Lea Vivier

Uniform #iowntoomuchblack #saidnooneever

A post shared by Lea Vivier (@vivier.lea) on

Van die kassie na die silwerdoek. Lea Vivier, wat nou as Lika Bosch in die kykNET-sepie Binnelanders te sien is, maak in April in Wonderlus haar debuut aan die rolprentfront.

Haar spel in dié fliek oor ’n Hoëveldse troue wat skeefloop, het haar reeds op verlede jaar se Silwerskermfees in Kaapstad die prys vir beste aktrise besorg.

“Ek vertolk die rol van ’n kelnerin wat onwillekeurig betrokke raak by ’n mengelmoes gebeure waarin ’n ander karakter hom bevind,” vertel sy.

Lea (25) het aan die Rhodes-universiteit in Graham­stad drama studeer en was voor haar rolprentdebuut hoof­saaklik in Engelse ­teaterstukke te sien.

“Wonderlus het vir my die idee verander van wat ek doen, waarheen ek op pad is en die mediums wat ek wil aandurf,” vertel sy.

Sedertdien kan sy skaars voorbly met rolle in die Afrikaanse vermaakwêreld. Sy werk nou aan ’n kykNET-sitkom waarin sy ’n hoofrol vertolk, maar mag ongelukkig nie nog daaroor verklap nie. In Maart keer sy terug na die stel van Binnelanders, waar sy dié keer ’n kontrak van ses maande losgeslaan het. 

Lea saam met Gerrit Schoonhoven, regisseur by Binnelanders. Foto: Instagram

In haar ouerhuis is gereeld konsert gehou en gedans. Haar suster Trix Vivier (29) is ook ’n aktrise en was tot onlangs in die kykNET-drama­reeks Waterfront te sien. 

Lea Vivier (links) is reeds verlede jaar op die Silwerskermfees in Kaapstad as beste aktrise bekroon vir haar rol in Wonderlus. Haar suster Trix Vivier is ook ’n aktrise. Foto: Instagram

Haar kleinsus, Meije (21), is ’n mediese student aan die Universiteit Stellenbosch. Hul ouboet, Herman Vivier (31), het sy eie toerismeonderneming. Ma Adri is deeltyds ’n Afrikaans- en dramaonderwyseres en hul pa, Pieter, ’n advokaat.

Lea se vol program vir 2018 maak haar opgewonde oor die jaar wat voorlê. Sy het reeds vir nege van die 12 maande werk as aktrise. “Ek is op my gelukkigste op die stel of verhoog,” sê sy.

Cintaine Schutte

Cintaine is al lank ’n bekende in teater­kringe en ryg nou ook die TV-­rolle in. Foto: Nardus Engelbrecht

Al het Cintaine Schutte (30) verlede jaar vir die eerste keer ’n hoofrol in ’n TV-reeks vertolk – as die filosofiedosent Jeanne le Roux in die kykNET-sitkom Phil 101 – is sy geen groentjie nie.

In teaterkringe is sy al agt jaar ’n bekende gesig.

En nou ryg sy die TV-rolle in. Van 10 Januarie verskyn sy in die kykNET-komedie Die Kasteel.

In Die Kasteel speel (agter van links) Anrich Herbst, Cintaine Schutte en Solomon Cupido. Voor van links is Pietie Beyers, Hannes Muller en Dorette Potgieter. Foto: Instagram

“Ek vertolk die rol van Michellay, ’n loskop en naïewe Millenniër,” vertel sy. Later in die jaar wag nog ’n kykNET-­televisiereeks.

Cintaine sal ook vorentoe, waarskynlik teen die einde van die jaar, op die silwerdoek ver­skyn as Masja in Die Seemeeu. Dit is ’n rol waarvoor sy in die gelyknamige verhoogstuk met ’n Kanna- en ’n Fleur du Cap-prys as beste vroulike byspeler bekroon is. 

“Elkeen het sy eie uitdagings en opwinding,” sê sy oor die verskillende mediums. 

Dis dié dat sy by die Woordfees op Stellenbosch en die KKNK op Oudtshoorn na die verhoog sal terugkeer met haar eerste een­vrouvertoning, Half-Leeg.

Cintaine en Carel Nel (33) is al ses jaar ’n paartjie.

“Hy is my beste vriend, my grootste ondersteuner en steunpilaar,” sê sy van die akteur, wat onlangs onder meer te sien was as die hartpionier Chris Barnard in die dokumentêre kykNET-drama Hartstog.

Elandré Schwartz

Elandré Schwartz se betowerende stem gaan vanjaar ál meer opklink – hy beoog om baie te toer en heelwat musiek te skryf. Foto: Jacques Stander

Eendag nie so lank gelede nie was Elandré Schwartz (22) nog ’n Kleindorp-dromer, soos hy homself in die titel van sy debuutalbum beskryf. Maar deesdae is hy een van die koelste nuwe sterre op die plaaslike musiektoneel.

“Die afgelope jaar was sekerlik die grootste een van my loopbaan,” vertel die sanger met die basbaritonstem.

