Jy maak ’n kortfliek natuurlik. Of dít is wat die jong aktrise Blyde Smit (24), wat die rol van die kelnerin Gabby in 7de Laan vertolk, gedoen het.

Min het sy geweet sy sou met dié prent ’n tweede plek in kykNET se digitale kortfliek-kompetisie losslaan. 

Blyde het tydens die eerste paar weke van die inperking by vier vriende ingetrek in hul huis in Linden, Gauteng. Hier het hulle haar oorreed om dié kortfilm te skiet as ’n herinnering aan hul tyd saam tydens die pandemie. 

blyde smit
Van links na regs: Nico Fourie, Blyde Smit, Amy Leibbrandt, Anri Richter en Cameron McKluskey. Foto: Verskaf

“Hierdie wonderlike vriende van my bly almal saam in ’n huis en het my oorreed om by hulle in te trek sodat ek nie alleen sal wees in my woonstel vir daardie eerste drie weke nie,” vertel Blyde. 

Die drie weke raak toe langer en die vriende word soos familie. “Ons almal het elke aand saam kos gemaak, gelag, gehuil en gedroom. Ons het selfs ’n tent in die voortuin opgeslaan en ’n paar aande buite deurgebring.” 

Dis haar vriendin Amy wat haar eindelik oorreed het om al hul herinneringe op kamera vas te vang. 

“Ons het die kortfilm op dag 23 van die lockdown geskiet en teen daardie tyd het ons ’n sterk community gevorm.” 

Die kortfilm was aanvanklik vir die 48 Hour Film Festival geskep vertel Gabby, wat voorheen as ’n fotograaf gewerk het, voor sy byna twee jaar gelede by 7de Laan aangesluit het. 

Die aktrise en haar vriende het egter soveel pret gehad dat hulle die sluitingsdatum daarvoor gemis het.

“’n Dag of twee later hoor ons van die Silwerskerm se digitale kortfilm-afdeling waar jy tydens kwarantyn ’n kortfilm skiet wat alle covid-19-reëls en -regulasies moet volg en nie langer as vyf minute moet wees nie.”

Blyde het al vergeet sy het ingeskryf vir die kompetisie toe sy die oproep ontvang dat sy tweede plek behaal het, maar is baie opgewonde oor hierdie prestasie. 

Hier is ’n paar lesse wat die aktrise tydens die inperking geleer het


1. Hoe kosbaar en noodsaaklik community is. “Ek dink nie ek het al vantevore in my lewe so ’n sterk band met mense gevorm nie. Ons het mekaar gedra wanneer dit swaar gegaan het en op kreatiewe maniere onsself besig gehou. 

2. Ek het geleer dat selfs die dinge wat ons destyds gedink het standvastig en onveranderlik is, nie altyd so belangrik of standvastig is soos wat dit voorkom nie.

3. Ek het geleer dat dit belangrik is om jou fokus te hou op dit wat vir jou betekenis gee en dat dit belangrik is om van binne af buite toe te leef.

4. Ek is ongelooflik dankbaar vir die mense wat saam met my in hierdie kortfilm is. Sonder dat hulle dit besef het, het hulle ’n groot verskil in my lewe gemaak.