Om ’n ma en ’n sepiester te wees het sy uitdaging
Om ’n ma en ’n sepiester te wees het sy uitdagings, maar moederskap is vir Hildegardt Whites ’n vreugde. Hier is sy saam met haar man, Kuba Silkiewicz, en hul seuntjie, Miles. Foto: Sharon Seretlo

Niemand het aanvanklik gedink Bonita Meintjies se lief en leed sal met die mense van 7de Laan s’n verweef raak nie – nie eens Hildegardt Whites nie.

“My aanvanklike kontrak was net vir vier weke. En kyk nou. Hier sit ek al 10 jaar by 7de Laan en ek is steeds mal daaroor,” sê die 34-jarige aktrise wat deur die jare saam met haar karakter ouer en wyser geword het. “Bonita het as ’n karakter gegroei, en ek het by haar geleer. Sy is uitputtend, maar ek geniet haar.”

Nes Bonita het Hildegardt in die afgelope dekade getrou en ’n ma geword. Maar terwyl haar karakter se huwelikslewe in sepietradisie die ene storms is en moederskap vir haar trane gebring het, is Hildegardt al agt haar gelukkig getroud met haar Poolse musikant-man, Kuba Silkiewicz (35). Hul seuntjie, Miles, is ’n bondeltjie blydskap vir sy ouers.

Op net drie jaar oud het hy onlangs sy TV-debuut gemaak toe hy nes sy ma in 7de Laan verskyn het as Willem Spies (Markus Haywood) en Felicity Daniels (Melanie du Bois) se seuntjie, Ethan. En toe is hy sowaar ook ’n gebore akteur.

“Ek was regtig verbaas oor hoe gemaklik hy voor die kamera was,” sê die trotse ma by Sasani Studios in Johannesburg, waar 7de Laan geskiet word.

Die kleinman en sy pa is vandag hier om saam te gesels. Miles loer met nuuskierige ogies bo-oor sy masker, tot pa Kuba vir hom met ’n kopknik beduie dit is nou veilig om die masker af te haal. Dan sien jy die krulkoppie se glimlag – ’n glimlaggie wat hy duidelik by sy aktrise-ma geërf het.

“Ons sal maar moet sien of hy eendag in my voetspore gaan volg. Hy is nog bitter jonk,” sê Hildegardt.

Kuba voeg by: “Natuurlik sal sy pa wil hê hy moet ’n breinchirurg word!”

Buite die ateljee kom grys donderwolke aangerol. Die eerste reën is hier.

Ná sewe weke aan die begin van die inperking toe die produksie van 7de Laan tot stilstand geruk is, word daar nou weer druk aan die sepie geskiet. Streng veiligheidsmaatreëls geld steeds. Net wanneer die kameras begin rol, mag die akteurs hul maskers afhaal. Selfs dan bly enige fisieke aanraking taboe.

Op ’n dag soos vandag het Hildegardt agt tonele gehad om te skiet. En al het sy ’n lang dag agter die rug, straal sy. Terwyl sy ma haar vir die fotosessie gereed maak, kyk haar seun geboei na die kamera. Hy poseer vir die fotograaf en lag uitbundig.

Dis juis omdat sy self ’n ma is dat sy verstaan wat Bonita, ’n ingewikkelde karakter wat al selfs in die tronk was, voortdryf, vertel Hildegardt.

“Albei van ons het sterk persoonlikhede en ons is lief vir ons gesin. Sy sal alles vir haar gesin doen, maar het baie hartseer wat sy moes verwerk.”

In die sepie het Bonita en Xander (Theodore Jantjies) se seuntjie, Daniel, ’n seldsame siekte gehad en net ’n beenmurgoorplanting kon hom red. Nadat sy alles in die stryd gewerp het om ’n geskikte skenker te kry, het Daniel gesterf. En weens ’n ontvoering het Bonita in die tronk beland.

Vir haar is dit ’n groot plesier om die rol van Bo
Vir haar is dit ’n groot plesier om die rol van Bonita in 7de Laan te vertolk, al moes die karakter deur groot hartseer gaan. Foto: Facebook (7de Laan)

Hoe hanteer Hildegardt haar karakter se smart en intriges in haar lewe? “Sjoe, kyk, Bonita is challenging – van ’n skaam meisie wat ’n veer gevoel het tot ’n sterk vrou met ’n sterk persoonlikheid. Ek het deur die jare saam met haar gegroei.”

Dan erken sy: “Dit is uitputtend om haar te speel. Ek is self ’n ma en kan myself nie indink hoe dit moet wees om ’n kind te verloor nie. Ons is albei gedrewe en werk hard vir wat ons in die lewe wil hê. Sy het my geleer daar is altyd ’n tweede kans in die lewe.”

