Kykers wat haar al 19 jaar lank as 7de Laan se Hilda ken, sal moeilik glo wat Annelisa Weiland self oor haar geliefde sepiekarakter te sê het: “Daar is géén ooreenkomste tussen ons nie.”

Hilda is alewig met ’n handwerkie doenig of besig om volksvreemde konkoksies te berei. En wie sal ooit daardie kleurryke serpies kan vergeet wat sy in ’n stadium gedra het?

Annelisa lag alte lekker, want sy kan nie hekel of brei om haar lewe te red nie, sy is nie ’n wafferse kok nie en sy het nog nooit ’n serpie in haar klerekas gehad nie.

Die aktrise word gereeld op straat voorgekeer wanneer iemand ’n geselsie met “Hilda” wil aanknoop of ’n selfie saam met haar wil neem.

Maar wanneer sy ná ’n dag van opnames haar kostuum uittrek en uit die ateljee stap, los sy sommer haar karakter ook daar agter, vertel sy: “Daarna is ek Annelisa. Niks van Hilda kom saam met my huis toe nie.” 

Sy is al vanaf die eerste episode in 2000 in dié SABC2-sepie te sien as Hilda de Kock en later as Oubaas (gespeel deur Pierre van Pletzen) se vrou, Hilda van Zyl.

Die “spinnekopvroutjie” en “kierietjies” soos Hilda se jare lange vyand in die sepie, Matrone (gespeel deur Annelize van der Ryst), haar noem, het sommer gou in TV-kykers se hart ingekruip.

Ons kuier in haar ruim huis in Auckland Park, Johannesburg, waar sy die afgelope ses jaar woon. In haar modieuse bloes en langbroek vertel Annelisa sy het onlangs ’n partytjie met 30 gaste hier gehou. 

Daar móés ’n makietie wees, want dis mos nie aldag dat ’n mens 70 jaar oud word nie, verduidelik die enkelloper wat op 15 Februarie verjaar het.

Sy beduie met haar hande waar daar in die leefvertrek ’n lang tafel gestaan het waarby die gaste aangesit het. “Hier was baie kos, en baie wyn!” verklap sy.

annelisa,7de laan
Annelisa blaai deur haar plakboeke waarin haar professionele loopbaan, wat oor vyf dekades strek, in foto’s en koerant- en tydskrif­artikels uitgebeeld word. Foto: Papi Morake

Ja, ’n spyseniersaak het die driegangmaal berei, want sy is mos nie so vlytig in die kombuis soos Hilda nie. “Soms sal ek ’n kookboek uithaal en iets aandurf, maar kos maak is nie my sterk punt nie.”

Vra jy haar watter 7de Laan-storielyne haar deur die jare die naaste aan die hart gelê het, kom die antwoord vinnig: “Die komieser storielyne is miskien die lekkerstes. Dan het ons soveel pret.”

Soos toe Hilda jare gelede met alle geweld met ’n bromponie wou ry, maar nie ’n rybewys gehad het nie. “Sy het met haar onbeholpenheid omtrent in alles vasgery.”

Die storielyn van verlede jaar waarin ’n sekte wat teen tegnologie gekant is Hillside oorneem, is vir Annelisa een van die vreemdstes nog. Sy dink dit het baie kykers afgeskrik, sê sy ernstig.

Sy was ook onkant betrap deur Oubaas se owerspelige verhouding voor sy karakter in 2017 uit die reeks geskryf is.

“Oubaas en Hilda was dalk een van die geliefdste egpare in die plaaslike sepie­geskiedenis,” voel sy. “Mense vra my nou nog: ‘Waar is Oubaas?’ Dan gee ek maar my standaardantwoord: ‘Hy kuier nog by Moekie.’ 

“Ja, ek mis vir Pierre op die stel. Ons het baie goed saam gespeel.”

Nes met Oubaas se vertrek het baie ander dinge deur die jare in 7de Laan verander. Die hele trant het verander, som Annelisa dit op.

