Carina en haar man, Deon Nagel, toer die wêreld vol. “Al die lande wat ons al besoek het is so besonders en uniek,” sê die aktrise, wat tans swanger is met hul eersteling.

Die egpaar het al onder meer op die eilandparadys Mauritius, in die Groot Appel, New York, in Amerika en in Nederland uitgespan en het die afgelope Desember-vakansie Rovaniemi in die noorde van Finland besoek. Sy het ook vroeër vandeesmaand haar 32ste verjaardag in Italië gevier. 

“Rovaniemi staan bekend as Kersvader se tuisdorp. Dit was natuurlik soos ’n sprokie. Ons het selfs vir Kersvader in sy kantoor ontmoet waar hy en sy elfies werk. Dit bring regtig die kind in jou uit,” borrel die aktrise, wat op Instagram onthul het haar eersteling maak in Junie haar opwagting. 

“Ek dink om ’n kind soontoe te neem sal ’n belewenis wees, al is dit ongelooflik koud. Ons sal wel so ’n reis saam met ’n kind wil doen as hulle ouer is en kan verstaan waar hulle is en wat hulle beleef.”

Carina, wat veral bekend is vir haar rol as dr. Alexa Welman in die gewilde SABC 2-sepie 7de Laan, het onlangs in die sosiale media die geslag van haar en Deon se eersteling bekendgemaak. Dis nou amptelik: Hulle verwag 'n dogtertjie. 

“Deon was uit sy nate! Ons het op 12 weke uitgevind, maar wou eers op 18 weke weer doodseker maak voor ons die nuus deel,” vertel Carina opgewonde.

Die paar het egter nog nie op ’n naam besluit vir hul dogtertjie nie.

“Ons dink nog daaraan. Ons het verskeie opsies, maar moet nog op een besluit. Dis nogal ’n groot besluit,” meen Carina.

Die aktrise het voorheen aan Huisgenoot vertel sy is vreeslik opgewonde vir hierdie nuwe hoofstuk in haar lewe.


“Ons is ook vreeslik dankbaar en besef elke dag dat dit ’n wonderwerk en groot geskenk van Bo is! Maar terselfdertyd kan 'n mens nie help om so 'n bietjie bang te wees nie! Ek dink 'n mens se hele lewe verander, maar dis ’n verandering waarna ons baie uitsien en gaan geniet met sy uitdagings en al.”