Onder die 7de Laners is Annelisa die langste in die sepie. Sy was daar sedert die eerste episode op 4 April 2000 uitgesaai is.

"Annelisa, vandag vier ons alles wat jou so spesiaal maak. Jy word beskryf as 'n vrygewige mens. 'n Vriend en kollega wat altyd ander onthou met 'n stewige werksetiek en 'n skreeusnaakse sin vir humor. Geluk met jou 70ste verjaardag, mag jy oorvloedig geseënd wees met liefde en vrede!” het die 7de Laan-span op Instagram geskryf by ’n foto van haar. 

Toe ons verlede jaar met Annelisa gesels het, het sy oopgemaak oor haar karakter se stylvolle transformasie sedert Hilda haar eksentrieke klerestyl en daardie koekerige bolla laat waai het. "Wanneer ek ’n geleentheid bywoon, is dit wel vir my lekker om my ’n bietjie op te tof," het sy toe vertel.

"Ek mis met tye die ou Hilda met haar swak smaak, maar ek geniet ook haar nuwe voorkoms," het Annelisa gesê. 

Annelisa het in 2015 die Huisgenoot Tempo-toekenning vir beste sepie-aktrise ontvang en is weer verlede jaar as beste aktrise benoem. Maar haar suksesvolle loopbaan strek verder as net die Laan. 

Die aktrise, wat drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer het, se eerste TV-rol was in Liesbeth Slaap Uit en daarna Die Koster waarvoor sy ’n Artes-prys gewen het.

Annelisa het ook ’n aantal Reza de Wet-toneelstukke opgevoer en het die Dalro-prys vir beste byspeler vir haar rol in Mirakel gekry. 

Sy het boonop ook haar veelsydigheid as die stem van Heidi in die animasiereeks betoon. 

7de Laan
Annelisa Weiland saam met Louis Auret, wat die rol van Ben vertolk. Foto: Melanie Mulder

Hoewel 7de Laan dié 70-jarige besig hou, kry sy steeds tyd om haarself in teater uit te druk. 

Annelisa het saam met haar kollega Vanessa Cooke Die Slap Koejawel and Other Tidbits geskryf wat in intieme venues opgevoer is. 

Ekstra bronne: sewendelaan.co.za, talent-etc