“Okei, so baie min mense weet dat ek op sowat 12 ’n bietjie klassieke opleiding gehad het nie,” sê Charlize, wat tans 33 weke swanger is met haar eersteling by die video.

“Ek is glad nie ’n opera-sanger nie, maar ek is dol oor alle musiek en hou daarvan om ander genres te probeer.” Dis hoe die “Pie Jesu oomblik” gebeur het, vertel Charlize, wat bekend is vir liedjies soos Braaf en As Jy Weet Dis Liefde.

“Wat ’n pragtige liedjie wat eer gee aan God,” skryf die 25-jarige sangeres. “Terloops, ek is 33 weke swanger. Dié baba gaan singend uitkom,” het sy by die inskrywing gesê.

Charlize en haar man, Warren Linden, wat saam met haar in hul werklikheidsreeks Die Bergs op VIA te sien was, kan nie wag vir hul dogtertjie se geboorte nie.

Die kleinding, wat Aleiah-Rose gaan heet, maak na verwagting op 17 April haar opwagting. Dis presies ’n week ná Charlize se 26ste verjaardag en vier dae ná haar en Warren se eerste huweliksherdenking.

Sy sal glad nie verbaas wees as haar kleinding eendag in haar musiekvoetspore volg nie, sê Charlize aan Huisgenoot.

“Ek het nou al so baie gesing in die agt maande wat ek swanger is! En as sy nie gaan sing nie, sal sy verseker ’n oor vir musiek hê,” vertel ’n opgewonde Charlize.