Jacques Blignaut speel deesdae in The Estate nadat
Jacques Blignaut speel deesdae in The Estate nadat hy 15 jaar lank in 7de Laan was. Foto: Luba Lesolle.

Weg is die ligblou uniform waarin 7de Laan-kykers die deli se kok so lank gesien het. En weg is die karakter wie se wel en wee kykers deur al die jare met soveel genot gevolg het. 

Pleks daarvan is Jacques Blignaut vandag hier op die stel van ’n splinternuwe SABC3-reeks, netjies uitgevat in ’n wit kraaghemp en swart langbroek soos dit ’n dokter betaam, en hy klim vandag in die vel van iemand heel anders as Vince, die Laan-karakter wat so lank ’n gunsteling onder sepiekykers was. 

“Ek het die afgelope paar jare gedink dit is tyd om iets anders te doen. My actor’s spirit en actor’s soul het gevoel dat ek iets nuuts moes aanpak,” vertel die akteur, wat nou die deftige pikswart skoene van dr. Martin van Wyk in The Estate gaan vol staan. 

Tog was dit vir Jacques (41) net so moeilik om ná 15 jaar van 7de Laan afskeid te neem as wat dit vir die kykers van dié sepie was om die geliefde Vince Meintjies te sien vertrek. 

Jacques se 7de Laan-karakter, Vince, op sy troue m
Jacques se 7de Laan-karakter, Vince, op sy troue met Aggie, gespeel deur Mimi Mahlasela. Foto: Verskaf.

Toe sy heel laaste toneel verlede Desember verfilm is, het die akteur se gemoed so volgeskiet dat hy sy emosies met moeite moes bedwing. 

Daarin groet Vince die Laan se mense voor sy en sy vrou, Aggie (gespeel deur Mimi Mahlasela), se vertrek na Zanzibar. En daarna sou Vince twee maande in Kanada wees om ’n kookkompetisie te beoordeel. 

Maar anders as sy karakter het Jacques geweet hy sou nie gou weer, indien ooit, na die Laan terugkeer nie. 

“Met die eerste take van die laaste toneel het ek sommer baie emosioneel geraak. Toe sê een van die vervaardigers ek moet dit ’n bietjie terughou. Maar dit was moeilik, want ek sê eintlik regtig ná soveel jare vir die mense en die sepie tot siens. Ek weet nie wanneer ek hulle weer gaan sien nie,” vertel Jacques. 

Sedert dié toneel onlangs uitgesaai is, wil kykers van 7de Laan gedurig by hom weet:

“Gaan jy terugkom?” 

“Dan sê ek daar is altyd ’n moontlikheid. Ten minste het Vince nie doodgegaan want dan is dit verby,” sê hy. 

Vir die gesoute akteur wat ook al rolle in Egoli en Scandal! vertolk het, is dit lekker om homself nou in ’n nuwe rol te verdiep wat soveel van dié van Vince verskil. 

“Vince was baie meer loskop as Martin. Laasgenoemde is baie ernstiger oor die lewe en ernstig oor sy werk,” gesels hy tussen die verfilming van tonele vir The Estate in ’n swierige huis in die noorde van Johannesburg. 

Al is Jacques ook ernstig oor sy werk as akteur, neig hy nes Vince om nie die lewe te ernstig op te neem nie. 

As dokter is Martin ook baie waardiger en meer ingetoë, ook teenoor sy tienerdogter, Tessa (gespeel deur Carla Classen). 

Maar vir Jacques sal jy maklik kry waar hy saam met sy twee dogters, Angelique (10) en Emmanuelle (8), en woelwaterseun, Raphael (4), plat op die mat sit en speel of saam met hulle in die tuin werk. 

Tog meen hy dat ’n mens as akteur altyd deeltjies van jouself na ’n rol bring. Die groot raakpunt tussen hom en die twee uiteenlopende karakters is hul liefde vir hul gesin. 

Jacques saam met sy vrou, Melanie, en hul drie spr
Jacques saam met sy vrou, Melanie, en hul drie spruite, (van links) Raphael, Angelique en Emmanuelle. Foto: Luba Lesolle.

“Vince se familie was baie belangrik vir hom, en al is Martin baie plegtig, is hy ’n familieman wat baie erg is oor sy vrou en tienerdogter,” sê Jacques, self ’n raakvatterpa en liefdevolle wederhelf vir sy vrou, Melanie (39). Sy is ’n tuisteskepper wat self hul kroos in hul huis in die ooste van Johannesburg onderrig. 

