’n Kollega van Dirk het gister op die Instagram-profiel met die naam Brabant Anderson afgekom wat foto’s van onder meer Dirk saam met die voormalige 7de Laan-akteur Neil Sandilands bevat. 

Sowel as ’n selfie met die akteurs Ilne Nienaber, Cindy Swanepoel en Germandt Geldenhuys op die stel van die kykNET-sepie Binnelanders waarin hy die rol van die polisiekaptein Ferdie Liebenberg vertolk het. Hy het dadelik vir Dirk van die valse profiel in kennis gestel. 

View this post on Instagram

PLEASE REPORT THIS ??PERSON!!! #fakeprofile

A post shared by Dirk Stoltz (@dirkrogue1) on

“Ek kan kragwoorde gebruik, maar om dit sagkens te stel, ek was boos!” vertel die akteur aan Huisgenoot. 

Die feit dat foto’s van sy vrou, Marilize, en hul 10-jarige dogtertjie, Rogue, gebruik is, het hom veral ontstel. 

Volgens die akteur gebeur dit ál gereelder dat mense se sosialemediarekeninge of -foto’s deur iemand anders gebruik word. 

“Dit het al twee keer vantevore met my gebeur op Facebook, wat jou laat vra of ’n sosialemediaprofiel dit regtig werd is.” 

Dirk kon ongelukkig nie self die valse profiel aanmeld nie. “Miskien weet ek nie hoe nie. Danksy my vrou en vriende kon hulle dit rapporteer.”

Sy raad aan enigiemand wie se sosialemediarekeninge of -foto’s onlangs gesteel is, is om kalm te bly en iemand te raadpleeg wat weet hoe om dit reg te stel . “Of lag dit net af, wat ek nie kan doen nie,” sê hy.