“Ek wou nog altyd ’n album op die rakke hê, maar toe ek onlangs hoor my album het goue status bereik, het dit my regtig laat besef drome word waar.”

Voor sy deurbraak was Elandré ’n arm, jong musikant van Despatch in die Oos-Kaap. 

A post shared by ELANDRÉ (@elandre_official) on

Toe hy sy weergawe van Bruce Springsteen se Tougher Than the Rest op Facebook plaas, het hy byna oornag ’n internetsensasie geword. Die mense van Bok Radio het dit gehoor en hom genooi om in hul ateljee ’n paar liedjies te kom sing.

En net daar, tydens die uitsending in November 2016, het Ernst Kleinhans van Select Music en Sony Music ingebel en hom oor die lug ’n kontrak aangebied. 

“Ek wil my musiek na gehore oor die land heen neem en meer skryf en skep as ooit,” vertel hy van sy planne vir 2018.

Hy sien veral uit na vanjaar se Krone 5-konsert. 

Elani Dekker

Die toneelgogga het Elani Dekker al in haar skooldae gebyt. In haar gr. 10-jaar het sy ’n beurs gekry om vir ’n maand aan die New York-fliek­akademie drama te gaan studeer. 

Sy was nog op skool toe sy in 2015 haar eerste hoofrol in ’n fliek kry: as Yvette Verwey in Jou Romeo. Verlede jaar het sy as Pizzaface in die rolprent Vaselinetjie verskyn.

Haar grimering word reggekry vir haar rol as Pizzaface in die fliek Vaselinetjie. Foto: Instagram

Die 19-jarige aktrise is een van ’n tweeling. Haar broer, Jakob, is ’n student in meganiese ingenieurswese aan Tukkies.

Vanjaar boer Elani op die silwerdoek. In Liewe Lisa vertolk sy die vroulike hoofrol teenoor Hendrik Cronjé (Lukas van 7de Laan-faam). 

Sy beskryf die fliek, wat op Stellenbosch en aan die Weskus verfilm is, as “ ’n grootwordstorie”.

Sy het ook ’n rolletjie as Zettie in die rolprent Raaiselkind, wat aanstaande maand uitgereik word.

Elani Dekker (ook HEEL REGS) en Diaan Lawren­son in ’n toneel uit die fliek Raaiselkind. Foto: Instagram

Ná al die fliekrolle maak sy ook vanjaar haar TV-debuut in Binnelanders. “Ek is baie opgewonde, maar ook skrikkerig vir die uitdaging,” sê Elani.

Ludwig Binge

Ludwig Binge het in die toneel­wêreld grootgeword. Foto: Verskaf

Met ’n pa soos die regisseur en vervaardiger Herman Binge en ’n ma soos die aktrise Joanie Combrink het Ludwig Binge (28) in die toneel­wêreld grootgeword.

“Maar ek het nooit gedink ek sou ’n akteur word nie,” vertel hy. “Danksy my ouers het ek goed geweet hoe genadeloos die bedryf soms kan wees.”

In gr. 10 het Ludwig aan tienertoneel begin deelneem. “Ek was en is nogal skaam en die verhoog was nog altyd ’n uitlaatklep en ’n gebied waar ek uit my dop kan kruip.”

Tussen sy rolle deur in die kabaret Piekniek by Mpande, née Dingaan en die tweede seisoen van die kykNET-speurreeks Die Boland Moorde het hy ook verlede jaar in die fliek Johnny Is Nie Dood Nie as Hein uitgeblink.

Hy sal vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch op die verhoog te sien wees in Bloedmadrigaal en Die Koninkryk van die Diere. 

an links is Albert Maritz, Rolanda Marais, Ludwig Binge (ook NAASLINKS), Ilana Cilliers en Roelof Storm van Johnny Is Nie Dood Nie. Foto: Verskaf

By die Innibos-kunstefees op Nelspruit maak hy sy debuut as dramaturg met Kleedkamerblues, waarin hy self speel.

Ludwig vertolk ook die rol van Daan in die fliek Kanaries. Dit gaan oor die weermagkoor wat tydens die Grensoorlog vir soldate opgetree het.

“Ek skiet ook vroeg vanjaar aan ’n op­windende Afrikaanse TV-reeks,” vertel die bedrywige jong akteur.

Skryf jou storie in vir ons fliek
Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, het in 2016 sterre gemaak van Simoné Nortmann en Francois Jacobs toe hulle albei hul eerste hoofrol in ’n fliek vertolk. Maar wie gaan die sterre van ons volgende fliek wees? Huisgenoot beplan ’n tweede fliek wat ook deur die ware liefdesverhaal van ’n leser geïnspireer sal wees, en dit kan dalk joune wees.  Skryf sommer nou jou eie ware lief-­desverhaal vir ons kompetisie in. Vertel jou verhaal in hoogstens 3 000 woorde en stuur dit voor 15 Januarie 2018 na HGfliek@huisgenoot.com. ’n Paneel beoordelaars van Huisgenoot en kykNET sal die verhaal met die meeste potensiaal kies en die draaiboek sal daarop gegrond word.