“My vrou is amazing. Sy is so ’n wonderlike, vergewensgesinde en gelowige vrou,” koer Jacques oor sy huweliksmaat van die afgelope 12 jaar. Sy het hom ook ondersteun in die moeilike besluit om 7de Laan te verlaat. 

“Ons praat gedurig oor alles,” sê hy, “en ek glo vas dat goeie kommunikasie die sleutel tot ’n suksesvolle huwelik is.”

Toe hy op 3 Oktober 2005 by 7de Laan ingeval het, het hy nooit gedink hy sou so lank daar bly nie. 

“Maar ek het getrou en kinders gekry, en toe ek my oë uitvee, was dit 15 jaar later,” sê Jacques. 

Toe sy agent verlede Julie vir hom ’n opsomming aanstuur oor ’n rol in ’n nuwe telenovelle, het dit hom geïnteresseer. “Ek het gedink ek sal vir ’n oudisie gaan, maar ek gaan niks verwag nie. Ek gaan net kyk of ek nog die oudisieproses kan doen,” vertel hy.

‘Met die laaste toneel het ek baie emosioneel geraak.’

Met die volgende oudisies het hy steeds niks verwag nie, vertel hy ewe beskeie. Toe, vroeg in September, het hy gehoor die vervaardigers wil hom beslis in The Estate hê.

“Toe ek die rol kry, het ek dit as ’n teken aanvaar, want ek is ’n baie gelowige mens. Ek het daaroor gebid en vir die Here gevra as Hy wil hê ek moet met my lewe aangaan, moet Hy vir my ’n deur oopmaak,” sê Jacques. 

En dis deur dié deur wat hy by The Estate ingestap het – sedert 5 April is hy weer weekdae op die kassie te sien. 

Aanvanklik sou hy al in November, in sy kennistyd by 7de Laan, aan The Estate moes begin werk het, ’n gedagte wat nogal aan sy senuwees geknaag het. 

Maar toe die telenovelle se produksie effens vertraag is, is sy eerste tonele – en net twee van hulle – eers in Desember verfilm voor hy in Januarie voltyds daaraan begin werk het. 

Op die stel was daar ’n bekende gesig wat hom verwelkom het – dié van Hildegardt Whites wat die rol van sy nuwe karakter se vrou, Grace, vertolk. 7de Laan-kykers sal haar herken as Bonita wat eens met Vince getroud was. 

“Dit is wonderlik dat ek by The Estate kon instap en ek ken Hildegardt so goed omdat ons reeds jare lank man en vrou gespeel het. Ons hoef nie oor die emosies bekommerd te wees nie, want ons het al verlief gespeel,” voeg hy by. 

Jacques as dr. Martin van Wyk en Hildegardt Whites
Jacques as dr. Martin van Wyk en Hildegardt Whites as sy vrou, Grace, in The Estate. Foto: Verskaf.

Op stiller dae op die stel wanneer hy in minder tonele hoef te verskyn, begin Jacques daaraan werk om nog ’n droom van hom te bewaarheid – om sy hand aan regie te waag.

“Ek sou binnekort by 7de Laan opleiding in regiewerk ontvang het. So ek het van die begin af vir die vervaardigers by The Estate gesê dat ek daarin belangstel om soms in die regisseurstoel te sit.” 

Wanneer hy nie voor die kameras hoef te wees nie, gaan loer hy wat daaragter aangaan om meer oor regie te leer. Of hy benut die kans om meer tyd saam met sy gesin deur te bring. Hulle het juis vandag die eerste keer op The Estate se stel kom inloer. 

Al kom sy drie spruite hul pa opgewonde groet, sit hulle nie elke aand voor die TV reg om hom op die skerm te sien nie. Hulle het darem in Maart na die laaste episode van 7de Laan gekyk waarin hy verskyn het, asook na Vince en Aggie se troue op Valentynsdag verlede jaar. 

Met die inperking was die samesyn met sy gesin vir hom heerlik, al het dit vir hom as akteur veral tydens die strengste vlakke uitdagings ingehou. 

“Die inperking het vir ons gewys wat die belangrikste dinge in die lewe is,” sê Jacques.

“Ja, jou werk is belangrik, maar om gehaltetyd saam met jou gesin deur te bring is belangriker.” 

Geen wonder die akteur wat so praat, is so tuis in die rol van ’n gesinsman nie – of dit nou een is wat agter die kospotte staan of een met ’n stetoskoop om die nek.

  • The Estate word weeksdae om 19:00 op SABC 3 uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe