Kykers het hom destyds as die karakter Tiaan in 7d
Kykers het hom destyds as die karakter Tiaan in 7de Laan leer ken. Foto: Verskaf

Jy kan hom maar die verkleurmannetjie van die kassie noem. Of Frank Rautenbach nou ’n skurk of ’n romantiese held speel, hy voer die kykers mee.

“Nou die dag lees ek iemand se kommentaar in die sosiale media wat iets sê soos: ‘Jy het ’n skurk gespeel in Suidooster, toe dink ek sommer jy is lelik. En nou speel jy ’n romantiese rol in Getroud met rugby, nou is jy weer vir my mooi,” lag hy.

En vir die gesoute akteur is die lewe weer mooi, noudat die dae van tuis ingeperk wees verby en hy voor die TV-kameras terug is.

Die geluksaligheid straal uit Frank se gesig wat veel jonger as sy 48 jaar lyk. Nie net het hy die afgelope jaar in die twee gewilde kykNET-sepies verskyn nie; hy werk nou aan ’n nuwe M-Net-dramareeks, Lioness, en twee fliekprojekte wag in die nuwe jaar.

Vergete is daardie maer jare in Los Angeles . . .

Johannesburg- 5 Novenber. Frank is a well-known fa
Sedert hy terug is van Amerika blom Frank Rautenbach se loopbaan. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images


Frank en sy fotograaf-vrou, Leigh (50), het in 2005 hul heil in Amerika gaan soek, teruggekom en 2008 meer “permanent” gegaan, maar sy Hollywood-drome is daar verydel. Uit dié beproewing het hy vele lesse geleer – lesse wat hom in die inperking bygebly het.

“Die inperking was vir my veral op ’n persoonlike vlak rof,” erken hy. “Ek haat deure wat gesluit is, en dat ek by die huis moet bly. Moet my nie beperk nie. Ek is avontuurlustig. Op ’n psigologiese vlak was dit vir my ’n uithouresies soos die Comrades. Ek moes asemhaal, ek moes water drink en ek moes myself pace. Dit was baie moeilik vir my om van vriende en familie afgesny te wees.”

Dit het hom herinner aan sy en Leigh se swaarkrydae in Amerika toe hy net so afgesonder gevoel het – sonder werk en vriende en ver van sy familie.

“Ek dink ons het ons eie streng inperking so 10, 11 jaar gelede gehad in Amerika met alles waardeur ons toe is,” sê hy.

Aanvanklik het van die beste agente in die wêreld hom verteenwoordig en hy het amper die voorste TV- en rolprentrolle soos Superman losgeslaan. Maar die Stad van Drome het in ’n nagmerrie ontaard toe die rolle opdroog en hy die pot aan die kook moes hou deur as opsigter by ’n kerk te werk en taxi bestuur.

Hy en sy vrou, Leigh, is dolgelukkig in Suid-Afrik
Hy en sy vrou, Leigh, is dolgelukkig in Suid-Afrika. Foto: Verskaf

As Uber-bestuurder het hy “deur die Here se genade” eindelik weer sy stem gevind deur aan sy outobiografie, The Vagabond, te begin skryf. Dit het in 2018 verskyn.

“Ons het ’n ooreenkoms met M-Net om my boek in ’n fliek te omskep,” vertel hy, sy stem die ene opwinding in ’n video-oproep.

Hy en sy vrou is juis nou besig om saam met die vervaardigerspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha aan die draaiboek daarvoor te werk. Dit is nou tussendeur sy werk aan Lioness en al die ander projekte.

Nie dat hy oor al die hooi op sy vurk kla nie. Frank is met mening terug en reg om al die uitdagings aan te pak wat sy kant toe kom.

“Ek voel so vars,” sê hy. “Ek is ’n heel ander persoon as toe ek jare gelede hier weg is.”

Johannesburg- 5 Novenber. Frank is a well-known fa
Frank Rautenbach bly tans by familie aan die OosRand terwyl hy aan Lioness werk. Hier is hy en ’n familielid se hond, Lily, besig om woorde te leer. Foto: Sharon Seretlo/Gallo Images

Die land van verydelde drome

In Amerika moes hy en Leigh harde bene kou. In sy Ford Explorer het Frank oor die 10 000 km afgelê agter oudisies, afrigters en moontlike hoofrolle aan. Maar dit was alles ’n gejaag na wind.

Die waterskeidingsoomblik was vir hom op “ ’n koue, November-nag in 2011” toe hy wakker skrik en ’n paniekaanval kry met die besef dat alles waarvan hy gedroom het, nie gaan gebeur nie.

