Vra jy ’n vrou haar ouderdom – veral as die jare al begin aanstap – trek sy dalk ’n jaar of vyf van die antwoord af. En met Mej. Suid-Afrika, of eerder dié kompetisie, is dit skynbaar dieselfde storie . . .

Vanjaar vier dié nasionale skoonheidskompetisie sy 60ste bestaansjaar. Sestig jaar oud – hoe dan nou? Die heel eerste Mej. Suid-Afrika is immers al in 1925 ­gekroon. ’n Volle 93 jaar gelede.

Maar toe was dit nog nie ’n amptelike titel nie, kom die verduideliking.

Die kompetisie het eers in 1956 – dis reg, 62 jaar gelede – amptelike status gekry. En tog is dit nou amptelik 60 jaar oud. Of so sê die organiseerders.

En net om jou kop nog verder deurmekaar te krap, hoor jy daar was in die 60 jaar van die kompetisie se amptelike bestaan meer as 60 wenners . . .

Hoe maak die elegante skoonheid dan haar somme?

Mej. Suid-Afrika is nie elke jaar op ’n glorieryke geleentheid voor ’n bewonderende skare gekroon nie, verduidelik ­Suzette van der Merwe, ’n voormalige Mej. Suid-Afrika en ’n woordvoerder van Cell C, die hoofborg van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie.

Van die wenners, soos Suid-Afrika se eerste Mej. Wêreld, Penny Coelen, is in 1958 in ’n koerantkompetisie gekies op grond van die foto’s wat die deelnemers ingestuur het.

En in 2013 is geen kompetisie gehou nie, want die kroning is van Desember na Maart 2014 verskuif.

Dit is dié dat die organiseerders uitwerk die kompetisie is nou eers 60 jaar jonk.

Suzette verklaar ook die raaisel van die ryke oes van meer as 60 skoonhede in ses dekades.

In die 1970’s is nie net ’n Mej. Suid-Afrika aangewys nie, maar ook ’n Mej. RSA toe Rapport en Sunday Times elk hul eie kompetisie aangebied het.

Vanjaar word die geskiedenis herhaal wanneer op die kroningsaand op 27 Mei in die Sun Arena in Pretoria weer twee wenners aangewys word.

Ja, die kompetisie spog met ’n nuwe formaat en ’n Mej. Heelal Suid-­Afrika én ’n Mej. Wêreld Suid-Afrika sal gekies word.

“Nadat die topvyf aangekondig is, word die toptwee aangekondig wat Suid-Afrika later op die wêreldverhoë gaan verteenwoordig,” verduidelik die organiseerders in ’n verklaring.

“Maar omdat daar net een heersende Mej. Suid-Afrika kan wees, word die twee wenners elkeen nog ’n vraag gevra en hul antwoord bepaal wie as Mej. Suid-­Afrika 2018 gekroon word.”

Daardie antwoord maak dan van die nuwe Mej. Suid-Afrika ’n kitsmiljoenêr.

Sy stap weg met die grootste pryspakket in die geskiedenis van die kompetisie: 

R1 miljoen kontant, ’n Nissan Qashqai ter waarde van R445 500 en onder meer juweliersware en ontwerpersklere. Die pryse is altesaam R3,2 miljoen werd.

Die naaswenner kry R250 000 kontant plus nog R350 000 se pryse. Dit is benewens die pryse van R180 000 wat elk van die 12 finaliste reeds voor die groot aand gekry het.

Op die gastelys vir die aand van groot pryse, slanke skoonhede en vreugdes­trane is al drie Suid-Afrika se voormalige Mejj. Wêreld, Penny Coelen, Anneline Kriel en Rolene Strauss, ons voormalige Mej. Heelal, Margaret Gardiner, en hui­dige Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters.

Ook voormalige Mejj. Suid-Afrika soos Suzette, Michelle Bruce, Wilma van der Bijl, Amy Kleinhans-Curd en Melinda Bam sal die kroningsaand bywoon.

