Twintig jaar lank het sy swygend die seer verduur as die vlymskerp tonge haar soos swepe afransel. Sy het haarself telkens probeer oortuig dat alle akteurs soms afgekraak en beledig word.

Ingrid Paulus
Ingrid Paulus sê sy het genoeg gehad van kuberboelies se gemene opmerkings. Foto: Verskaf

Tydens haar twee dekades in die sepie 7de Laan het sy immers geleer dat roem sy goeie en ook slegte kant het.

Tog het elke nuwe aanval deur die boelies wat in die skaduwees van die kuberwêreld skuil, so seer gemaak. En steeds het Ingrid Paulus, oftewel die Laan se Vanessa Meintjies, dit swygend verduur. Maar nie meer nie . . .

In ’n openhartige onderhoud met Huisgenoot vertel Ingrid die keerpunt het gekom nadat sy onlangs op 42 weer ma geword het.

Sy kon nie langer stilbly nie – nie as sy ’n rolmodel vir haar twee dogters wou wees nie. En toe sy weer ’n keer ’n kwetsende aanval op haar voorkoms in die sosiale media teëkom, het sy besluit: Dit is nou genoeg.

“Daar het dit gestaan in swart op wit: ‘Ag nee, jy is vet!’ ” vertel sy. “Dis asof daardie enkele opmerking ’n lont binne my aan die brand gesteek het.

“Hierdie keer kon ek nie net my rug draai nie. Ek het geweet ek moet iets sê . . . Vir my, vir my dogters en vir elke vrou in hierdie bedryf.”

Op 21 Augustus het sy haar stilswye op haar Facebookblad verbreek: “Om gekritiseer te word is deel van my werk. Maar as ’n mens met gevoelens het ek genoeg gehad van mense wat walglike dinge van my in die sosiale media sê. Dis nie ’n lekker ervaring wanneer mense jou daagliks bespot nie – veral wat my fisieke voorkoms betref. Ek het genoeg gehad van julle boeliery, want dis al wat dit is. Ek gaan dit nie meer duld nie.”

post
Foto: Facebook

Nou brei sy uit. “Ek was woedend. Jare lank vat ek die houe: ‘Jou neus lyk vreemd’; ‘Jou hare lyk aaklig’, ‘Jy het te dik geword.’ Ek het besluit tot hier toe en nie verder nie. My voorkoms is nie ’n onderwerp vir bespreking nie. “Ek’s nie Vanessa nie. Ek’s Ingrid; ’n ma en ’n vrou. Ek kry ook seer.

“Ek het geweier om verder ’n slagoffer te wees. Ek wou vir my dogters wys ’n mens moet opstaan en terugbaklei; dat jy nie die houe hoef te vat nie.” En sy het opgestaan.

“Weet jy hoe bevrydend was dit?” sê sy met ’n laggie. “In my lewe sal ek nooit weer tot stilte geboelie word nie. Selfs nie vir een oomblik nie.”

Ingrid se bevryding kom ná jare se emosionele pyn. Net ’n paar jaar gelede wou sy die sepiewêreld groet weens die giftonge van kuberboelies.

“Ek was in ’n donker plek,” erken sy nou.

“Ek onthou hoe ek op ’n dag besluit het ek is klaar met die bedryf. Jare lank het dit vir my vreugde gebring, maar die aanvalle het my van daardie vreugde gestroop.”

Dit was net danksy haar man, die akteur Denver Vraagom (48), dat sy nie haar loopbaan op die kassie prysgegee het nie.

Ingrid Paulus
Ingrid saam met haar dogter, Skye, en akteur-man, Denver Vraagom. Foto: Verskaf

“Hy wou by my weet: Watter les sal dit ons dogter (hul eersteling, die 16-jarige Skye) leer as jy opgee? En dit was al wat ek moes hoor. Ek het besef ek is sterk; ek sal nie uitgeboelie word nie.”

Ingrid het aanhou werk as televisie- aktrise, maar in die jare daarna het sy bly swyg – selfs wanneer ander in die vermaakwêreld die aanlyn trolle aangevat het, soos die sangeres Corlea Botha ná ’n Afrikaans Is Groot-konsert in 2016.

“Om mense persoonlik aan te val en te kritiseer is onnodig. Julle breek in twee minute agter ’n naamlose profiel ’n legacy af wat ons oor jare opgebou het. Een waarvoor ons jare lank gewerk en baklei het,” het Corlea destyds in die sosiale media geskryf.

In April vanjaar is nog ’n gemene “grap” aanlyn versprei: “As jy een Afrikaanse sanger moes sacrifice om corona te stop, wie sou dit wees? En waarom Kurt Darren?” Kurt het dadelik sy voet neergesit oor die wrede aanmerking en sulke afknouery as “walglik” bestempel.