Die vorige jaar is sy dokter-pa, Johann, op 69 weens pankreaskanker in Suid-Afrika dood, en hy en Leigh het vir die vierde keer ’n baba verloor – ’n seuntjie aan spina bifeda en drie miskrame ­­. Daarna moes hulle ook afskeid neem van hul droom om ouers te word.

Nadat hy drie jaar lank sy brood agter die stuur van taxi’s en later ’n Uber-limousine verdien het, het Frank in 2015 die opsigter by hul tweeverdiepingkerk in Santa Monica geword.

Drie jaar later, tydens ’n besoek aan Suid-Afrika om vir ’n tydskrif tydens hul bootvaart op te tree, het ’n ontmoeting met ’n vriend sy lewe in ’n ander rigting gestuur. Dié het hom vertel van oudisies vir ’n Amerikaanse TV-produksie wat in die Wes-Kaap geskiet word. En daar slaan Frank toe ’n rol los in Warrior wat by ons op M-Net te sien was.

In ’n toneel in Suidooster saam met Desiré Gardner
In ’n toneel in Suidooster saam met Desiré Gardner. Foto: Verskaf

Toe hy en Leigh ook albei werk kry by Roep TV, ’n aanlyn Christelike TV-kanaal, het hulle besluit dis tyd om weer in hul vaderland te kom nesskop.

Geen drama, asseblief

Of hy nou die goeie of die slegte ou speel, hy los sy karakter op die stel wanneer hy huis toe gaan, sê Frank, wat nou as die oudrugbyspeler en sakeman Willem Meiring in Getroud met rugby te sien is.

“Hy is amper soos Richard Gere in Pretty Woman; ’n sakeman met ’n hart,” beskryf hy sy karakter.

In Suidooster was hy ewe oortuigend as die skurk JP. Vir dié rol het hy inspirasie by sy karakter destyds in 7de Laan gaan soek.

“In my kop het ek ’n Tiaan Terreblanche gespeel wat bad geword het. Hy is steeds ’n charmer, maar ’n skurk. Jy speel hom bad, maar jy kan steeds huis toe gaan en rustig wees,” gesels hy uit Boksburg aan die Oos-Rand. Hy woon daar by familie terwyl hy tot kort voor Kersfees aan Lioness werk.

Dié M-Net-dramareeks gaan oor Samantha Hugo (vertolk deur Shannon Esra van The Lab- en Still Breathing-faam) en haar gesin. Frank speel haar swaer, Jason, ’n suksesvolle prokureur wat een van die jongste regters in die land geword het.

Is sy karakter weer “’n goeie ou”?

Menseregte lê hom na aan die hart en sy groot droom is om in die konstitusionele hof te werk. Maar dalk skuil daar ’n donker kant. Die reeks van 10 episodes speel in twee tydperke, 2012 en 2020, af.

Frank berei hom ook voor vir sy hoofrol as Tank in ’n internasionale fliek, Skies Unflown. Dit is gegrond op ware gebeure toe ’n vliegtuig in 1948 naby Spitskop in Vrede in die Oos-Vrystaat neergestort het. ’n Bekende internasionale aktrise gaan heel moontlik teenoor hom speel.

Nog ’n opwindende projek is om sy eie lewensverhaal op die silwerdoek te vertel. Weens Covid-19 sal hulle moet sien of hulle al volgende jaar kan begin skiet.

Toe hy en Leigh aan die begin van die inperking in hul huis in Durbanville, Kaapstad, vasgekluister was, het hulle aan die draaiboek vir The Vagabond begin werk en die skryfwerk terapeuties gevind.

As daar geloof in Hom is, is daar hoop.

“Skryf is soos om lae van jou siel terug te trek. En eendag is daar ’n laag wat jy nie sien kom het nie en dit is spesiaal,” sê hy.

In dié tyd het die verhouding tussen hom en sy vrou nog sterker geword. “Geen drama nie was die wagwoord – dit het ek gehou vir wanneer ek op die stel is,” lag Frank.

Dan, op ’n ernstiger noot, voeg hy by: “Ons het ons ervarings en lesse uit daardie moeilike jare daar anderkant gebruik om hierdie afgelope tyd te trotseer. Leigh se pa is in Augustus dood, en sy het ook haar werk verloor toe hulle haar salaris drasties wou sny.”

Sy het bemarking behartig by ’n aanlyn TV-kanaal, maar het nou weer as die hoof van inhoud by TruthTV, ’n aanlyn Christelike TV-kanaal, begin werk.

“Vir my en Leigh was dit soos iemand wat fiks is vir ’n wedstryd. Jy gaan steeds sweet en dit gaan moeilik wees, maar omdat jy al in jou lewe deur jou eie inperking was, is jy minstens fiks,” sê Frank oor 2020 se uitdagings.

“En die Here het ons gedra,” voeg hy by. “As daar geloof in Hom is, is daar hoop.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe