1. INGRID PAULUS

Dié aktrise is die afgelope 20 jaar as Vanessa Meintjies in 7de Laan te sien. Ingrid het ’n paar jaar gelede ook agter die skerms as regisseur begin werk.

“Ek verkies dit eintlik om agter die skerms te werk, maar ek geniet dit steeds om toneel te speel, en dit sal altyd my eerste liefde wees,” sê sy.

 Ingrid, Blyde Smit (Gabby) en Sesethu Ntombela (K
Ingrid, Blyde Smit (Gabby) en Sesethu Ntombela (Khethiwe) kyk na ’n toneel wat hulle klaar verfilm het. Foto: 7de Laan

“Ek is bly '7de Laan' gee akteurs die geleentheid om hul horisonne te verbreed. Dit help ’n mens baie, en in ons bedryf moet jou hande vir niks verkeerd staan nie.”

Ingrid vertel dat van die vele tonele wat sy al regie voor hanteer het, is sy ewe trots op elkeen. 

“Al die akteurs en die tegniese span werk so hard. Almal gaan uit hul pad en gee 100% om elke toneel of episode goed te laat lyk en ’n storie te vertel.”

2. JAWAAHIER PETERSEN

Dié Kaapse aktrise speel nie net Kaashifa in Suidooster nie; sy is ook ’n kulture raadgewer op die stel.

“Ek word geraadpleeg oor tonele, storielyne en of dit kultureel gepas is, want die sepie neem kulturele en godsdienstige sensitiwiteit baie ernstig op.

“In die besonder met die Moslem-geloof omdat ons nog nooit voorheen hoofkarakters wat Moslem is of sulke storielyne op Suid-Afrikaanse televisie gehad het nie; ons wil dit daarom regkry,” sê Jawaahier, wat self Moslem is.

Jawaahier saam met haar Suidooster-medesterre Gant
Jawaahier saam met haar Suidooster-medesterre Gantane Kusch en Marcel van Heerden. Foto: Verskaf

“Ek was nog altyd ’n aanhanger van die sepie voor ek daarvan deel was, en dis wonderlik om te sien hoe die karakters groei en om te weet dat ek ’n klein rol speel in wat kykers op die skerms sien.”

Jawaahier vertel dat sy van nature akademies ingestel is, en daarom geniet sy die kulturele raadgewer-rol net soveel soos aktrise wees.

“Ek hou van die navorsing en om mense se stories so opreg en volledig as moontlik te kan vertel. Met die dat ek agter die skerms ook nou werk, sien ek hoe die masjien aan beide kante werk.

“Ek help ook graag uit op enige plek waar ek kan,” voeg sy by.

3. LORRAINE BURGER

Die aktrise, wat ons as die hoof van administrasie Annetjie Strauss in Binnelanders ken, is sedert 2009 deel van dié sepie se skrywerspan.

“Dit was ’n ware vuurdoop,” onthou sy. “As skrywer moet jy aan elke liewe besonderheid dink, en jy moet elke karakter se storielyn en emosies te alle tye in gedagte hou. As akteur is die fokus baie nouer en het jy ’n meer direkte konneksie met die kyker.”

Lorraine en Cindy Swanepoel (agter), wat dr. Annel
Lorraine en Cindy Swanepoel (agter), wat dr. Annelize vertolk. Foto: kykNET

“Die Binnelanders-kykers is ook baie skerp, so hulle weet dat ek Annetjie speel en deel is van die skryfspan. Wat kykers wel verbaas is dat ek glad nie so koekerig soos Annetjie aantrek nie,” laat Lorraine hoor.

Die storielyn wat haar as skrywer die meeste aangeroer het, was toe die jong verpleegster Naomi (Je-ani Swiegelaar) verlief geraak het op ’n geweldadige man.

“Naomi het halsoorkop verlief geraak en die sprokie was eintlik alles ’n leuen. Teen die tyd dat sy besef het haar lewe is in gevaar, het die man reeds ’n wig tussen haar en haar geliefdes gedryf.

“Die storie het die kykers geweldig aangegryp en baie gesprekke ontketen. Dit was asof mense skielik kon praat oor ’n kwessie wat baie keer stilgehou of toegesmeer word. Dit het my laat besef dat ek as skrywer mense werklik kan raak en laat nadink oor moeilike onderwerpe.”

4. MARISA DRUMMOND

Kykers het Marisa in 2018 in die sepie Getroud met rugby leer ken as Bart Smith (Pierre Breytenbach) se eksvrou, die molesmaker Ilse.

Deesdae behartig die aktrise, wat in 2016 vir die eerste keer haar hand aan televisieregie gewaag het, ook die regie by dié kykNET-sepie. Haar gunstelingtonele is waar akteurs absolute eerlikheid tot hul karakters bring.

Marisa en Sean van Noordwyk, wat Reitz Bekker spee
Marisa en Sean van Noordwyk, wat Reitz Bekker speel. Foto: kykNET

“Dis waar ek ’n warboel van emosies saam met hulle kan beleef en deur my monitor wil klim en in hul wêreld wil leef.

Oor waar sy op haar gemaklikste is, het Marisa die volgende te sê.

“Ek kan nie sê ek verkies die een bo die ander nie. Ek het ‘n liefdesverhouding met beide, so ook skryf. Elkeen bied iets anders om op verlief te raak. Elkeen gee vir jou ‘n ander tipe vlinder en opgewondenheid en ‘n lus om op te staan in die oggend.”

5. JARRID GEDULD

Die akteur, wat die moeilikheidmaker Bompie in Arendsvlei speel, werk ook op die stel as ’n opleidingsregisseur en taaltoesighouer.

“Ek moet sorg die akteurs hanteer die dialoog reg en dat hulle gemaklik is met die teks, maar ook vir hulle ondersteuning bied as hulle sukkel,” sê hy.

 Jarrid op die stel van Arendsvlei. Foto: Verskaf
Jarrid op die stel van Arendsvlei. Foto: Verskaf

Jarrid is ook baie dankbaar dat hy die geleentheid het om ander vaardighede aan te leer.

Arendsvlei het ’n baie hoë standaard van wie hulle sulke geleenthede voor gee. So vir hulle om die potensiaal in my te sien, was regtig so ’n seëning op die pad wat ek probeer stap as regisseur.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe