Sy het met ’n rooibruin haredos as die geliefde 7de Laan-karakter Emma bekend geword, maar die pienk strepe waarmee sy vandag spog, is eintlik pure Bertha le Roux-Wahl: vars, vrolik en fun.

“Ek is lief vir die lente en wou sommer dié seisoen ’n bietjie nader roep,” vertel Bertha oor dié gewaagde verandering. 

Voor haar rol in die Laan was Bertha se natuurlike haarkleur rooiblond. 

Sy het haar hare weer vir ’n ruk dié kleur gemaak nadat sy die sepie in 2014, ná 12 jaar, vaarwel toegeroep het. 

Haar dogters, Kiana (12) en Brioné (9), was mal daaroor dat hul ma se haarkleur meer soos hul eie donkerblonde hare gelyk het. 

Sy het met ’n rooibruin haredos as die geliefde 7de Laan-karakter Emma bekend geword, maar die pienk strepe waarmee sy vandag spog, is eintlik pure Bertha le Roux-Wahl: vars, vrolik en fun.

Maar sy het sedertdien haar hare weer stelselmatig rooi begin kleur, en toe sy onlangs salon toe gaan, het Brioné laat hoor: “Gaan mamma nou weer jou hare rooi maak?”

“Toe dink ek: Hoekom doen ek nie iets fun nie en sit die pienk strepe in,” vertel Bertha tydens haar fotosessie met Huisgenoot in Johannesburg.

Hoewel Brioné dalk gedink het haar ma gaan met ’n volledige pienk kapsel by die huis opdaag, het Bertha nie kans gesien vir iets so drasties nie. 

“Ek dink dit kan pret wees om heeltemal pienk te gaan, of blou of so iets. Maar een kleur op ’n slag, net ’n stukkie. Lekker.”

Sy voel duidelik net so goed soos sy lyk: Haar blou oë sprankel en lag saam. 

bertha le roux-wahl,aktrise,gesin
Bertha en haar man, Karel, saam met hul dogters, Brioné (links) en ousus ­Kiana. Foto: Facebook/@bertha.leroux

Bertha neem tans saam met haar man, Karel Wahl (43), en hul twee dogters deel aan die kykNET-reeks Slank. 

In dié reeks, waarvan Leandie du Randt die aanbieder is, help verskeie kenners die gesin en ander deelnemers om ’n gesonder leefstyl te onderneem.

“Dis nie net ’n dieet nie; dis ’n leefstylverandering,” sê sy. 

“Dis vir my belangrik, want ek wil nog ’n lang ruk lewe; dus wil ek let op dit wat ons eet.”

Sy geniet dit om nie, soos voorheen wanneer sy ’n dieet aangepak het, alleen op die reis te wees nie. 

“Toe was dit: ‘Mamma maak nou haar kossies hierso en julle eet lekker brood,” sug sy. 

Sy voel duidelik net so goed soos sy lyk: Haar blou oë sprankel en lag saam.

Nou kan sy en Karel, “wat eintlik die sjef in die huis is”, heerlik saam vir die gesin kos maak volgens ’n dieet met min koolhidrate en propvol gesonde vette. 

Die Slank-opnames maak vandees­maand ná drie maande klaar, maar sy en Karel is vasbeslote om die nuwe leefstyl vol te hou. 

Sy wil nie te veel op resultate fokus nie omdat dit daaroor gaan om gesonder te leef. 

Maar sy glimlag tog breed en erken: “My klere raak losser en mense sê al vir my hulle sien ’n verskil.

“Natuurlik is dit lekker; watter vrou hou nie daarvan as iemand vir haar sê sy lyk goed nie?”

bertha le roux-wahl,aktrise,gesin
Bertha geniet die vrye tyd saam met haar twee dogters. Foto: Facebook/@bertha.leroux

Sedert sy haar vaste sepierol laat vaar het, het sy ’n rustiger lewensfase betree – een waarin sy meer tyd saam met haar gesin kan deurbring. 

“Daar is meer oomblikke wat ek kan koester noudat ek nie meer voltyds werk nie. Ek het nou meer tyd om saam met Kiana en Brioné koffie te gaan drink of iets saam te bak.” 

Nie dat dit altyd maanskyn en rose is met twee dogters wat albei amper tieners is nie, erken Bertha met ’n laggie. 

“ ’n Mens probeer die perfekte ma wees, maar dis nie altyd moontlik nie. Dan sê ek vir hulle: ‘Sien, soos ek nou reageer het, dít moet julle nie doen nie,” spot sy.

Haar dogters is uiteenlopend: Brioné toets die grense, terwyl ousus Kiana meer geneig is om na die reëls te luister. 

“ ’n Mens probeer die perfekte ma wees, maar dis nie altyd moontlik nie. Dan sê ek vir hulle: ‘Sien, soos ek nou reageer het, dít moet julle nie doen nie,” spot sy.

“Brioné is uitbundig en vrolik en aard meer na my, en Kiana het ’n rustige gemoed en ’n sterk droë sin vir humor soos Karel.”

