Die 25-jarige skoonheidskoningin het 16 ander deelnemers uitgestof vir dié gesogte titel op die 60ste jaarlikse kompetisie.

“Dit het nog nie ingesink nie, ek dink dit sal eers môreoggend insink. Jy kom hier met ’n doel en die doel is om te wen en as jy wen verander jou hele wêreld. Dis oorweldigend, maar in ’n goeie manier,” het sy kort ná die aankondiging aan Huisgenoot vertel. 

Volgens Zozi, soos baie haar ken, het sy glad nie verwag om met die titel weg te stap nie. “Elkeen van die 15 meisies was intelligent in hul eie reg en beeldskoon. Ek het gehoop om te wen, maar het dit glad nie verwag nie.” 

Zozi
Foto: Shanaaz Prince

Haar pa, Lungisa Tunzi (55), en ma, Philiswa (50), kan nie meer trots wees op hul dogter nie.

“Ek het geen woorde nie. Dis ongelooflik. Ons wil God eerste sit, ons het gebid vir die oomblik om te kom,“ sê dié trotse pa oor sy dogter se prestasie.  

Zozi se ouers geniet haar groot oomblik aan haar sy. Foto: Shanaaz Prince
Zozi se trotse ouers
Foto: Shanaaz Prince

Zozi is ook baie trots op haar unieke voorkoms en het laat hoor dat sy beplan om haar hare natuurlik en kort te dra terwyl sy die kroon dra.  

“Ek het hierheen gekom met hierdie voorkoms. Ek dra vir die afgelope twee jaar my hare kort en is van plan om dit so te hou,” vertel sy. 

Zozibini ontvang pryse ter waarde van R3 miljoen, waaronder R1 miljoen in kontant en ’n luukse woonstel in Sandton. Sy het ook 'n kar gewen, maar verklap dat sy nog nie haar bestuurslisensie het nie. 

En wat gaan sy doen met haar prysgeld? “Waarskynlik eerste my studiegelde afbetaal,” sê sy. 

Hier is vyf dinge wat jy oor jou nuwe Mej SA moet weet

  • Zozibini is besig om haar B.Tech-graad as skakelbeampte aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie te voltooi.
  • Haar rolmodelle is haar ouers, en sy wil graag haar ander groot rolmodel, Caster Semenya, ontmoet. 
  • Sy ontspan graag deur ’n lekker televisiereeks te kyk en as sy iets meer produktief met haar vrye tyd wil doen, spandeer sy dit in die natuur. 
  • Opvoeding lê Zozibini baie na aan die hart. “Opvoeding het vir my baie geleenthede gegee soveel deure vir my oopgemaak dat ek glo elke Suid-Afrikaanse kind dieselfde toegang daartoe moet hê,” sê sy. 
  • Zozibini glo dis belangrik om jouself te wees, om jouself moed in te praat, om duidelikheid te kry en vrede binne jouself te vind. “Haal asem,” voeg sy by.