Maar steeds het Ingrid geswyg. “Ek wou nooit die bad guy wees nie. Ek wou myself nooit oopstel vir nog kritiek nie. Maar dit het bly erger en erger raak. Dit was asof die beledigings elke keer meer byt gehad het,” verduidelik sy.

‘Ek’s nie Vanessa nie. Ek’s Ingrid; ’n ma en ’n vrou. Ek kry ook seer’

Eers was dit gemik teen haar karakter, Vanessa, maar later teen Ingrid self.

“Daar het volgens hulle altyd iets met my of my voorkoms geskort. Niks was meer reg nie. Nie my gewig, my klerekas of grimering nie; nie my vel of hare nie. Dit het my baie seer besorg.”

In die laaste jaar, veral tydens Ingrid se swangerskap met klein Hannah Elizabeth (nou 6 maande), het sy en die aktrise Hildegardt Whites (Bonita Meintjies in 7de Laan) baie oor kuberboelies gepraat. “Ek en Hildegardt is beste pelle, al is dit vir kykers moeilik om te glo,” sê Ingrid.

In die sepie is hul karakters aartsvyande. Bonita had ’n affair met Vanessa se man, Xander Meintjies (Theodore Jantjies). En toe Bonita swanger raak en die affair op die lappe kom, was Vanessa en Xander se huwelik op die rotse. Maar weg van die kameras is Hildegardt vir Ingrid ’n klankbord.

Ingrid Paulus
Sy het op Facebook na die boelies gekap. Foto: Facebook/7de Laan

“Ons albei het die laaste tyd ’n versadigingspunt met boelies bereik. Aanvanklik sou ons vir mekaar sê: Ag wat, we’ll take the punches. Ons wou eerder daarop fokus om gelukkig te wees in ons eie vel.”

Ná die geboorte van klein Hannah in Februarie en haar kraamverlof het Ingrid pas weer met die verfilming van 7de Laan begin toe sy op die “snedige kommentaar” van ’n kyker afkom wat spottend na haar as “vet” verwys.

Omdat sy ná haar tweede kleinding se geboorte besef het hoe belangrik dit is om ’n voorbeeld vir haar dogters te wees, wou sy nie hierdie keer weer stilbly nie.

“Dis toe dat ek besluit het ek sal nie meer een hou vat nie. Ek wou hê die boelies moes weet hoe seer hul woorde maak. Ek wou dit duidelik stel: Kritiek is altyd ’n groot deel van ’n akteur se lewe, maar dis nie oukei om my te koggel omdat jy nie hou van hoe ek lyk nie. Ek het toe eers besef hoe belangrik dit is om vir hulle te wys dat jy moet opstaan wanneer jy voel jy word ’n onreg aangedoen.”

Die reaksie op Ingrid se boodskap oor aanlyn boelies was oorweldigend positief. Haar Facebook-profiel het gekreun onder duisende boodskappe van bemoediging deur haar ware aanhangers. En haar plasing is sowat 5 000 keer gedeel.

Ingrid Paulus
Die aktrise het in Februarie vanjaar op 42 weer ’n keer ma geword. Sy sê sy wil nou ’n voorbeeld wees vir haar dogters. Foto: Verskaf

“Jy is wonderlik, Ingrid. Ignoreer net die boelies,” is een kyker se kommentaar. Nog een skryf: “Jy is ’n sterk vrou en snedige kommentaar is onbelangrik. Fokus net op jouself – jy is genoeg.”

Ook haar medeakteurs van die Laan ondersteun haar.

“Ek het altyd vir vriende en familie gesê elke snedige kommentaar voel soos ’n vuishou in die maag. Dis skrikwekkend as jy daaraan dink: Hoekom sal enigiemand vuishou ná vuishou verduur?

“Maar hierdie dinge het op die regte tyd gekom. Ek is emosioneel sterker as wat ek ooit voorheen was. Ek weet wie ek is: ma, aktrise, vrou – nie ’n karakter nie. En dis waarom ek nou vir myself kan opstaan.”

Deesdae skiet Ingrid weer voltyds aan tonele vir 7de Laan, en sy en baba Hannah bly in Johannesburg. Denver is steeds in die Kaap, waar hy tot onlangs op die stel van Suidooster was.

Skye is in ’n Kaapse hoërskool. “Dalk was dit weens die twee jong vroue in my lewe dat ek eindelik besluit het om nie stil te bly nie,” sê Ingrid oor haar dogters.

“Ek besef hoe weerloos hulle in ’n wêreld van kuberboelies is.

“Dan weet ek opnuut – ’n mens mág nooit stilbly nie.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe