Maar presies wat omtrent prins Edward se vrou maak haar so geliefd? 

1. Hardwerkend . . . en verwag nie lof daarvoor nie

prinses Sophie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Sophie, die vrou van koningin Elizabeth en prins Philip se jongste kind, prins Edward, het nog altyd haar koninklike pligte sonder ophef aangepak. Maar sedert prins Harry en Meghan vort is, neem die ma van twee die voortou met die koninklike familie se reaksie op die covid-19-krisis deur vir verskeie sake vrywilligerswerk te doen.

“Sy maak ’n verskil op ’n baie onderbeklemtoonde ‘Sophie’-manier,” sê Joe Little, die besturende redakteur van die tydskrif Majesty. Sy het onlangs aangesluit by vrywilligers wat help sorg dat noodsaaklike werkers gevoed word deur aan hospitale in die Londen-gebied kos te verskaf.

“Daar’s geen fanfare nie,” sê haar vriend Peregrine Armstrong-Jones, wat ’n spysenieringsonderneming besit. “Wanneer sy ons kombuise verlaat, gaan doen sy gewoonlik nog projekte in verskillende hospitale.”

Die koninklike kenner Ingrid Seward stem saam. “Sophie is presies wat die koninklike familie nodig het. Iemand wat net met dinge aangaan ongeag die aandag wat dit kry.” 

2. Plat op die aarde

prinses Sophie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Sophie is die dogter van ’n afgetrede verkoopsdirekteur en ’n liefdadigheidswerker en sekretaresse en nie een vir spesiale behandeling nie.

Toe sy onlangs by die Hope Hub op Camberley vrywilligerswerk verrig het, het sy nie net kospakkies voorberei nie; sy het dit ook afgelewer, sê die liefdadigheidsorganisasie se uitvoerende hoof, Mags Mercer. 

“Sy was baie dierbaar en nederig en het werklik baie belanggestel. Jy sou haar nie noodwendig herken het nie en nie verwag het dat iemand soos sy jou kospakkies aflewer nie. Dit was eintlik selfs beter dat dit nie gedoen is vir die erkenning nie, maar omdat sy werklik wou help.

“Toe ons agterna vir die kliënte vertel, was hulle stomgeslaan. Hulle het dinge gesê soos: ‘Ag nee, ek het daardie dag aaklig gelyk’ of ‘Sjoe, dis wonderlik. Hoe dierbaar.”

3. Goeie humorsin

prinses Sophie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die gravin lag maklik vir haarself en dit maak haar nog meer geliefd. Tydens ’n onlangse besoek aan ’n vrugteplaas het sy geskerts sy het “haar gewig in vrugte geëet” nadat sy haar eie bessies gepluk het.

Verlede jaar het sy oor haar “totaal ongepaste klere” gespot terwyl sy ’n boom geplant het.

“Maar een toegewing wat ek vandag gemaak het, is om uiters vervelige skoene te dra, want dit het werklik baie gereën en anders sou ek sink. Normaalweg sou ek sink terwyl ek in hoëhakskoene wankel met iets aan wat nie vir tuinmaak geskik is nie,” het sy gesê. 

4. Die koningin se gunsteling

prinses Sophie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar majesteit is “gaande” oor haar skoondogter, sê bronne, en Sophie word dikwels die koningin se gunsteling genoem, veral oor hulle ’n passie vir perde en militêre geskiedenis deel. 

“Hulle bring baie tyd saam deur wanneer hulle in Windsor is en die koningin ry graag perd saam met haar kleinkinders James en Louise,” sê die koninklike kenner Katie Nicholl.

Natuurlik help dit ook dat hulle so eenders is. Die koningin bewonder hoe Sophie haar werkpligte, wat dikwels nie “glansryk” is nie, so “sonder omhaal” aanpak – baie soos sy self. 

Die gevoel is wederkerig en Sophie het al haar skoonma geprys en haar ’n “goeie luisteraar” genoem. “Jy sien haar oorweeg wat mense sê en jy kan sien die inligting gaan in.

"Duidelik het sy ’n groot begeerte om heeltyd te leer,” het sy aan The Sunday Express gesê.

5. Sy is ’n stylikoon

prinses Sophie
Foto: Gallo Images/Getty Images

Sophie is die toonbeeld van onderbeklemtoonde elegansie en word dikwels geloof as ’n koninklike stylikoon wat net mooi weet wat om op elke geleentheid te dra. 

Op vanjaar se Statebondsdagdiens by die Westminster-abdy – ’n dag wat koninklike aanhangers as Harry en Meghan se laaste koninklike verpligting sal onthou – het sy asemrowend gelyk in ’n roomkleurige-en-vlootblou rok deur die Londense handelsnaam Suzannah met hoëhakskoene en ’n palmtas daarby. 

Baie mense het haar as die besgeklede koninklike van die dag uitgesonder – selfs beter as mense soos Meghan en prins William se vrou Kate, die hertogin van Cambridge.

Bronne: dailymail.co.uk, people.com, express.co.uk, hellomagazine.com