Gaan die twee meisies in hul ma se aktrise-voetspore volg?

“Hulle het nie regtig ’n belangstelling in drama nie, al kan hulle dit goed doen. Ek wil hulle nie in iets druk wat hulle nie wil doen nie,” sê sy.

’n Vriendin se raad bly haar veral by: “Koester elke oomblik saam met jou kinders. Jy moet selfs die dinge waardeer wat jou partykeer irriteer, want jy sal dit mis wanneer dit weg is...”

Sy gebruik die voorbeeld van wanneer kinders wil hê ’n ouer moet by hulle aan die slaap raak: “Jy weet nooit wanneer dit die laaste keer is nie. Môreaand vra hulle net nie meer nie, en dan het jy nooit van daardie oomblik afskeid geneem nie.”

bertha le roux-wahl,aktrise,7de laan
Bertha as die sagmoedige en geliefde Emma in 7de Laan. Foto: facebook/@7delaanamptelik

Die aktrise geniet dit ook om meer tyd saam met Karel, ’n kunsportefeulje­konsultant by ’n galery in Ruimsig, te kan deurbring. 

Hy is ’n regte raakvatterpa, veral wanneer sy weg van die huis af moet werk, en die egpaar ondersteun mekaar in hul loopbane. 

“Eendag wanneer ons oud is en ons sit op die stoep, sal ons weet ons het in mekaar se ervarings gedeel. Hy gun my dit om te groei, en ek gun hom dit.” 

Ná 17 jaar se getroude lewe hou hulle steeds by die “tweeweekreël”, wat Karel met hul troue voorgestel het: Jy mag nie oor iets kla as dit ouer as twee weke is nie, vertel sy oor die sleutel tot die sukses van hul huwelik. 

“Ek dink dit het gekom van die feit dat hy nie baie goed kan onthou nie en ek weer kristalhelder kan onthou!” spot sy. 

“Die idee is maar om nie op te krop en dinge dan later as ammunisie in ’n bakleiery te gebruik nie. Deesdae is dit eintlik ’n dag-reël: Wanneer iets my pla, praat ons daaroor pleks van dat dit ophoop en daar dan ’n ontploffing is.” 

bertha le roux-wahl,aktrise,7de laan
Kykers was geskok toe sy verlede jaar as die tronkleier Miems in 7de Laan terugkeer. Foto: Facebook/@7delaanamptelik

Hoewel sy deesdae minder op die kassie te sien is, bly Bertha bedrywig. 

Sy het 7de Laan-kykers verlede jaar geskok toe die sagmoedige Emma 12 episodes lank as die tronkleier Miems te sien was en het toe die vonke in Binnelanders laat spat as die wraaksugtige Gaynor. 

Tussendeur doen sy teater- en radiowerk en beoordeel sy tienertoneel­kompetisies en kunswedstryde. 

Boonop bied sy al vier jaar lank elke Donderdagoggend die program VreugdeJoy op die Christelike radiostasies Radiokansel en Kaapse Kansel aan. 

Aan die einde van Augustus stuur sy en die jong akteur Christopher van der Westhuizen (20) ’n nuwe projek van stapel: Barefoot Acting, ’n werksessie vir gr. 4-7-leerders waar hulle kinders die basiese beginsels van toneelspeel gaan leer: onder meer asemhaling, opwarmings­tegnieke en hoe om ’n karakter te ontleed. 

“Ek het altyd idees, maar ek weet nie altyd hoe om dit uit te voer nie,” sê sy. 

bertha le roux-wahl,aktrise,binnelanders
Bertha as die wraaksugtige Gaynor in Binnelanders. Foto: kykNET/Binnelanders

Christopher, wat in die 2016-fliek Jou Romeo en vroeër vanjaar self in 7de Laan te sien was as Emile, is egter praktieser ingestel en help haar om dit ’n werklikheid te maak. 

Hulle het mekaar drie jaar gelede ontmoet toe hulle saam in André Stolz se produksie Onderwêreld begin speel het. 

Dié produksie, wat op die gelyknamige voorgeskrewe boek vir matriekleerders geskoei is, word in chronologiese volgorde aangebied, anders as in die boek, wat die hede en verlede vervleg.

Sy geniet al die verskillende projekte waaraan sy werk, sê Bertha. 

“Dis lekker om op verskeie maniere kreatief te kan wees.” 

“Eendag wanneer ons oud is en ons sit op die stoep, sal ons weet ons het in mekaar se ervarings gedeel. Hy gun my dit om te groei, en ek gun hom dit.”

Om haar vaste werk by 7de Laan te verlaat was ’n groot geloofsprong, maar oor en oor die moeite werd, vertel sy. 

“Ek het rustiger geword, want ek het geleer om my vertroue in die Here te plaas. Ek het geleer om my bekommernisse en moeilikhede by sy voete te lê.” 

En nes met daardie verandering van rooiblond na pienk was sy nog nooit bang vir ’n nuwe avontuur nie. 

  • Stilering en grimering: Amy Sprawson Rossouw; Hare: Rhode Truter
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.