Die aktrise, wat dr. Alexa Welman in die sepie 7de Laan vertolk, het ’n video op Instagram gedeel om die nuus aan te kondig. "Dis ’n dogtertjie! Sy is meer kosbaar as juwele. Spreuke 31:10.”

Die nuus volg kort nadat Carina haar 21 300 Instagram-volgelinge gevra het om te raai wat die geslag van hul eersteling is, wat na verwagting in Junie gebore word. 

Carina het onlangs aan Huisgenoot verklap dat sy alreeds in Oktober uitgevind sy is swanger. 

Die aktrise het toe vertel dat hulle vandeesweek sou uitvind wat die geslag van hul eersteling is en dit later sal bekendmaak. “Ons is happy met enige geslag,” het sy toe laat hoor. 

Carina het voorheen aan Huisgenoot vertel sy het op ’n spesiale manier die nuus aan haar man, Deon, verklap dat sy swanger is en dat hulle vir die eerste keer ouers word. 

Sy het een van haar man se laaie met klere leeggemaak en die toets met ’n paar babasokkies en babygrow daarin gesit met die boodskap: “Pappa moet plek maak vir my, ek kom Junie 2020.”

“Toe hy van sy klere wou wegpak het hy die laai oopgemaak en gesien. Hy was eers vir ’n minuut of twee heelteemal geskok en toe hy eers besef wat aangaan was hy vreeslik bly en oorweldig deur emosie,” het Carina opgewonde vertel.


“Ek is vreeslik opgewonde vir hierdie nuwe hoofstuk in my lewe,” het Carina toe vertel. 

“Ons is ook vreeslik dankbaar en besef elke dag dat dit ’n wonderwerk en groot geskenk van Bo is! Maar terselfdertyd kan mens nie help om so 'n bietjie bang te wees nie! Ek dink 'n mens se hele lewe verander, maar dis ’n verandering waarna ons baie uitsien en gaan geniet met sy uitdagings en al,” borrel die 7de Laan-aktrise.