oor jare mag loop en daardie geld is aangewend om hul skuld op Frogmore Cottage, hul tuiste in Windsor in Engeland, te delg.

Die nuwe prinses

Die voormalige Belgiese koning Albert II (86) moet eindelik ná meer as ’n dekade se ontkenning met die sak patats na vore kom: Hy is inderdaad die pa van die kunstenares Delphine Boël (52), wat uit sy buite-egtelike verhouding met barones Sybille de Selys Longchamps (79) gebore is.

Delphine is in Oktober ná ’n sewe jaar lange hofstryd eindelik die titel van prinses toegeken.

Februarie

Egskeidings

Prinses Anne se seun, Peter Phillips (43), is reeds in 2019 in die geheim van sy Kanadese vrou, Autumn Kelly (42), geskei. Die nuus het eers in Februarie uitgelek. Hulle het twee dogters, Savannah (9) en Isla (8).

Skaars ’n week later het nog 'n lid van die Britse koninklike gesin aangekondig hy gaan skei: prinses Margaret se seun, David Armstrong-Jones (59). Koningin Elizabeth se susterskind David het op 17 Februarie onthul hy en sy vrou, Serena (50), het ook op vriendelike voet op ’n egskeiding ooreengekom. Hulle het 'n 18-jarige dogter, Margarita, en 21-jarige seun, Charles.

Maart

Korrupsie

Die voormalige koning van Spanje Juan Carlos (82) se seun, koning Felipe (52), weier om enige toekomstige erfenis van sy pa te ontvang nadat dié se betrokkenheid by ’n finansiële skandaal op die lappe gekom het danksy een van sy verbitterde minnaresse.

Switserse bankrekenings en sy dekadente pierewaaierleefstyl het ook daartoe bygedra dat die voormalige koning se gewildheid in dié land geheel en al getaan het.

Daarmee saam het die Juan Carlos ook sy openbare toelae wat hy uit die staat se koffers ontvang het, verbeur.

April

Covid-19

Prins William (38) toets positief vir covid-19 en isoleer by die gesin se tuiste in Anmer Hall in Norfolk vanwaar hy telefonies en met video-vergaderings steeds sy werk gedoen het. Dit was kort nadat sy pa, prins Charles (72), ook positief vir covid-19 getoets het.

William hou dit egter geheim omdat hy nie die Britte die skrik op die lyf wou jaag nie. William het eers in November erken hy het covid onder lede gehad.

Mei

Troue elders

Prinses Theodora van Griekeland en Denemarke (37), 'n aktrise in eie reg onder die naam Theodora Greece (sy speel onder meer die slinkse Bill Spencer se konkelende sekretaresse Allison Montgomery in The Bold and the Beautiful), en Matthew Kumar (36), 'n prokureur van Los Angeles in Amerika, het in November 2018 verloof geraak.

Die paartjie het beplan om op die Griekse eiland Spetses te trou, maar die pandemie het 'n stokkie voor hul planne gesteek. Hulle het toe op 25 Mei by hul tuiste in Los Angeles getrou.

Theodora is nie net 'n Griekse prinses nie, maar ook 'n lid van die Deense koningsgesin. Haar pa is die gewese koning van Griekeland, Constantine II, en haar ma, prinses Anne-Marie van Denemarke. Sy is ook een van koningin Elizabeth se peetkinders.

Junie

Koninklike boete

Ook koninklikes kan 'n boete opgelê word, soos wat met prins Joachim (28) van België gebeur het. Hy moes meer as R188 000 opdok omdat hy die inperkingsmaatreëls in Spanje verbreek het. Hy het nie vir 14 dae in isolasie gegaan nadat hy glo vir 'n partytjie in die land aangekom het nie, al was dit 'n paar dae nadat hy positief vir covid-19 getoets het.

Julie

Geheime troue

Prinses Beatrice (32), dogter van die skandaal-geteisterde prins Andrew (60) en sy eksvrou, Sarah Ferguson (61), en Edoardo Mapelli Mozzi (37) het op 17 Julie tydens ’n intieme seremonie getrou. 

Daar was net 20 gaste by die seremonie, en die wêreldmedia het eers van die troue te hore gekom nadat dit reeds plaasgevind het.

Hoewel haar pa haar na die kansel geneem het, is geen foto’s van hom of enige van die gaste by haar troue, deur Buckinghampaleis uitgereik nie.