Ma-wees is vir Hildegardt een van die grootste vreugdes in die lewe. “Dit is ’n fees om Miles se ma te wees. Hy is ’n aangename, intelligente seuntjie.”

Vandag is hy ’n blakend gesonde woelwater, maar met sy geboorte op 25 April 2017 het hy ’n lekkende hartklep gehad. Miles moes twee weke in die hoësorgeenheid deurbring voor hy saam met sy ouers kon huis toe gaan. Toe was Hildegardt net so gekwel oor haar baba soos wat Bonita later oor haar seuntjie was.

Om ’n ma én ’n sepiester te wees het ook sy uitdagings, erken Hildegardt. “Ek is al om sesuur soggens uit die vere en maak dan reg om ateljee toe te kom. Ná al my tonele is dit terug huis toe, die mannetjie kosgee, bad en in die bed sit voor ek my tekste vir die volgende dag begin leer. Ek klim baiekeer eers ná een in die oggend in die bed.”

 Die gesin geniet dit om tyd saam deur te bring. H
Die gesin geniet dit om tyd saam deur te bring. Hulle is mal daaroor om park toe te gaan en in die natuur te wees. Foto: Sharon Seretlo

Kuba sit hand by. Miles het sy liefde vir musiek by sy pa geërf.

“Hy is mal oor musiek en sal dikwels saam met my live shows op televisie kyk,” vertel Kuba, ’n voltydse musikant wat al in musiekspele soos Jersey Boys, Mamma Mia! en Chicago opgetree het. Hy was ook al klawerbord- en kitaarspeler vir die sangeres Karlien van Jaarsveld.

Hy het as kind in 1993 saam met sy ouers uit Pole na Suid-Afrika geïmmigreer omdat daar vir sy pa, ’n dokter, beter werkvooruitsigte hier was.

Kuba en Hildegardt het mekaar in hul studentedae aan die Tshwane-universiteit van Tegnologie in Pretoria ontmoet, waar sy drama en hy musiek studeer het. Hulle deel ’n liefde vir musiek. In 2016 het Kuba haar droom om ’n album op te neem help bewaarheid. Hy was die musiekregisseur van die VIA-werklikheidsreeks Hilde se hartsklanke, waarvoor sy 13 dorpe aan die Kaapse Weskus en in die Noord-Kaap besoek het. Daar het sy met die hulp van plaaslike musikante snitte vir die gelyknamige album opgeneem.

Hildegardt en Kuba geniet dit om saam musiek te maak – al is dit by die huis met Miles as die enigste lid van die gehoor. “Hy sal die kitaar optel, en dan sal ek begin saamsing,” vertel sy.

Die covid-19-pandemie hou Kuba se loopbaan tydelike agterweë. “Ja, dit is frustrerend om nie met jou werk te kan aangaan nie,” erken hy. “Ek sou nou in Korea gewees het vir ’n musiekspel. Maar ons weet nie wanneer ons weer sal kan optree nie.”

Kuba se werk neem hom partykeer tot drie maande op ’n slag van die huis af weg. Op sulke tye neem Hildegardt hul seuntjie saam ateljee toe, waar daar altyd iemand is om ’n oog oor hom te hou.

Tydens die inperking het die hegte gesin hul samesyn gekoester.

“Dis heerlik om hom vir myself te hê,” sê Hildegardt en kyk met blink oë na Kuba, “en ons kry baie gesinstyd saam.”

Tog erken sy vlak 5 met sy streng regulasies was vir haar moeilik. “Dit was erg om ingeperk te wees en nie te kon werk toe gaan nie. Die onsekerheid van wanneer ons kon terugkeer, was ook nie lekker nie. Maar ons het rustyd gekry.”

Die gesin geniet dit om tyd saam deur te bring. Fo
Die gesin geniet dit om tyd saam deur te bring. Foto: Verskaf

Hulle het al drie hul verjaardae tydens die inperking gevier.

“Ons het baie koek gebak en kos gekook by die huis. Dit was eintlik lekker om te kon afskakel. Miles is veral mal daaroor om pannekoek te bak en sal sommer op een slag ses pannekoeke verorber,” sê sy.

‘Hy sal die kitaar optel en ek sal begin saamsing’

Hildegardt en Miles het al dikwels saamgegaan wanneer Kuba in die buiteland optree. Hulle was al saam met hom na Griekeland, Pole en China.

“Ons is bevoorreg om so baie te kan reis. Ons is nie daaraan gewoond om so lank op een plek stil te sit nie,” sê sy. Maar noudat sy weer kan toneelspeel en terug is op die 7de Laan-stel, sê Hildegardt sy wil nêrens anders wees nie.

“Ek is baie lief vir wat ek doen. Dit is vir my wonderlik om elke dag by die werk aan te kom en te geniet wat ek doen.”

En duidelik deel klein Miles daardie gemak voor die kamera.