Die agterdog het begin toe Nadia, bekend vir haar rol as Olivia in 7de Laan, nie toegang tot haar Facebook en Instagram kon kry nie. Haar sosialemedia-profiele het kort daarna soos mis voor die son verdwyn. Geen foto’s. Geen volgelinge. 

“Ek het besef my profiel is gehack toe ek sien dat ek vreemde mense op Instagram volg. Ek het toe agtergekom my profiel is in vreemde plekke aangemeld en al my foto’s is weg. Ek kon later nie by my Instagram- of Facebook-profiel inkom nie,” vertel ’n ontstoke Nadia aan Huisgenoot.

Die boorling van die Paarl, wat in November 2017 haar debuut in Hillside gemaak het en op 18 Oktober verlede jaar die Laan gegroet het, het toe die stappe gevolg om haar wagwoord te verander. Maar dié poging was onsuksesvol toe die kuberkraker ook dié e-pos en nuwe wagwoord in die hande kry. Nadia het nóg ’n bloutjie geloop toe sy die hulp van ’n kuberkraker-kenner op ’n aanlyn platform om hulp vra.

Sy het die geld betaal en die persoon het spoorloos verdwyn. 

Daarna het die aktrise die hulp van ’n ondersoekbeampte van Los Angeles, Amerika, ingeroep. Hy spesialiseer in kuberkrakery. Sy het hom in November in Los Angeles ontmoet.

Hy het die kuberkraker opgespoor en namens Nadia onderhandel om haar inligting terug te kry. Die kuberkraker wou toe R10 000 hê voor hy enige van haar inligting terugbesorg.

In ’n gesprek tussen die ondersoekbeampte en die kuberkraker het die kuberkraker beloof wanneer Nadia die geld betaal, sal hy nie een van haar volgelinge verwyder nie, vertel sy. 

Die onderhandeling was onsuksesvol en sy was verpletter toe sy al 50 000 van haar Instagram-volgelinge verloor, sowel as al haar foto's en herinnerings. 

Die aktrise, wat ook as model werk en in 2015 tiende in die sangkompetisiereeks Idols geëindig het, is diep geruk deur die voorval omdat sy ’n ekstra inkomste met Instagram-plasings gemaak het. 

“Ek is vir plasings van borge op Instagram betaal. As ’n aktrise was dit vir my ’n ekstra inkomste. Ek het hard gewerk en was afhanklik van my sosialemedia-platform vir werk. Ek het van my borge verloor, my Idols-herinnerings, my 7de Laan-herinnerings en jare se foto’s. Selfs foto’s van my skooldae is nou weg,” vertel Nadia, wat deesdae in Kaapstad woon. 

Sy het nie die voorval by die polisie aangemeld nie. 

Diederik en Olivia op hul groot dag. Foto: Verskaf/7de Laan

Sy gaan Dinsdag nuwe sosialemedia-rekenings skep en het met die hulp van ’n IT-spesialis van Pretoria seker gemaak dat sy dié keer teen kuberkrakers beskerm is.

Nadia Herbst
Nadia het die koppe laat draai by vanjaar se L’Ormarins Queen’s Plate-perderesies in Kaapstad. Foto: Verskaf

“Ná die ervaring wil ek mense, veral dié wat die sosiale media vir sakegeleenthede gebruik, bewus maak oor kuberkrakery. Ek het nie gedink dat dit met my sou gebeur nie, maar dit het.”

Volgens Nadia is dit belangrik om nie belangrike inligting soos wagwoorde en privaat besonderhede op jou selfoon te berg of in ’n boodskap te deel nie.

“Kies ook verskillende wagwoorde vir jou sosialemedia-rekenings,” laat sy hoor.

Jy moet ook gereeld op Instagram onder jou "login activity" kyk in watter stad of dorp jou profiel aangemeld is, meen Nadia, want as dit 'n ander plek aandui as waar jy tans is, moet jy dadelik afmeld en jou wagwoord verander. 

Hoewel die afgelope tyd nie maklik was vir haar nie, is sy opgewonde oor haar terugkeer na die kassie.

Die blondine sal van 20 Maart weer op televisie te sien wees in ’n nuwe kykNET-sepie. Meer oor haar rol en watter sepie dit is, mag sy nie verklap nie.

“Ek het ook baie geleer toe ek in Los Angeles was. Ek gaan tans vir klasse om my aksent te verbeter sodat ek hopelik vir Amerikaanse flieks raakgesien kan word,” vertel Nadia oor haar groot droom om eendag in Los Angeles te woon. 

Nadia Herbst
Foto: Gareth Barclay

Nadia maak haar ook gereeld agter die mikrofoon tuis om haar sangtalent met haar aanhangers te deel en verklap dat daar vanjaar dalk ’n paar enkelsnitte beplan word. 

“Ek wil graag vanjaar nuwe musiek bekendstel en liedjies skryf wat oor positiwiteit, liefde en goeie vibes gaan,” sê sy.