'n Baba en ’n debuutalbum

Die rapper Yoma (25) en haar bekende man, die rapper en Pasella-aanbieder HemelBesem (36), het in Desember hul eersteling, die babadogter Engel, in die wêreld verwelkom.

Yoma se reis na moederskap was grootliks die inspirasie vir haar nuwe album, Moedertaal, wat op 21 Februarie, Internasionale Moedertaaldag, uitgereik is.

Yoma (25) en haar bekende man, die rapper en Pasella-aanbieder HemelBesem (36), met hul eersteling, Engel.

Op Moedertaal, haar eerste vol­lengtealbum, is haar persoonlikste liedjies tot dusver, sê Yoma, wie se regte naam Claudia Witbooi is.

“Hoewel alles wat ek voorheen gedoen het vir my spesiaal was, lê dié projek my baie na aan die hart, want ek en Engel het dit feitlik saam geskryf,” vertel Yoma, ’n boorling van George wat deesdae in Johannesburg woon.

“Engel Witbooi is die hoogtepunt van alles. Wanneer sy glimlag, maak dit my dag. Ek leer soveel by haar; sy bring genesing sonder dat sy dit besef. Sy’s ons lig. Sy’s die beste geskenk.”

’n Liefde vir Afrikaans en ma-wees

Moedertaal draai om haar liefde vir Afrikaans en haar reis na ma-wees.

“Ek hoop die album sal meer vroue inspireer om hul stories te deel. Ek dink dis belangrik om wanpersepsies oor swangerskap af te breek. Almal se reis verskil.”

Liedjies soos My Pens lê haar na aan die hart.

“Dit handel oor die mooi van swangerskap en dat vroue steeds sexy moet voel al is hulle hoog­swanger. Jy moet gemaklik wees in jou eie lyf.”

Haar rots

Aan die liefdesfront gaan dit klopdisselboom.

Yoma en HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, is in 2016 getroud. Hulle het saam die liedjie En Dit Was Goed op haar nuwe album opgeneem. Die klem in dié liedjie val op hoe belangrik ’n pa-­figuur in kinders se grootwordjare is.

“Te gereeld kom mans nie hul verantwoordelikheid na nie. Ek is dankbaar dat my man daar is.

“Swangerskap is mooi en heilig, maar ook uitdagend en dit het vir my die wêreld beteken om my man se hulp en bystand tydens die swangerskap te hê.”


Resensie

Lyflam deur Hennie Jacobs

***

Die vierde album van dié 7de Laan-akteur is stukke beter as byvoorbeeld die album Chilli Confessions, waarmee hy in 2006 die musiekmark betree het.

Die titel verraai reeds dat die album die liefde in al sy verskillende vorme belig.

Die titelsnit gaan oor daardie onbeskryflike gevoel wat ’n mens vir iemand besonders ontwikkel; dis ook die snit wat die meeste beïndruk.

Hennie, wat die rol van Diederik Greyling in 7de Laan vertolk, sluit ook ’n duet saam met nog ’n 7de Laner, Hildegardt Whites (wat Bonita speel), op die album in. Die twee pak saam die klassieke country­treffer Jolene aan. 

– JACO HOUGH-COETZEE


Hoe nou?

Elton John

Hy het die sosiale media laat gons toe hy op die Brit-prysaand die sanger Ed Sheeran se van verkeerdelik as “Shir-ann” uitspreek toe hy deur ’n videoboodskap die Global Success-prys aan hom oorhandig.

Boonop het Elton hom as “ ’n hegte vriend” beskryf. Ed se aanhangers was nie ingenome nie.

Dis nie die eerste keer dat ’n ster so ’n flater begaan nie. John Travolta het op die Oscar-aand in 2014 Idina Menzel, die sangeres van die liedjie Let It Go, Adele Dazeem genoem.

Sade

Die Britse sangeres, bekend vir die treffer Smooth Operator, het haar eerste nuwe liedjie in agt jaar, Flower of the Universe, opgeneem. Dit is haar eerste nuwe musiek sedert 2010.

Dit is op die klankbaan van ’n nuwe fliek, A Wrinkle in Time, waarin sterre soos Oprah Winfrey speel.