Die drie aktrises, wat 19 jaar gelede op 4 April 2000 in die heel eerste episode van die sepie 7de Laan verskyn het, is sedertdien beste vriendinne.

Hulle het op die Laan-stel ontmoet, vertel Quinne (39) oor haar vriendskap met Vuyelwa (38) en Diaan (41), wat aan die Laan se aanhangers as onderskeidelik Alyce en Paula bekend is.

Quinne Brown
Connie (Quinne Brown Huffman) destyds in 7de Laan.

“Diaan bly deesdae in die Kaap, so ons sien mekaar so gereeld soos wat ons in mekaar se dorpe kom,” vertel Quinne aan Huisgenoot.

 Quinne, haar man, Ryan Huffman (43), en hul twee dogtertjies, Lara (4) en Charlotte (7), woon in Johannesburg.

Hulle het vir 10 jaar in Amerika gewoon voor hulle in 2016 teruggekeer het Suid-Afrika toe.

Quinne het ook onlangs ’n foto van haar en Diaan met haar 18 500 Instagram-volgelinge gedeel. Diaan het destyds haar niggie Paula in die Laan gespeel voor sy in 2016 die sepie gegroet het. 

"Ag julle mooi meisies. Ek het altyd gesê die Laan se jong mense voel soos my kinders," het een van haar volgelinge laat hoor.

"Die van der Lecq-niggies," sê nog een.

"Diaan is een van my groot leermeesters in die vermaakbedryf. Ek het destyds by haar baie geleer en nou nog. Sy is net ’n uitstekende mens!" vertel Quinne oor haar vriendin.

View this post on Instagram

Gòod seeing friends ?

A post shared by Diaan Lawrenson (@diaanlawrenson) on

Diaan en haar akteursman, Jody Abrahams (45), woon sedert 2016 in die Moederstad en het twee kinders, Olivia Rose (8) en Thomas (6). 

En ken hul kinders mekaar? "Ja, maar hulle sien mekaar nie gereeld genoeg nie," sê Quinne.

Die aktrise deel ook gereeld foto’s van haar en Vuyelwa, wat sy op sosiale media haar #soulsister noem.

Vuyelwa het tot 2010 die rol van die uitgesproke Alyce in die SABC2-sepie vertolk. Sy was later in die drama Sink (2015) en die SABC2-dramareeks Geraamtes in die Kas.

"Vuvu is soos familie, so ons praat en sien mekaar weekliks," vertel Quinne.

Sy en die aktrise Kim Cloete (39), wat die rol van Bronwyn in die hospitaaldramareeks Binnelanders vertolk het, ken mekaar ook vir byna 20 jaar nadat hulle mekaar in 2001 ontmoet het toe Kim se gewese verloofde, die akteur Randall de Jager, hulle aan mekaar voorgestel het. 

Hy het die rol van Aubrey in 7de Laan vertolk en het Quinne op die stel van die sepie ontmoet.

“Toe ek en Quinne mekaar die eerste keer sien, was dit asof ons mekaar nog altyd geken het,” het Kim vroeër aan Huisgenoot vertel, terwyl Quinne al hul vriendskap as 'n "sielsvennootskap" beskryf het in 'n vorige onderhoud met die vriendinne.

Daar is 'n diep konneksie tussen die aktrises omdat hul vriendskap begin het toe Kim deur 'n moeilike tyd gegaan het: Randall is in daardie selfde jaar oorlede toe hy tydens 'n gewapende rooftog geskiet is.

Van afguns tussen hulle is daar nie sprake nie. "Ons het ’n groot waardering en liefde vir mekaar en is absoluut ’n spieëlbeeld van mekaar," het Quinne al gesê.