As dit vir jou soos iets uit ’n sepie klink, is jy nie ver verkeerd nie. 

Die bruidegom is immers die akteur Dann-Jaques Mouton (33), wat Justin in 7de Laan speel. En soos in ’n kinkel in ’n dramatiese storielyn het hy en Tamsyn Bailey hul onlangse troue in die Kaap tjoepstil en uit die kollig gehou. 

Dit was eers nadat die sjampanjeproppe ophou klap het dat foto’s van die bruidspaar in die sosiale media verskyn het. 

DJ, soos sy vriende hom noem, en sy Kaapse nooi het vroeg in Mei stilletjies afgehaak. Selfs talle van hul vriende is onkant betrap deur die blitstroue. Maar verbaas? Nee wat, sê dié na aan hom. Hulle wis immers al ’n ruk lank van sy verhouding met Tamsyn.

En dit klink ook nie verniet soos ’n sepie-einde nie. Want DJ se vriende vertel die akteur het glo “ ’n nuwe blaadjie omgeslaan” en is “die gelukkigste en gesondste” wat hy nog was. Dis glo ’n nuwe begin nadat hy ’n donker hoofstuk in sy lewe afgesluit het, word aan Huisgenoot vertel.

’n Hoofstuk versuur deur sy self­erkende misbruik van drank en dwelms; van ’n stormagtige vroeëre verhouding en bewerings van fisieke aanranding.

In Februarie verlede jaar het ’n storm nog om sy kop gewoed toe sy eks­meisie Mercedes de Bruyn (55) aan Huisgenoot beweer het DJ het haar tydens hul verhouding van twee jaar aangerand. Sy het ­eindelik uit die verhouding gevlug. 

“This is the end of me. My career is verby. Ek haat die mens wat ek geword het,” was die gefolterde DJ se reaksie op die bewerings teenoor Huisgenoot. 

Maar hy het in 7de Laan aangebly en oënskynlik met sy lewe aangegaan.

7de laan,akteur
Sy is glo die rede dat hy deesdae weer op koers is. Foto: Facebook/ Tamsyn Mouton

En nou vertel vriende sy nuwe hoofstuk het alles te doen met sy en Tamsyn se baba wat dié winter verwag word. “Drugs en drank – daai goed is alles agter hom. Hy en Tamsyn is gelukkig saam.

Sy is goed vir hom; hy het iemand wat hom liefhet,” vertel een bron. ’n Tweede bron vertel DJ, ook bekend vir sy rol as AB Lonzi in die fliek Noem My Skollie, was verpletter deur die destyd­se skokbewerings. 

“Hy was gebroke; hy kon geen uitweg sien nie. Maar niemand is sonder foute nie. DJ weet hy het aangejaag.“Sy verlede is presies dít: die verlede.”

DJ was gebroke toe hy verlede jaar teenoor Huisgenoot erken: Ja, hy worstel reeds jare lank met drank en dwelms. Maar dit was die riller­bewerings van hoe Mercedes soms agter die veiligheidswagte by hul woonstelkompleks van hom moes gaan skuil wat hom laat besef het hy moet sy demone konfronteer, beweer ’n bron na aan hom. 

Maklik was dit nie. 

“Hy was meer as net stukkend. Dit het hom gedwing om vir homself in die spieël te kyk en sy lewe reg te ruk. Hy het geweet hy kon nie so aangaan nie,” sê die vriend.

Dit is Tamsyn wat die verskil gemaak het, vertel die vriend. “Sy het natuurlik van al die bewerings geweet, maar sy het besluit om haar eie kop te volg. Sy het geweet hy is nie sonder foute nie, maar sy het ook geweet elke storie het twee kante. Sy het liefde in hom gesien.”

In Februarie vanjaar, nog voor hul troue, het Dann-Jaques op Facebook ’n sonarfoto van sy en Tamsyn se ongebore baba gedeel. 

7de laan
Dann-Jaques vertolk die rol van Justin in die SABC2-sepie 7de Laan. By hom is Carina Nel, wat Alexa speel. Foto: Facebook/ 7de Laan Amptelik

DJ woon in Johannesburg, waar 7de Laan geskiet word, en Tamsyn in die Kaap. Sy het twee kinders van haar eie.

“Dit is soms moeilik vir ’n buitestander om kinders te aanvaar wat nie jou eie is nie, maar hy het Tamsyn se kinders onvoorwaardelik aanvaar,” vertel ons bron. “Dit het vir haar gewys watter soort man hy werklik is. “Van hul eerste dag saam praat hy net oor hoe lief hy haar kinders het.

