’n Mens hoor altyd die geboorte van jou kind is die grootste oomblik van jou lewe, maar hy het nooit kon dink daardie oomblik kon so emosioneel wees wanneer jy die outjie vir die eerste keer vashou nie.

“Ek het so gehuil, ek kon skaars sien!”

So gesels die sanger Jan Rhaap, oftewel Werner Burger, oor die geboorte van sy en sy vrou, Nadia, se eersteling. Chris-John is op Woensdag, 2 Mei, in die Mediclinic in Kimberley gebore.

Die pasgebore Chris-John. (Foto: Verskaf)

Die fris bulletjie is 51 cm lank en weeg 3,26 kg.

“Mense sê dit is ’n stewige knapie," vertel Werner, "maar wanneer jy daardie lyfie vashou, is hy maar bitter klein."

Hy en Nadia woon op sy familieplaas, Klein-Juanana, in die distrik Niekerkshoop in die Noord-Kaap, waar hy met beeste boer.

Die twee het mekaar in 2015 ontmoet en is in September 2016 op Prieska getroud.

Werner vertel hy het reeds “belangrike dinge” in klein Chris-John se oor gefluister. “Dinge soos beesboerdery, jag en rugby. Dis goed wat ’n seun moet weet. Maar ons sal maar later sien of hy geluister het!”

Werner en Nadia. (Foto: Verskaf)

Die liedjie Huisie in die Bos, ’n duet wat Jan Rhaap saam met Juan Boucher opgeneem het, boer tans op die trefferlyste van radiostasies landswyd, terwyl die video gereeld op die kassie gesien word. Hierdie video is juis op Werner se plaas verfilm.

Jan Rhaap se debuutalbum, Laaste Kans, is in 2014 uitgereik. Twee jaar later het Op-gerhaap aan die beurt gekom.

Op die oomblik werk hy aan sy derde album, wat na verwagting einde Junie uitgereik word.