Dis immers nie aldag dat ’n mens na die viering van ’n ikoon se 60ste verjaardag genooi word nie.

Om dié mylpaal te vier, kyk ons terug na die kompetisie se beginjare, interessantste feite en onvergeet­like oomblikke. 

Hoe dit alles begin het

Meer as drie dekades voor die Mej. Suid-­Afrika-kompetisie ’n amptelike, jaarlikse instelling geword het, het mense al gewonder: Wie is die mooiste in die land?

In 1925 is Mavis Alexander as die eerste Mej. Suid-Afrika gekroon, maar dit was toe ’n nieamptelike titel.

Dit het eers in 1956 ’n amptelike kompetisie geword toe Die Landstem, ’n nasionale ­koerant wat Woensdae verskyn het, die regte verkry om ’n verteenwoordiger na die Mej. Wê­reld-kompetisie in Londen te stuur.

Dié publikasie het toe saam met die Sondagkoerant Sunday Times die ­eerste amptelike Mej. Suid-Afrika-­kompetisie gereël en Norma Vorster is as die wenner gekroon.

Nadat Die Landstem en Sunday Times aanvanklik die Mej. Suid-Afrika-kompetisie saam aangebied het, het die Sondagkoerante Rapport en Sunday Times in die sewentigerjare elk hul eie kom­petisie gehou. 

Hulle het eers teen 1985 besluit om saam een wenner as Mej. Suid-Afrika te kroon.

Die Sun International-hotelgroep is ­sedert 2000 die lisensiehouer van die kompetisie en die selfoon­diensverskaffer Cell C is sedert 2014 die hoofborg.

Die kompetisie is jare lank by Sun City in Noordwes gehou, met die enkele uit­sondering toe dit in 2016 na Carnival City aan die Johannesburgse Oos-Rand ver­skuif is terwyl Sun City se Superbowl-­arena opgeknap is.

Vanjaar word dit in die splinternuwe Sun Arena in Pretoria gehou.

DIS IN DIE GENE

Jánine Botbyl en haar jonger suster, Diana Tilden-Davis, was albei Mej. Suid- Afrika – Jánine in 1988 en ­Diana (wat haar stiefpa se van aangeneem het) in 1991. Diana het in 2004 ’n noue ontkoming gehad toe sy in Botswana deur ’n seekoei gebyt is. 

Jánine Botbyl Foto: Sun International
Diana Tilden-Davis Foto: Sun International

Vanjaar se wenner stap weg met die grootste ­pryspakket in die geskiedenis van die kompetisie.


Spieëltjie, spieëltjie, wie was die eerste mooistes?

In 1952 is die heel eerste Mej. ­Heelal-kompetisie in Long Beach, Kalifornië, ­gehou en 30 deel­nemers het om die kroon meegeding.

Die Suid-Afrikaanse skoonheid ­Catherine Higgins het Suid-­Afrika op dié ge­leentheid verteenwoordig. ­Catherine was ’n ­tikster van ­Johannesburg wat in ’n plaaslike ­wedstryd as Mej. ­Hibiskus ­gekroon is.

Catherine Higgins Foto: Sun International

In 1956 was die eerste amptelike Mej. Suid-Afrika, Norma Vorster, ons eerste deelnemer aan die Mej. Wêreld-kompetisie in Londen. Norma het later na Engeland verhuis en haar van na Foster verander.

Norma Vorster. Foto: Sun International

In 1970 het Suid-Afrika twee skoon­hede vir die Mej. Wêreld-kompetisie ­ingeskryf – ’n wit Mej. Suid-Afrika, ­Jillian Jessup, en ’n swart Mej. Afrika-­Suid, Pearl Jansen.

­Jillian Jessup, Foto: Foto: Sun International

Amy Kleinhans is in 1992 as die eerste bruin Mej. Suid-­Afrika gekroon. ­

Tydens die Mej. Wêreld-kompetisie wat daardie jaar in Sun City gehou is, het sy met ’n wit vlag pleks van die landsvlag op die verhoog verskyn as ’n simbool van vrede.