En toe Tamsyn die swangerskapsnuus deel, was hy uit die veld geslaan. Hy weet hy kan nie meer net na homself kyk nie; dat hy nou ’n provider moet wees. Dit het hom ’n ander mens gemaak.”

Die tweede vriend beaam: “Ons het twee weke gelede gekuier. Ek het hom nog nie so happy gesien nie; hy is in ’n heel ander space as voorheen. Tamsyn het verby sy foute gekyk en glo in hom. Dis al wat hy nodig gehad het.”Die akteur se troue vroeg in Mei was nie net vir aanhangers nuus nie, sê die vriend.

“DJ is van nature ’n grap­maker. Toe hy my die eerste keer sê hy gaan trou, het ek gedink hy maak ’n grap. Eers toe ek die foto’s sien, het ek besef dis g’n grap nie. “Dit was ’n intieme geleentheid. Net liefde. Hy wou nie die shine vang nie.”

Nie een van die vriende kon bevestig of hy ’n rehabilitasieprogram bygewoon het nadat hy aan Huisgenoot erken het hy het dwelms en drank misbruik nie. Ook familielede wou geen kommentaar lewer nie.

Verlede jaar het hy teenoor Huisgenoot gesê hy kan nie so ’n program bekostig nie. “Ek probeer nou my lewe omdraai. Ek struggle. Ek probeer elke liewe dag. I’m being genuine en dan word ek ’n a**hole genoem.”

Sy vriend vertel: “Die lelike dinge wat gesê is, het hom geweldig gekwes. Niemand weet wat in hom en Mercedes se binnekamer gebeur het nie. Niemand weet wat werklik gesê is nie. Maar die nadraai daarvan was genoeg straf vir hom om sy lewe om te draai.”

Nadat Mercedes se bewerings in Februarie verlede jaar aan die lig gekom het, het Dann-Jaques beweer hy is dwelmvry en dat hy toe ’n “week gelede laas gedrink het”.

Sover hy weet, geld dit vandag nog, vertel sy vriend. “Hy was ’n stukkende man voor ’n kruispad. Hy het besef: Óf hy verloor alles en almal óf hy ruk homself reg en begin ’n nuwe lewe. Hy’t die lewe gekies; een wat hy voluit wil leef.”

“Ek probeer nou my lewe omdraai. Ek struggle. Ek probeer elke liewe dag. I’m being genuine en dan word ek ’n a**hole genoem”

Sy het nog geen verskoning van DJ ontvang sedert sy oor hul stormagtige verhouding en sy fisieke mishandeling van haar gepraat het nie, sê Mercedes aan Huisgenoot. “Ek moes my lewe in tasse pak en vlug en in die proses my hele familie agterlaat. Ek wou nie meer in Gauteng wees waar ek elke dag met demone van die verlede moes wroeg nie,” sê sy.

Tog worstel sy nog daagliks om die verlede te vergeet, sê sy. “Ek is nog kwaad. Ek wil weet hoekom hy nie geboet het nie; hoekom hy net kon wegkom met die dinge wat hy aan my gedoen het.”

Mercedes sê sy het sedert Februarie verlede jaar doelbewus geen kontak met Dann-Jaques nie. 

Sy het eers by Huisgenoot van sy huwelik en Tamsyn se swangerskap verneem.

“Hy wou nog altyd ’n kind hê. Dit was seker een van sy grootste begeertes. In ’n stadium wou hy selfs hê ons moes ’n kind aanneem. Ek wou nie.”

Sy sê hy het in die verlede telkemale onderneem om sy lewe te verander en hom te rehabiliteer. “Ek het in sy oë gekyk en ’n deel van hom gesien wat my doodbang gemaak het. Ek klink dalk bitter, maar ek weet nie of hy ooit kan verander sonder intense rehabilitasie nie.

“Maar ek wil nie wrokke koester nie. Al wat ek hoop, is dat hy regtig verander het. Hy kon dit nie vir my doen nie, maar dalk is dit moontlik vir Tamsyn en die baba.” 

  • Dann-Jaques het by monde van 7de Laan se woordvoerder, Kayleen Bessit, laat weet hy wil nie kommentaar lewer nie. Tamsyn het ook nie op Huisgenoot se versoeke om kommentaar gereageer nie. 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.