Die aktrise Mila Guy se droom om vir 'n fliek in d
Die aktrise Mila Guy se droom om in die regisseurstoel van 'n fliek te sit het onlangs waar geword. Foto: Verskaf.

Die aktrise, wat deesdae heeltyds as die karakter Lana op die SABC2-sepie 7de Laan te sien is, het in Desember verlede jaar die geleentheid gekry om eindelik vir ’n fliek in die regisseurstoel te sit.

Die sowat uur lange fliek heet Die Begin, en is deel van kykNET se opwindende nuwe Storiefilms-projek, waar sowat vyftig TV-flieks plaaslik vervaardig word.

“Dit was baie vreesaanjaend om die regie van hierdie fliek te doen, omdat dit iets is wat ek nog nooit gedoen het nie,” vertel Mila (28) aan Huisgenoot.

Tog was dit vir haar elke dag opwindend om te sien hoe een van haar drome waar word. “Dit was ’n lekker einde aan 2020,” sê sy.

Mila teen 'n kiekie saam met haar vriendin, die ak
Mila en haar vriendin Ansu Visser, wat een van die hoofrolle in die fliek vertolk. Foto: Verskaf.

Die fliek is geskryf deur Mila se vriendin en mede-aktrise, Ansu Visser. Ansu en die Ekstra Medium-akteur Wilhelm van der Walt is in die hoofrolle te sien en die storielyn volg die intriges van hul verhouding. “Daar is ’n hele paar cameos en ek het ook ’n baie klein rol in die fliek. Dit is nogal interessant om in jou eie fliek te speel,” lag Mila.

Meer oor die fliek, wat later vanjaar op die kassie te sien sal wees, wil Mila nie nou al verklap nie.

In 2019 het Mila en ’n paar van haar vriende in die vermaakbedryf sommer in haar kombuis in Linden ’n aanvanklike kortfilm van agt minute lank verfilm. Dit is dié einste kortfilm en ’n voorlegging oor hoe hulle dit in ’n uur lange fliek sal omskep, wat hulle toe aan die produksiemaatskappy Red Pepper Studios voorgelê het.

“Ek het gehoor kykNET maak baie flieks vir ’n nuwe projek en dat Red Pepper Studios een van die produksiehuise is wat van die flieks vervaardig,” vertel Mila.

“Hulle stem toe in en ewe skielik kry ek hierdie massiewe geleentheid waarvoor ek so dankbaar is,” voeg sy by.

Die logistiek vir die fliek het ook perfek uitgewerk, vertel Mila. “Ons het op 11 Desember by 7de Laan klaar verfilm vir die jaar, en op 14 Desember het ons vir ’n week lank aan Die Begin verfilm.”

Boonop het hulle hoofsaaklik by ’n huis in Linden verfilm, dieselfde woonbuurt in Johannesburg waar Mila woon.

“Alles was baie naby aan mekaar. Ek kon van my woonstel af werk toe stap, wat verskriklik lekker was,” vertel Mila. 

Mila en haar nuwe hondjie, Moshe.
Mila en haar nuwe hondjie, Moshe. Foto: Verskaf.

Die opwinding van daardie week het egter nie net daar gestop nie, aangesien Mila ook tydens die verfilming haar eerste hondjie as verjaarsdaggeskenk gekry het. Haar verjaardag was presies ’n maand voor verfilming begin het. 

“Sy naam is Moshe en hy is ’n Biro Yorkie,” vertel Mila opgewonde. “Ek is so lief vir hom. Dit is insane.”

Moshe.
Foto: Verskaf.
Moshe.
Foto: Verskaf.

Die tweetjies is reeds onafskeidbaar en sy koer gereeld oor hoe slim en oulik hy is.

“Ek sien uit na my en Moshe se avonture saam. Ek is so dankbaar vir hierdie hondjie. Hy bring soveel geluk in my lewe,” lag sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe