Die minderjarige ter sprake is Victoria Giuffre, toe bekend as Victoria Roberts. Sy was 17 jaar oud toe die eerste voorval plaasgevind het.

Maar die onderhoud het glad nie goed afgegaan met die publiek nie. In die onderhoud met die BBC het Andrew oopgemaak oor sy vriendskap met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein en ontken dat hy Victoria ooit ontmoet het.

Die onderhoud het so 'n storm ontketen dat die prins Woensdag aangekondig het hy gaan sy koninklike pligte laat vaar.

Charlie Proctor, redakteur van die webwerf Royal Central, het oor die onderhoud met BBC se Emily Maitlis getwiet:

Sy beskrywing is dalk nie so vergesog nie. Vanuit verskillende oorde word bande met die “partytjieprins” heroorweeg en in gevalle is dit reeds gesny.

1. Bande reeds gesny

Standard Chartered Bank, die Bank van China en die internasionale professionele rekenmeesterfirma KPMG het glo reeds voor die veelbesproke onderhoud bande met die prins se mentor-inisiatief Pitch@Palace verbreek.

In September het studente van die Universiteit van Huddersfield in Engeland die mosie gesteun dat prins Edward as kanselier van die universiteit moet bedank, 'n posisie wat hy sedert 2015 beklee.

Borge van sommige van die nagenoeg 200 liefdadigheidsorganisasies wat deur hom onderskryf word, het reeds die sinkende prins-skip verlaat.

Na sy onderhoud wat nou wêreldwyd opslae maak, het nie minder nie as vier Australiese universiteite ook intussen bekendgemaak dat hulle nie langer by Pitch@Palace betrokke gaan wees nie. Die prins het Pitch@Palace in 2014 gestig. Dis ’n platform wat entrepreneurs die geleentheid bied “om mense te ontmoet wat hul sakedrome in ’n werklikheid kan omskep".

2. Kry ’n nuwe beskermheer

Die Britse telekommunikasiemaatskappy BT het ook Woensdag aangekondig dat hulle hul bande met die prins se stigting iDEA (Inspiring Digital Enterprise Award) heroorweeg.

In ’n verklaring wat deur die maatskappy uitgereik is, word die hoop uitgespreek om dalk weer verder met iDEA saam te werk mits daar ’n verandering in die beskermheer kom.

3. Afgestelde besoek

’n Beplande besoek wat Dinsdag deur die prins aan die vloedgeteisterde gebiede van Yorkshire beplan is, is ook gekanselleer.

4. Die einde van die prins se openbare lewe?

Hy is die eerste koninklike, met die goedkeuring van sy ma, koningin Elizabeth II, wat sedert sy pa, prins Philip, van sy koninklike pligte vrygestel word.

Die 98-jarige prins Philip was die laaste wat dié stap op 2 Augustus 2017 gedoen het toe hy op 96-jarige ouderdom van koninklike pligte afgetree het.

Voor prins Philip was dit koning Edward VIII wat in 1936 van die troon afskeid geneem het om met die geskeide Amerikaner Wallis Simpson te trou.

5. Simpatie

Woensdag het prins Andrew ’n verklaring uitgereik waarin hy sê: “Die afgelope paar dae het dit vir my duidelik geword dat die omstandighede wat verband hou met my gewese verbintenis met Jeffrey Epstein, ’n groot ontwrigting vir my familie se werk geword het.”

Hy het toe aangekondig hy gaan sy koninklike pligte laat vaar.

In sy verklaring het hy ook vir die eerste keer in die openbaar simpatie met Epstein se slagoffers uitgespreek.

Jeffrey Epstein
  • Hy en prins Andrew het mekaar in die 1990’s deur Ghislaine Maxwell, ’n Britse sosiale vlinder en Epstein se destydse meisie, ontmoet.
  • “Andy” was meer as een keer ’n eregas by partytjies by Epstein se Manhattan-woning.
  • Dié vriendskap het in 2011 by Andrew kom spook toe Virginia Roberts (nou 35) beweer het Epstein het haar as 17-jarige gedwing om seksuele omgang met sommige gaste te hê.
  • As beleggingsbestuurder vir die superrykes kon hy koninklikes soos prins Andrew onder sy vriende tel en daarmee spog dat bekendes soos oudpres. Bill Clinton en die gevalle akteur Kevin Spacey al saam met hom op sy eie Boeing 727 gevlieg het.
  • Ná ’n omstrede pleitooreenkoms in 2008 – basies ’n raps op die vingers – moes hy as seksoortreder registreer. Maar die wiele van geregtigheid het begin draai en is hy eindelik van onder meer sekshandel en sameswering daartoe aangekla.
  • Op 10 Augustus 2019 het Epstein na bewering sy eie lewe in die tronk geneem.

Bronne: economia.icaew.com, bbc.com, washingtonpost.com, cnn.com, pitchatpalace.com, express.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.