Dit blyk dalk op die oog af maklik om in ’n digitale era nuwe vriende te ontmoet, maar om diep vriendskappe met mense te smee kort werk. 

Vra maar vir boer Damian, een van die gunstelingdeelnemers van die 12de seisoen van die gewilde maatsoekprogram op kykNET, Boer soek ’n vrou.

“Een van die beste dinge wat uit hierdie challenge kon gebeur, is dat ek my eie lewe elke nou en dan in perspektief kan plaas,” vertel Damian (38) oor sy doelwit om 50 nuwe vriende te ontmoet. 

“Om ander se stories en lewens te hoor, en ’n bietjie van hul tyd te kry, leer my ook baie oor wie ek is,” voeg hy by.

Hoewel Damian, die eerste gay deelnemer aan dié program, nie ’n pasmaat gevind het nie, dien sy tyd op Boer soek ’n vrou dikwels as die beginpunt van die gesprek met sy nuwe vriende.

Boer soek ’n vrou het ’n ysbreker geraak om die gesprek aan die gang te kry, want baie mense vra hoe dit gegaan het en hoe my lewe uitgedraai het,” verduidelik Damian.

Hy het in Augustus verlede jaar met die uitdaging begin toe hy op Vrouedag sommer die eerste twee vriende op een kuier ontmoet het.

“Ek het laas jaar iemand ontmoet wat besig was om ’n duisend nuwe vriende te ontmoet,” begin Damian. “Hy travel reg oor die wêreld, so dit is vir om baie maklik om by sy doelwit uit te kom.”

Damian het al vir jare die Nuwejaarsvoorneme om meer mense op sy sosiale media in persoon te ontmoet en vriende te raak. ’n Duisend mense het beslis vir hom te veel gevoel, en hy het op 50 besluit en die hutsmerk #meet50newfriends gekies.

Een vereistes is dat hy en elke nuwe vriend ’n koppie boeretroos saam geniet en lekker kan gesels; nes vriende. 

“Daar was al ’n paar mense wat ek ontmoet het vir koffie, en dan het ons so lekker gekuier dat ons vergeet om aan die einde van die dag ’n foto te neem,” lag Damian.

Wanneer hy aan een van die snaaksste ontmoetings terugdink, is dit die Hotel-akteur Beer Adriaanse wie se naam eerste by hom opkom. 

’n Komiese video  waarin Beer ’n gay boer in die fiktiewe reeks, Boer soek ’n ou gespeel het, het in 2014 soos ’n veldbrand versprei. Hierin soek Beer se karakter, boer Giel van Kaalbaskloof, ná ’n “sagte hart en ’n harde baard.”

“Ek en ’n vriend het by ’n restaurant in Kaapstad drankies gedrink toe Beer verbyloop,” vertel Damian. Gelukkig het die vriend Beer geken en hom gebel.

“Beer het gesê hy kort net ’n paar minute, dan kom hy vir ons hallo sê. Toe ontmoet die twee, boer Giel en boer Damian. Die snaakse gay boer van die skets en die regte gay boer,” vertel hy.

Met sy getal nuwe vriende wat nou op 44 staan, vertel Damian dat hy moontlik nie by 50 sal stop nie. 

“Hierdie uitdaging leer my baie om eerder mense te verstaan as om hulle te oordeel vir die manier hoe hulle dinge sien of doen,” vertel Damian.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.