Nelson Mandela, wat twee jaar later president geword het, het haar ná die kompetisie gebel en oor die dapper gebaar ­geprys. 

Amy Kleinhans Foto: Gallo Images/Sunday Times/David Sandison

In 1993 was Jacqui Mofokeng die eerste swart Mej. Suid-Afrika. Jacqui was ’n 21-jarige B.Com.-student aan die Universiteit van die Witwatersrand toe sy gekroon is. Sy woon deesdae in Amerika.

Jacqui Mofokeng

In 1997 was Kerishnie Naicker die eerste Indiër wat Mej. Suid-Afrika geword het. ­Kerishnie, wat ’n apteker van Durban was, het vierde gekom in die Mej. Wêreld-­kompetisie. Sy is deesdae ’n sakevrou.

Kerishnie Naicker Foto: Gallo Images/Drum/Costas Econimedes

Die grootste drama

Met die jare het opspraakwekkende oomblikke en drama ons mooistes al agter die skerms oorval.

  • Adele Kruger, wat in 1957 as Mej. Suid-­Afrika gekroon is, het ’n finalis geword nadat haar professor se dogter foto’s van haar ­geneem het vir ’n fotografiekompetisie.
    “ ’n Paar maande later het ’n joernalis van die Sunday Times my gebel en gesê ek is ’n fi­nalis vir Mej. Suid-Afrika. Ek kon dit nie glo nie,” het sy tydens ’n onderhoud vir ’n dokumentêr, A Salute to Beauty: 40 Years of Miss South Africa, gesê.
    “Hulle het nog foto’s van my kom neem en ’n paar maande later het ek ­gehoor ek het gewen.”
Michelle Bruce Foto: Sun international

  • Moya Meaker, Mej. Suid-Afrika van 1959, se pa was ’n vlieënier en hy het haar na die Mej. Wêreld-kompetisie in Londen gevlieg.
  • Denise Muir (1960) se familie was ontsteld omdat sy in swemdrag op die verhoog moes deelneem. “Haar familie het dit nie goedgekeur nie en het kontak met haar verbreek,” vertel Louis Fourie, onafhanklike ­argivaris van Pretoria. Sy is in 1992 oorlede.
  • In 1968 se Mej. Heelal-kompetisie moes die Suid-Afrikaanse deelnemer, Monica Fairall, haar laaggesnyde aandrok op die ­nippertjie vir iets anders verruil omdat die organiseerders gemeen het dit is te ­gewaagd.
  • Lynn Massyn, Mej. Suid-Afrika 1976, en Lydia Johnson, Mej. Afrika-Suid, het albei vir die eerste keer oorsee gegaan toe hulle aan Mej. Wêreld gaan deelneem het. Die feit dat daar twee deelnemers van Suid-Afrika was, het baie deelnemers ontstel en meer as ’n dosyn lande het hul deelnemers onttrek.
    “Ons kon nie onttrek nie, want ons moes by ons standpunt staan. Daar was doods-­ en bomdreigemente en ons het persoonlike lyfwagte gehad, so dit was baie opwindend aan die een kant om al die aandag te kry, maar dit was ook verwarrend,” het Lynn in ’n vorige onderhoud gesê. “Ons is nooit toegelaat om saam afgeneem te word nie. Daar moes altyd ’n ander meisie tussen ons staan.”
  • Weens sanksies in die apartheidsjare mag Suid-Afrika tussen 1978 en 1990 nie aan die Mej. Wêreld-kompetisie deelgeneem het nie. 
  • Mej. SA 1979, Karen Sickel, het ’n storm ontketen toe die nuus lek sy woon by haar kêrel. Tot vandag mag die wenners nie in ’n “openbare verhouding” wees nie. 
  • Michelle Bruce, Mej. Suid-Afrika van 1989, se verhouding met Tony Leon, die latere DA-leier, was groot nuus toe hulle in 1994 pres. Nelson Mandela se inhuldiging saam bywoon. Hy was toe nog leier van die Demokratiese Party. Michelle het ook opspraak gewek toe sy kondome bemark. 
  • In 2012 het ’n herrie losgebars toe Melinda Bam aankondig sy wil eerder aan die Mej. Heelal- as die Mej. Wêreld-kompetisie deelneem. Allerlei wilde gerugte het daarna die ronde gedoen, maar Melinda het verduidelik sy meen die Mej. Heelal-kompetisie bied vir haar beter geleenthede as sy die sakewêreld sou betree.
  • Drie semifinaliste is in 2015 gediskwalifiseer omdat hulle tatoeëermerke het. Op die inskryfvorm vir die Mej. SA-kompetisie staan deelnemers mag geen “sigbare ta­toeëermerke” hê nie. Die drie deelnemers se tatoeëermerke is opgemerk toe hulle ­tydens ’n uitdunronde in swemdrag ­verskyn.
  • Kort nadat Demi-Leigh Nel-Peters verlede jaar as Mej. Suid-Afrika gekroon is, het 10 van die deelnemers gekla die kompetisie is in haar guns “bekook”. Hulle het onder meer beweer die organiseerders het meer inskrywings oor Demi-Leigh in die sosiale media gemaak, haar liefdadigheidsprojekte het voorkeur geniet en sy het danksy haar ­afrigter, Werner Wessels, ’n onregverdige voorsprong geniet. Die Mej. SA-organiseerders het gesê die bewerings is “ongegrond”.

