Wanneer hy nie in superheldflieks skurke aanvat nie, hang Chris Hemsworth in sy huis van R105 miljoen aan die kus van Byron Bay in Australië uit.

Maar glo dit of nie, die sexy akteur het onlangs aan die tydskrif GQ erken sy rykdom laat hom ­ongemaklik voel.

“Ek voel goor daaroor,” sê Chris van sy fortuin, wat op R1,3 miljard geraam word.

Chris het op 29 September 2018 sy opwagting by die San Sebastian-filmfees in Spanje gemaak. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Ek onthou ek het vir ’n branderplank gespaar toe ek jonger was. Die branderplank was seker so R1 000, en ek het met my pa se hulp ’n hele jaar gespaar. Ek wou nie eens daarop ry nie, want ek was bang ek beskadig dit. Dit het my so baie lesse oor waardering en harde werk geleer.”

Die Thor-ster, wat met die Spaanse aktrise Elsa ­Pataky (42) getroud is, sê daar is lesse wat hy by sy kinders – India (6) en die tweeling Sasha en Tristan (4) – wil inboesem.

“Wanneer ek oor my kinders dink, wil ek nie hê hulle moet daardie vreugde misloop nie. Ek wil nie hê hulle moet voel hulle is op enige manier bevoorreg nie,” sê hy.

“Die feit dat ons geld het en hul ouers beroemd is of dat hulle op die een of ander manier spesiaal is, maak my bang.”