“Hoe ouer ons word as vroue, hoe meer bewus raak jy van hoe ouer jy lyk,” sê Mila, wat tans te sien is as Lana Basson in 7de Laan. “Daar is ook baie druk om ’n sekere manier te moet lyk of dat jy ’n sekere manier moet voel.”

Mila het vroeër vanjaar tydens ’n gesprek met ’n groep vriendinne besef sy ly aan ’n “tipe variasie” van liggaamsdismorfie.

“Ons sien so baie meisies op sosiale media en jy wil die heeltyd soos almal anders lyk, maar jy sien nie regtig hoe jy lyk nie,” vertel Mila 

Volgens die aktrise is liggaamsdismorfie die manier hoe jy jouself sien en nie die regte manier hoe ander jou noodwendig sien nie.

“Ons sien nie onsself vir hoe ons regtig is nie, want ons is heeltyd besig om na iets te strewe,” vertel sy.

“Ek onthou aan die begin van die jaar het ek ’n foto opgesit van my in ’n bikini. Dit was ’n pajama shoot, en toe vra hulle vir my of ek ’n bikini wil dra.”

Mila sal nooit die gevoel vergeet wat sy op stel gekry het nie. “Ek was so skaam, en dit was vir my so ’n groot ding. Ek was so ongemaklik, en tog was dit die maerste wat ek in ’n lang tyd was.”

Sy het toe 49 kg geweeg. “Dit was eintlik ongesond. Ek het nog steeds selfbewus gevoel.” 

Dis toe dat sy tot die besef gekom het sy moet iets doen.

“Ek dink dit was vanjaar toe almal vir my vertel: ‘Jy lyk so goed en jy lyk so maer.’ Ek het toe met my vriendinne begin praat en hoor ons almal sukkel met gewig.”

Toe kry Mila ’n idee. “Ek wou net rêrig hieroor gesels, dit afneem en dalk op sosiale media plaas sodat dit iemand kan inspireer.

“Ek het net begin voel ons moet beter met mekaar gesels as vroue oor ons liggame, maar ook beter met onsself.”

Daarom het die jong ster besluit om die kwessie in haar eie hande te neem. Sy het onlangs ’n vierdelige videoreeks bekend gestel om die lig op liggaamsdismorfie te werp.  

In die reeks, wat Mila daagliks tot 24 Junie op Instagram deel, gesels sy met ander vroue soos die gewese Getroud met rugby-aktrise Kate Roothman en die televisie- en radioaanbieder Rozanne McKenzie, oor hul verhouding met hul liggaam.

Die reaksie sover het haar uitgeboul. “Ek het al klaar ’n paar boodskappe van meisies gekry wat vertel dat die video’s vir hulle inspirerend was,” sê Mila.

As ’n handjievol mense die video’s kyk en tot die besef kom dat hulle ook so voel, sal dit vir Mila alles die moeite werd maak.

“Ek wil net meisies inspireer en wys dat hulle nie hard moet wees op hulself nie.”

En hoe is haar verhouding nou met haar liggaam?

“Dit raak beter. Daar is nog dae wat jy nie lekker voel nie,” vertel sy. “Jy gaan nie altyd 100% voel oor jou liggaam nie, maar jy moet maniere vind waar jy net sê: ‘Ek het die pad gestap en dis oukei.’

“Ons moet net bewus wees ons is vroue, en ons is ook ’n bietjie anders.”

Lana en die gewigfiasko 

Mila moes ’n vetpak dra vir haar onlangse terugkeer na die Laan.

Nadat haar karakter, Lana, onlangs weer haar verskyning in Hillside gemaak het, het 7de Laan-aanhangers omtrent gegons oor haar gewig. Van hulle het selfs gedink Lana is swanger.

“Om daai fat suit te dra vir die paar maande wat ek dit moes gedra het, was moeilik. Jy sit dit aan en mense lewer kommentaar oor jou, want hulle weet nie altyd jy het die fat suit aan nie.”

Volgens Mila wys die storielyn ook die dubbele standaarde waarmee vroue sukkel. “As Lana nou die gewig verloor in die storie, gaan dit genoeg wees vir die kykers om dan te besef dat sy normaal is as die vorige Lana, of gaan hulle nog sê: Ag, sy’s nog steeds vet?”

Volgens Mila moet dit op die ou einde nie saak maak wat mense sê oor ander se liggame nie. Al wat tel, is dat jy gemaklik in jou eie lyf is.  

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.