Die krone

Met die jare is ons skoonheids­koninginne met verskillende tiaras ­gekroon wat elk ’n spesiale betekenis en unieke voorkoms gehad het.

Een van die ikoniesste krone is die tansaniet­kroon wat van 2004 tot 2008 gebruik is. Sedert 2009 was daar verskeie krone, wat in grootte en swier ­gewissel het.

Een van die ikoniesste krone is die tansaniet­kroon wat van 2004 tot 2008 gebruik is. Foto: Gallo Images/Beeld/Dawid Roux

In 2014 is ’n splinternuwe kroon op ­Rolene Strauss se glansende lokke geplaas toe sy as Mej. Suid-Afrika aangewys is.

Die moderne platinumkroon wat deur inheemse blomme geïnspireer is, heet dan ook “Palesa”, wat blom in “Tswana” beteken. Dit is deur Jack Friedman-juweliers in samewerking met die modeontwerper Malcolm Klûk ontwerp.

Hierdie kroon met sy 230 ­diamante het ook in 2015 op Liesl Laurie se kop geskitter.

Hierdie kroon met sy 230 ­diamante het ook in 2015 op Liesl Laurie se kop geskitter. Foto: Facebook

In 2016 is die “Enhle”-kroon bekend­gestel waarop al die vorige wenners se name gegraveer is.

Dié silwerkroon, wat deur Howard Friedman ontwerp is, se drie grootste stene is van sugiliet, ’n skaars ­mineraal uit die Noord-Kaap, gemaak.

Kwartskristalle en ametisstene blink in die kroon wat sowat R200 000 werd is. Die kroon sal vanjaar weer gebruik word. 

In 2016 is die “Enhle”-kroon bekend­gestel. Die kroon sal vanjaar weer gebruik word. Foto: Gallo Images/Beeld/Denzil Maregele

WENNERS OP DIE WÊRELDVERHOOG

Suid-Afrika het al dikwels eerste en tweede prinsesse in die Mej. Wêreld- en Mej. Heelal-kompetisie opgelewer, maar dié gesogte titels het Suid-Afrikaanse skoonhede dikwels ontwyk.

Tog het ons al vyf wenners op die wêreldverhoog gehad:

Mej. Heelal: 2

1. In 1978 het Margaret Gardiner as Mej. RSA aan die Mej. Heelal-kompetisie deelgeneem en die titel gewen. Suid-Afrika is in dieselfde jaar weens sanksies in die apartheidsjare uit die Mej. Wêreld-kompetisie geskop en die heersende Mej. Suid-Afrika, Yolanda Kloppers, moes tuis bly. 

