Alles het so anders verloop as waarvan hy destyds gedroom het. En tog sou hy ’n tweede kans kry; ’n tweede beurt om sy drome na te streef . . .

In die eerste paar jaar van hierdie eeu was die sanger met die diep stem op die kruin van sy loopbaan.

Hy het die land platgery vir konserte; sy CD’s het platinumverkope behaal. Treffers soos Anita, Ja of Nee, Ry of Bly en Ons Is Jonk het oor die radiogolwe opgeklink.

Sy toekoms was rooskleurig. Maar toe word sy goue stem in ’n oogwink stil . . .

Kanker het Pieter Naudé (50), broer van die sangeres Juanita du Plessis (46), se loopbaan maande aaneen tot stilstand geruk, keer op keer op keer.

As sing en optree in jou bloed is, wat anders kan jy doen?

Want tussen 2006 en 2014 is kanker nie minder nie as drie keer by hom gediagnoseer, en weens die lang behandelings kon hy ná elke operasie tot ses maande lank nie optree nie.

’n Halwe jaar is lank in die musiekbedryf, vertel Pieter ons vandag in sy huis in Pretoria. As ’n sanger nie gereeld optree en albums uitreik nie, vergeet mense vinnig van hom.

Maar nou is hy eindelik gereed om weer nuut te begin, want die wonderwerk waarop hy so lank gehoop het, het gebeur: Hy is nou al langer as ’n jaar kankervry; die gevreesde siekte is in remissie.

En die afgelope ses maande kan hy weer naweke in kuierplekke in en om Pretoria optree. Hy sal nie ’n vierde stryd met die siekte stry nie; dit glo hy vas, sê Pieter. Hy beduie met sy vinger na Bo.

“Dankie,” sê die sanger wat al moeilike draaie deur die lewe moes stap. Pieter is in 2012 vir ’n Ghoema benoem vir sy countryalbum, Gee My Vlerke, en is opgewonde daaroor dat hy in Augustus terug in die ateljee sal wees om ’n enkelsnit op te neem.

Hy wil kankerlyers, veral kinders, aanspoor om soos ’n magneet aan die lewe te klou. Foto: Dino Codevilla

Hopelik kan hy volgende jaar weer ’n album uitreik, sê hy. Maar in sy hart brand die begeerte om weer in sy toerbus die langpad te vat en op feeste op te tree.

“Ek kon lankal gaan lê het, maar ek klou verbete aan die lewe,” sê hy oor koffie. “Dis nou of nooit.”

Pieter se musiekloopbaan het eintlik heel toevallig en informeel begin toe hy en ’n vriend, Rennie Straus, in 1989 ’n tweemanorkes, Zenith, in Windhoek begin. Veertien jaar lank het hulle elke naweek Namibië platgetoer en in kuierplekke en tydens geleenthede opgetree.

Destyds was Pieter eintlik ’n sakeman wat ’n voertuigonderneming en nagklub in Windhoek besit het. Maar in 2003 het hy sy goed gepak en Pretoria toe getrek om ’n nuwe rigting in te slaan.

Hy het gesorg vir die klank en beligting tydens sus Juanita se vertonings en ook die klank hanteer tydens musiekoptredes landwyd, soos musiekfeeste.

In 2004 was hy verantwoordelik vir die klank tydens ’n musiekfees in Bloemfontein waar talle musikante opgetree het. Een van die kunstenaars kon nie betyds vir sy tydgleuf opdaag nie; skielik was ’n halfuur in die program oop.

Om die gehoor besig te hou, bestyg Pieter toe sommer self die verhoog en sing ’n paar liedjies uit sy Zenith-dae. Die destydse grootbaas van Select Musiek, Kosie van Niekerk, het net toe verbygestap en gehou van wat hy op die verhoog gehoor het.

Select het dié onbekende sanger ’n platekontrak aangebied en sy debuutalbum, Mooiste Meisie, is in 2005 uitgereik. Die titelsnit was dadelik ’n danstreffer en besprekings vir Pieter het begin instroom.

Maar min het hy geweet van die onheil wat in sy brein broei. In 2006, dieselfde jaar dat hy vir ’n Huisgenoot-Tempo vir nuweling van die jaar benoem is, het Pieter op die dorpie Ariamsvlei in die suide van Namibië opgetree.

Hy was halfpad deur sy optrede toe hy sy baadjie aantrek en ’n gevaarlike sesoogsandspinnekop, wat binne sy baadjie geskuil het, hom byt. Hy het terstond sy eerste epileptiese toeval gekry.

Een van sy kankergewasse is as ’n wit kol op dié X-straal sigbaar. Foto: Dino Codevilla

Maar van alles wat daarna gebeur het, onthou hy niks, vertel Pieter. Hy is opgeneem in ’n hospitaal op Upington, die naaste groot dorp, waar hy drie dae lank behandel is.

Terug in Pretoria moes hy nog behandeling en toetse ondergaan, onder meer ’n breinskandering. Dis toe dat hy die nuus kry wat sy wêreld tot stilstand geruk het.

“Die dokter het my die X-strale gewys. Daar was ’n breinkankergewas so groot soos ’n R5-muntstuk.”

Hy onthou hy het op daardie oomblik sy kop op sy arms op die dokter se lessenaar laat sak en “net daar my hart vir die Here gegee”.

Tydens ’n ses uur lange operasie is die gewas verwyder. Daarna is sy tweede en derde album uitgereik en hy was net weer mooi op dreef toe ’n tweede breingewas in 2012 ontdek word.

Dit is ook verwyder, maar hy moes daarna amper twee maande lank bestraling ontvang – altesaam 36 sessies. In 2014 is ’n derde kankergewas aan sy pituïtêre klier ontdek. Hy het weer onder die mes beland.

Ná elke operasie het dit sowat ’n halwe jaar geduur voor hy weer sy mikrofoon kon uithaal. Telkens moes hy weer die stukke van sy loopbaan optel en opnuut begin.

Hier in sy eetkamer hang ’n bronsbordjie met twee biddende hande daarop. Daaronder staan geskryf: God, gee my die gemoedskalmte om te aanvaar wat ek nie kan verander nie, moed om te verander dit wat ek kan, en die wysheid om die verskil te ken.

Teen die oorkantse muur hang ’n onlangse gesinsfoto van hom, sy vrou, Ester, ’n onderwyseres met wie hy in 1995 getroud is, en hul twee dogters, Danelle (20) en Sunita (17).

Pieter by (van links) sy dogters, Sunita en Danelle, en vrou, Ester. Foto: Dino Codevilla

Pieter beduie na die hoek waar 13 koeverte met pakke X-strale op ’n tafeltjie lê. “Daar is my hele lewe van kanker gedokumenteer,” sê hy.

Vandag is hy optimisties en werk hy hard om sy loopbaan weer op dreef te kry, maar dit was nie aldag maklik om dié punt te bereik nie.

“Ja, ek het al hier by die huis gesit en net gehuil uit moedeloosheid.

"Maar dit bring jou nêrens. Ek het dit soms ook al oorweeg om die singery te los en vir ’n salaris te werk. Maar as sing en optree in jou bloed is, wat anders kan jy doen?”

In sy lessenaarlaai lê 24 nuwe liedjies, waarvan hy een moet kies om in Augustus as ’n enkelsnit op te neem.

Intussen tree hy al sowat vier keer per maand op. Hy wil ook betrokke raak by kinders met kanker en die boodskap aan hulle bring: “Klou soos ’n magneet aan die lewe.”

Met dié doelwit voor oë wil sy agent, Anneke Pretorius, met ’n insamelingsveldtog ten bate van behoeftige kankerlyertjies begin. Sy wil ’n unieke produk, die Can Cradle, bemark en verkoop.

Dis ’n plastiekhouer met ’n sterk magneet wat aan ’n yskas of staalkabinet geplak word en waarin sproeikannetjies gehou kan word.

Toe ons groet, lyk Pieter sommer vol energie en gereed vir sy soveelste terugvegpoging. Hy is mos ’n Suidwester, sê hy. “En ons Suidwesters gaan lê nie.”