Die sangeres se ma en bestuurder, Ronel Brink, het dié nuus aan Huisgenoot bevestig.

“Ons het nie woorde nie. Klein Johannes Samuel is die pragtigste, perfekste klein dingetjie. Karlien en Joe is in die wolke,” sê Ronel.

Pa Joe Breytenbach, Karlien se man, en hulle drie kinders, Elah (2), Daniël en Eliah (byna 7), het Karlien Vrydagoggend met varsgeplukte blomme by die voordeur ingewag.

“Hulle het haar paraat by die voordeur ingewag – dit was die oulikste ding. Almal is verskriklik opgewonde oor die klein seuntjie waarmee die Here hulle gesin geseën het.” 

Klein Johannes Samuel het maar ’n skrapse 2,8 kg met geboorte geweeg. Dis Karlien se eerste bevalling, vertel Ronel, waar “absoluut niks verkeerd gegaan het nie”.

“Alles het ongelooflik goed verloop. Karlien het haar ’n paar dae vroeër by die hospitaal ingeboek as wat sy gedink het sy sou, maar buiten daarvoor was die Here ontsettend goed vir haar,” vertel Ronel.

Die sangeres het die goeie nuus Vrydagoggend met twee foto’s en ’n lywige inskrywing in die sosiale media met aanhangers gedeel en onder andere geskryf: “Johannes Samuel is gebore 1 April 2020, op 37 weke, en dis nie ‘n April fools nie. Hy is perfek en gesond! Vandag is die derde dag en hy kom saam my huistoe!”

“Haar vorige swangerskappe – en bevallings – het mos baie komplikasies gehad. Maar wat ’n ongelooflike groot voorreg is dit nie dat sy nou reeds by die huis, tussen haar man en ander kinders, kan wees nie,” sê Ronel. 

Die sangeres het inderdaad in die verlede erge komplikasies met haar swangerskappe ervaar. In Oktober verlede jaar, toe sy haar swangerskapsnuus gedeel het, het sy nog aan Huisgenoot vertel: “Almal weet van ons uitdagings met my vorige swangerskappe. Met elkeen van hulle het ek al voor 12 weke begin bloei. Tot dusver was die Here vir ons baie goed – ek het nog geen gesondheidsuitdagings ervaar nie.“

Dis vir ons baie belangrik om hierdie tyd te geniet – maar ons weet ook dat ons moet versigtig wees omdat elkeen van my vorige swangerskappe so moeilik was. Maar God is goed en groot; en ons is net dankbaar dat ons nog ’n keer met ’n klein wonderwerkie geseënd is.”

Hulle het haar paraat by die voordeur ingewag – dit was die oulikste ding!

Op Instragram skryf die sangeres net ander ma’s wat ook in die verlede vroeggebore baba’s in die hospitaal moes agterlaat, kan die vreugde verstaan wanneer jou kind saam met jou kan teruggaan huis toe.

“Ek dink net mammas wat al prembabas in hospitale moes agterlaat, en leë arms huistoe gaan, sal kan verstaan watter joy en massiewe voorreg hierdie is! God is altyd genadig en goed, maak maak nie saak of my baba in die hospitaal agterbly, en of ek hom saam my kan huistoe vat nie. Hy bly steeds goed. Wat ek geleer het deur die verskeie ervarings, is dat wanneer my baba in die hospitaal agterbly, is Hy steeds God wat goed is, en nie ewe skielik die duiwel wat kom steel nie (sic),” skryf sy.

“Dankie, Here, hierdie is regtig ’n voorreg vir my, ek sê in nederigheid vir U dankie dat ek hierdie mag beleef vandag.”

Karlien het alreeds ’n tweejarige dogtertjie, Elah, by haar man, Joe Breytenbach, en haar tweelingseuns, Eliah en Daniël (6), uit haar vorige huwelik met oud-Bok Derick Hougaard.

“Ons het al op vier weke gehoor ek is weer swanger. Ons was geskok, maar ook baie gelukkig daaroor – nie een van ons kinders was beplan nie. Maar dis wonderlike nuus en ons kan nie gelukkiger daaroor wees nie,” het sy in Oktober aan Huisgenoot vertel.

Sy sangeres het aan die einde van verlede jaar ook die geslag en naam van haar en Joe se tweede kleinding in die sosiale media onthul. 

“Ek het die naam in my gees gehoor, Johannes. 2 keer. O ja! By the way, dis ’n seuntjie. My man se naam is ook Johannes, maar hy is Johannes Christiaan Breytenbach.”

Die sangeres het toe reeds self laat hoor dat sy hoop hul tweede kleinding maak nie te vroeg sy opwagting nie.

“Asseblief moet ons nie vroeg kom verras soos jou ander broers en sussies nie. Groei nou nog lekker hier in my baarmoeder, daar is genoeg tyd,” het sy geskryf. 

“My grootste wens is dat ek hierdie een ’n volle swangerskaptermyn kan dra. Die langste wat ek nog swanger was, was 34 weke – en elkeen van my kinders was ná hulle geboorte in hoësorgeenheid.” Hierdie keer was definitief sy gelukkiger – klein Johannes is op 37 weke gebore.

Veels geluk julle!