Margaret Gardiner

2. Eers 39 jaar later, in 2017, is ’n tweede Suid-Afrikaanse skoonheid, Demi-­Leigh Nel-Peters van Sedgefield in die Suid-Kaap, as Mej. Heelal gekroon. Sy bly vanjaar in New York, van waar sy haar pligte as Mej. Heelal uitvoer.

Demi-­Leigh Nel-Peters Foto: Gallo Images/Getty Images

Mej. Wêreld: 3

1. In 1958 het die 18-jarige ­Penny Coelen, ’n sekretaresse van Durban, die eerste Mej. Suid-­Afrika geword wat die Mej. Wêreld-kompetisie gewen het.

Penny Coelen Foto: Gallo Images/Avusa

2. Sestien jaar later, in 1974, het Anneline Kriel Mej. Wêreld ­geword nadat die wenner, Helen Morgan van Wallis, vier dae ná haar kroning bedank het toe dit aan die lig kom sy is die enkelma van ’n 18 maande oue seun.

Anneline Kriel Foto: Magazine Features

3. ’n Volle 40 jaar later is die ­donkerkop Rolene Strauss van Volksrust in Mpumalanga as ons derde Mej. Wêreld gekroon. 

Rolene Strauss Foto: Magazine Features

STEEDS IN DIE KOLLIG

Margaret Gardiner (1978) is ’n vermaakjoernalis in Los ­Angeles, waar sy saam met haar man, dr. André Nel, woon.

Margaret Gardiner Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy reis die wêreld vol om glansgeleenthede by te woon en onderhoude te voer. 

Suzette van der Merwe (1990) is die uitvoerende kommunikasiehoof van Cell C, Mej. SA se hoofborg, en is as ’n beoordelaar steeds by die skoonheidskompetisie betrokke.

Suzette van der Merwe Foto: Facebook

Basetsana Kumalo (1994) bestuur ’n TV-produksiemaatskappy en is ’n bekende sakevrou. Sy is ook die uitvoerende hoof van haar eie beleggingsmaatskappy. 

Basetsana Kumalo Foto: Rowyn Lombard

Jo-Ann Strauss (2000) is ’n Top Billing-aanbieder. Sy is in 2012 met die ortopediese chirurg dr. Michael Held getroud en verwag haar derde kind. Sy blog ook gereeld oor ma-wees.

Jo-Ann Strauss Foto: Instagram

Cindy Nell-Roberts (2002) bedryf ’n skoonheidsonderneming saam met haar man, Clive Roberts. Cindy is die ma van ’n seuntjie, Ethan (7), en ’n dogtertjie, Aenea (5).

Cindy Nell-Roberts Foto: BE Photography

Claudia Henkel (2004) is ’n publisiteitsbeampte vir Sun International. Sy is met Orin Roesstorff getroud en het onlangs die ma van ’n tweeling geword.

Claudia Henkel Foto: Instagram
 

Melinda Bam (2011) is die aanbieder van die ­VIA-werklikheidsreeks Wie’s Jou ­Poppie en is sedert 2014 getroud met ’n ­voormalige Mnr. Suid-­Afrika, Adriaan Bergh.

Melinda Bam Foto: Dino Codevilla

Rolene Strauss (2014) het haar mediese studie voltooi. Sy bestuur deesdae saam met haar skoon­suster, dr. Ledivia Strauss, ’n vrouegesondheidskliniek in die Paarl. 

Rolene Strauss Foto: Instagram

Liesl Laurie (2015) is ’n aanbieder van Jacaranda FM se ontbytprogram en sy en haar kêrel, die Idols-­aanbieder, ProVerb, is een van die land se voorste glanspaartjies.

Liesl Laurie Foto: Instagram

Ekstra bronne: News24, Netwerk24, Missuniverse.com, MissSA.co.za, Missosology.info, A Salute to Beauty: 40 Years of Miss South Africa, Louis Fourie