Die trio het sedert hul eerste album in 2011 uitgereik is, gehore landwyd met hul energieke musiek uit hul stoele gelig en saam laat dans. Hulle is bekend vir treffers soos Gebore om Jou Lief te Hê. 

Die groep bestaan uit Hugo Ludik, Reynardt Hugo en Kyle Grant. Hulle het op 23 Maart verlede jaar hul vyfde en laaste album, Bewe, uitgereik.

Adam
Reynardt Hugo, wat ook die rol van dr. Tertius in die sepie Binnelanders vertolk. Foto: Verskaf.

Kyle het eers later by Adam aangesluit toe die sanger Joe Foster in 2013 die groep verlaat en na Brenton-on-Sea, wes van Knysna, verhuis het.

“Hoewel ons bewe van opgewondenheid (dat die mense die album moet hoor), bewe ons ook ’n bietjie van senuwees oor hoe die mense dit gaan ontvang. Ons is wel verskriklik opgewonde en voel gerus dat ons ons heel beste gegee het op die album,” het Hugo toe aan Huisgenoot gesê.

Die groep het vier maande gelede hul laaste musiekvideo uitgereik vir hul gewilde treffer Iets in die Water van hul album Bewe.

Toe die liedjie uitgereik is, het Kyle aan Huisgenoot gesê hulle is reeds besig met die volgende projek. “Ons is tans besig met die idee van ’n ‘Beste van . . . tot dusver’-album, wat ook ’n paar nuwe liedjies sal insluit.”

Adam
Die Adam-lid Hugo Ludik. Foto: Verskaf.

Of dié projek steeds die lig gaan sien, sal aanhangers maar moet sien. Volgens ’n verklaring het Adam besluit om aan die einde van 2019 dié suksesvolle hoofstuk van hul lewe vaarwel toe te roep en sal hulle net tot dan vir optredes beskikbaar wees.

“Aan my medegroeplede: Dit was ’n eer om saam met julle die verhoog te kon deel. Deur dik en dun het ons saamgestaan, het ons musiek ons nommereen-prioriteit gebly en het ons ons liefde vir musiek gedeel,” het Reynardt gesê.