“Aan die begin het dit meer ’n feel good-faktor gehad. Die kykers het in die fiktiewe lief en leed van die karakters gedeel en elke probleem het ’n oplossing gehad. Deesdae word daar meer op werklike lewenskwessies gekonsentreer. Dinge word nou aangeroer waaroor mense elke dag praat.”

Ook wat die tegniese kant van die bedryf betref, het dinge die afgelope 50 jaar baie verander. Sy onthou hoe hulle nog aan die begin van haar fliekloopbaan in die 1970’s op film geskiet het. 

“Dit was ’n omslagtiger proses ver­geleke met vandag se digitale filmwerk. Maar ons was ook rustiger op die stel.”

7de laan,aktrise
As ’n jong meisie in haar 20’s. Foto: Verskaf
7de laan,aktrise
’n Jong Annelisa en Tobie Cronjé in ’n toneelstuk waarin hulle jare gelede was. Foto: Verskaf

Nou hardloop haar gedagtes sommer ver terug, en sy onthou hoe almal met die koms van televisie in 1976 skielik TV-werk wou doen.

“Dit was net so ’n groot aanpassing, want skielik hang hier mikrofone uit die dak voor jou in ’n ateljee. Ons het dit nie op filmstelle geken nie.”

In daardie tyd was sy ook die stem van die bekende animasiekarakter Heidi op die kassie. 

“Sjoe, ja, Heidi was des­tyds baie gewild, maar ek dink nie mense onthou dit meer nie. Ek hoor in elk geval niemand meer daaroor praat nie.”

Wat glad nie vandag vir haar ’n aanpassing is nie, is om saam met soveel jong mense op die stel te wees. 

“Ek kom met enigiemand oor die weg; daarom is dit ook nie moeilik om saam met akteurs te werk wat dekades jonger as ek is nie. Ja, daar is van hulle wat nie uit ’n drama­skool kom of verhoogervaring het nie, maar ek sien hulle leer sommer vinnig wat dissipline op die stel beteken.”

Met ’n loopbaan wat oor vyf dekades strek, kan Annelisa glad nie uit haar kop onthou in hoeveel produksies sy al gespeel het nie.

Maar volgens haar gegewens op die vermaakwebtuiste IMDb het daar feitlik nie ’n jaar verloop waarin sy nie voor die kameras was nie.

Sy is dankbaar dat sy altyd werk gehad het, sê die aktrise wat in die werklikheid heelwat jonger as haar 70 jaar lyk. Sy is steeds bedrywig en kan nie eintlik sê hoe ’n dag in haar lewe lyk nie, “want elke dag is anders”. 

Wanneer sy soggens op die 7de Laan-stel moet wees, staan sy halfses op. As sy tyd het tussen tonele, gaan oefen sy by ’n gimnasium of doen inkopies.

“Naweke is vir my baie spesiaal, want dis al tyd wanneer ek kan kies wat ek wil doen,” vertel sy. 

7de laan,hilda,aktrise,vermaak
’n Paar jaar gelede op die 7de Laan-stel: Matrone (Annelize van der Ryst), Oubaas (Pierre van Pletzen) en Hilda (Annelisa). Foto: Verskaf

Sy en haar vriendinne kuier dan gereeld saam.

Later poseer sy vrolik vir die kamera. Die toonbeeld van ’n sprankelende sewe dekades. Dink sy ooit aan aftree eendag? Nee, nooit! 

“Ek sal dalk nie vir die res van my lewe Hilda wil speel nie, maar ek is dankbaar vir die standvastigheid wat dit my nou gee.”

Natuurlik het sy steeds ’n wenslysie, verklap sy. Sy wil graag in nog verhoogstukke en ’n dramareeks of twee speel.

Sy vat met haar hand aan die tafel. 

“Ek kan nog, touch wood, my woorde onthou!” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!