Hartseer nuus

Meghan, die hertogin van Sussex, beleef 'n miskraam met haar tweede swangerskap. Die nuus word dig bewaar tot sy op 25 November in 'n opiniestuk in The New York Times daaroor skryf.

“Ek het geweet, terwyl ek my eersgeborene vashou, dat ek besig was om my tweede te verloor”, het sy in die roerende artikel geskryf.

Augustus

Koninklike apologie

Dis nie aldag dat ’n koninklike om verskoning vra nie. Maar koning Willem-Alexander (53) van Nederland en sy vrou, koningin Máxima (49), moes inderdaad in Augustus vir die hele land verskoning vra.

’n Foto het die lig gesien waar die twee tydens hul vakansie in Griekeland nie aan sosiale distansiëring gehoor gegee het nie, maar hand om die lyf met die eienaar van ’n restaurant in Mykonos staan.

Volgens die koningspaar het hulle in die spontane gees van die oomblik nie aandag geskenk aan die protokol nie.

September

Nog babanuus

Koningin Elizabeth se kleindogter prinses Eugenie (30) en haar man, Jack Brooksbank (34), het op 25 September bekend gemaak dat hulle ouers gaan word. Die baba sal vroeg in 2021 sy of haar opwagting maak. Die paartjie het in 2018 getrou.

Jack is die Verenigde Koninkryk se ambassadeur vir die tequila-fabrikaat Casamigos, die Hollywood-ster George Clooney en Rande Gerber se tequila-maatskappy wat hulle in 2017 teen ’n allemintige $1 miljard aan Diageo verkoop het.

Oktober

7 dae van rou

Prins Haji 'Abdul 'Azim (38), seun van die Sultan van Brunei, het op 24 Oktober ná ’n lang siekbed gesterf. Hy was die tweede oudste seun van die sultan. Hy was onder andere vriende met die musieksterre Janet en Michael Jackson. Ook Mariah Carey was deel van sy 30ste verjaardagvieringe in Londen.

Tydens die sewe dae van rou-periode het vlae halfstok gehang en is geen vermaak- of feesvieringe toegelaat nie.

November

’n Koninklike eerste

Hoewel dit groot kritiek by talle ontlok het, het prins Charles en sy vrou, Camilla (73), die hertogin van Cornwall, op 15 November ’n geskiedkundige besoek aan Duitsland afgelê om Berlyn se herinneringseremonie by te woon.

Dit was die eerste keer dat lede van Britse koninklike gesin dit bygewoon het. Vanjaar is dit die 75ste herdenking van die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

’n Merkwaardige huweliksmylpaal

Op 20 November 1947 het die toe 21-jarige prinses Elizabeth van Brittanje met die lenige, aantreklike luit. Philip Mountbatten (26) getrou.

Vandag is sy koningin Elizabeth II en haar man 'n prins. Die egpaar het in November hul 73ste huweliksherdenking gevier. Die koningin is nou die langste getroude Britse heerser van alle tye.

Desember

Sterfte

Koningin Elizabeth (94), wat bekend is vir liefde vir haar corgi's en perde, moes vroeg in Desember een van haar geliefde “dorgis” groet. Vulcan (13), ’n kruising tussen ’n Pembroke Welsh-corgi en ’n dachshund het in 2018 saam met die koningin op Vanity Fair se voorblad gepryk.

Hy is op 4 Desember vanweë ouderdom dood. Sy het nou net een hondjie oor, Candy. Vanaf 1945 het die koningin meer as 30 corgi's gehad, maar het vanweë haar ouderdom opgehou om hulle te teel.

’n Nuwe lewe

Prinses Anne se dogter, Zara Tindall (39), is swanger met haar derde kind. Dié nuus is op 9 Desember deur haar man, die oudrugbyspeler Mike Tindall (42), op sy podcast The Good, the Bad & the Rugby, bekend gemaak.

Die egpaar het reeds twee dogters, Mia Grace (6) en Lia Elizabeth (2), en is al nege jaar getroud. Zara het tydens hul huwelik die hartseer van twee miskrame beleef ná die geboorte van hul eersteling, Mia Grace.

Koningin Elizabeth is in die wolke oor die nuus dat haar oudste kleindogter weer swanger is.

Bronne: news24.com, hellomagazine.com, goodhousekeeping.com, insider.com, etonline.com, theboldandthebeautiful.fandom.com, msn.com, nettyroyalblog.nl, yourtango.com