Leesboek in die hand en met sy gesiggie ernstig geplooi kom staan die vierjarige seuntjie voor ons. 

“Ek was vandag in die moeilikheid by die skool. Ek het te veel gepraat in die klas,” bieg die oulike knapie. 

Vir ’n oomblik lyk Rozanne McKenzie (36) ietwat bekommerd oor hoe sy moet reageer op haar klein James se openhartige bekentenis teenoor die wildvreemde besoekers. 

Dan skud sy haar kop en sê gelate: “Ek lees die ander dag ’n meme: The hardest part of being a parent is having to discipline the me out of my child. Dit is so waar. Ek kan nie vir hom kwaad wees nie; hy het dit by my geërf!”

Haar oë blink; die toonbeeld van ’n liefdevolle, trotse ma.

Maar dié nuusleser, omroeper en televisieaanbieder was nie altyd so filosofies oor ouerskap nie.

nageboortelike depressie,omroeper
In Februarie verlede jaar het sy deur diep waters gegaan toe sy ná haar tweede kind se geboorte nageboortelike depressie gehad het. Foto: Facebook/ Rozanne Mckenzie

In Junie verlede jaar het sy op Facebook vertel sy moes professionele hulp kry weens nageboortelike depressie ná die koms van haar tweede kind, Fallon (nou 18 maande).

Toe het sy ’n selfie op Facebook geplaas, sonder grimering en met donker kringe onder haar oë. Die foto is geneem ná haar eerste besoek aan die apteek vir haar medikasie, het sy daarby geskryf. 

“Dit was ’n tyd toe my hare uitgeval en ek nie vir myself in die spieël kon kyk nie. ’n Tyd toe ek elke dag soos ’n mislukking gevoel het,” vertel sy nou oor die selfie.

Sy het die selfie op 26 Februarie verlede jaar geneem, maar eers in Julie gedeel nadat sy besluit het om haar hart oop te maak oor die depressie wat sy beleef het.

Maar deesdae gaan dit soveel beter dat sy onlangs haar medikasie kon staak. 

Sy is vandag weer haar ou self wat met ons gesels hier in die Wes-Randse huis waar sy en haar man, die musikant Chris Bishop (40), saam met hul twee spruite woon.

Rozanne is vriendelik en ontspanne in haar wit T-hemp met die boodskap “Don’t be aspris”.

Tog erken sy met treffende eerlikheid: “Soms voel ek steeds ek werk te veel. Dan voel ek so uit voeling met wat met die kinders aangaan.

Rozanne Mckenzie
Rozanne Mckenzie is vandag die toonbeeld van 'n liefdevolle ma. Foto: Lubabalo Lesolle

"Dis daardie mom-guilt wat jou kan tref. Ek vertel altyd vir myself ek doen my bes. Die rede hoekom ek so hard werk, is vir ’n goeie lewe vir hulle.”

Ons het Rozanne leer ken as veldaanbieder in Kwêla en aanbieder van kykNET se eertydse nuusprogram Dagbreek.

Deesdae vermaak sy luisteraars van Jacaranda FM, lees die nuus in die nuwe Nuusdag om 8 op e-Extra en praat boonop finansies in VIA se reeks Geldhelde.

Vir haar aanhangers klink dit dalk soos ’n glanslewe. Maar weg van die mikrofoon en kamera moet sy steeds die uit­dagings van ’n werkende ma hanteer. 

Dit is ’n ewige balanstoertjie en haar dae is lank. Soggens is sy sesuur uit die vere om in die gimnasium te gaan oefen.

Daarna meld sy by die radiostasie Jacaranda FM in Midrand aan om haar werkdag saam met Elana Afrika-­Breden­kamp te begin.

rozanne Mckenzie
Rozanne ontsien geen moeite om daagliks in die gimnasium te gaan sweet om op haar beste te lyk en voel nie. Foto: Verskaf

Soms kom sy weekaande eers om halftien tuis, doodmoeg. 

“Maar my werk is deel van wie ek is. As ek nie daardie deel van my kan uitleef nie, sal ek nie voluit myself hier by die huis kan wees nie,” sê sy. 

Chris gesels saam. Hy is ’n gebore Brit wat in 2008 van Engeland na Suid-Afrika getrek het om die Franse horing in die Johannesburgse Filharmoniese Orkes te bespeel.

“Dis die rede hoekom ek getrek het, maar nie hoekom ek gebly het nie,” skerts hy. Kort ná sy aankoms in Suid-­Afrika het hy en Rozanne mekaar ontmoet en het hy op haar verlief geraak.

Deesdae is hy ook die direkteur van musiek by die Morris Isaacson-musieksentrum in Soweto. Terwyl ons koffie drink, hardloop klein Fallon soos ’n warrelwind deur die huis. 

“Die lewe was baie anders toe dit nog net James was. Ons het baie ge-faff oor hom. Maar wanneer dié een (Fallon) iets op die grond optel en eet, dan is dit ’n geval van: oh well,” sê Rozanne vrolik.

Eenkant sit James met sy neus in ’n boek.

“James is ’n baie emosio­nele kind,” vertel Rozanne. “Hy is soos sy pa. Hy kyk altyd eers die kat uit die boom. As Fallon klim en sy val, gee sy nie om nie. Nes ek.”

Sy vertel James het nog altyd goed geslaap. Maar met Fallon was dit anders. “Sy was ’n koliekbaba,” verduidelik Rozanne.

Die min slaap met Fallon snags ná haar lang werkdae het ’n fi­sieke en emosionele tol van Rozanne begin eis.

“Ek het gedink ek is besig om van my kop af te raak. Ek het gedink ek is die slegste ma op aarde, dat ek haar ongelukkig maak. Dit het op ’n punt gekom dat ek in ’n diep, donker gat wou kruip en niemand om my wou hê nie.”

In Februarie verlede jaar, vyf maande ná Fallon se geboorte, het Rozanne professionele hulp gaan soek. “Dit was iets waarvoor ek so bang was. Ek het gedink as ek op medikasie gaan, gaan my hele persoonlikheid verdwyn.”

Sy was sowat ’n jaar op die medikasie waaroor sy eers so skaam was. “Eindelik het dit my gehelp om weer ek te wees.” 

Benewens die gebruik van antidepressante het sy ook met behulp van ’n slaapafrigter begin om Fallon se slaap­patrone te normaliseer. 

Eindelik het Rozanne, wat nog altyd haar gesinslewe in die sosiale media gedeel het, besluit om ook dié stryd van haar openbaar te maak.

Om ander ma’s wat dieselfde deurmaak te wys dis oukei; hulle het niks om oor skaam te wees nie. En ook omdat sy glo jy deel nie net goeie dinge in die sosiale media nie. 

“Ja, jy moet versigtig wees met die inligting wat jy deel. Maar ek dink in baie opsigte het die sosiale media mense nader aan mekaar gebring juis sodat ons in mekaar se lief én leed kan deel.”

Hoewel Fallon en Rozanne deesdae beter slaap, is die uitdagings van ma-wees nie eensklaps verby nie. 

“Daar is heelwat oor ouerskap waaroor jy jou misgis. Ons het gedink as James die dag begin verstaan, sal hy alles doen wat jy vir hom sê. Dis nie so nie.” 

Rozanne Mckenzie, omroeper,kinders,familie
Fallon is haar ouer boetie, James, se skaduwee en doen alles wat hy doen. Albei is lief vir leesboeke, al kan nie een van hulle al lees nie. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy is baie dankbaar vir Chris se steun met die kinders. “Hy help my baie. Ons sien mekaar saans wanneer die kinders gaan slaap.

Ons beplan ons tye om dinge saam te doen, soos uiteet. Saterdag­middae gaan ons almal saam park toe, of Sondae kyk ons saam Netflix.” 

Oefening en gesonde eet­gewoontes help Rozanne om die stres van haar besige lewe te bestuur. Sy kombineer kardio- en krag­oefening in die gimnasium en eet nooit saans ná sesuur kool­hidrate nie. 

“Wanneer ek goed eet, voel ek net soveel gesonder, maar in strestye eet ek soms baie suiker. Ek kan vier uur lank oefen, maar balans is vir my die moeilikste.”

Ma-wees is vir haar die belangrikste werk wat sy al aan­gepak het, maar sy bly passievol oor haar beroep en sien kans vir al die kanse wat na haar kant toe kom.

“Dit gaan vir my daaroor om ’n handelsmerk te wees; vir mense om my te nader omdat hulle weet wat die gehalte van my werk is.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!