Richard Gere se derde vrou, die Spaanse aktivis Alejandra Silva (35) is swanger. Die twee het in April in New York getrou nadat hulle in 2015 begin uitgaan het.

Die twee het mekaar ontmoet toe Richard in ’n hotel in Italië gewoon het wat deur Alejandra se familie besit is.

Hierna het die romantiese Richard haar gereeld blomme gestuur tot sy ingestem het om met hom uit te gaan. Nou skryf hy ook gereeld liedjies vir sy haar.

Richard Gere en Alejandra Silva. Foto: Getty Images
Meer oor Alejandra

Sy was vier jaar oud toe haar ouers van La Coruña in Spanje na Madrid verhuis het. Elf jaar later het sy na Dorset in Engeland verhuis. Benewens haar ouers se hotelryk, was haar pa, Ignacio Silva, die gewese vise-president van die bekende Real Madrid-sokkerspan.

Alejandra het in 2007 'n nie-winsgewende organisasie Beautiful Life-fonds saam met Karolina Kurkova, 'n Tsjeggiese model en Victoria's Secret Angel, tot stand gebring. Die organiasie fokus op die lot van vlugtelingkinders, oorlogslagoffers en die opvoeding van hawelose kinders wêreldwyd.

Sy ondersteun ook die Rais-stigting vir haweloses in Spanje.

"Ek het op straat geslaap om die stryd van haweloses beter te verstaan. Ek is nie bang om my moue op te rol en die werk te doen nie. As ek iets aanpak, pak ek dit 100 persent aan. As ek dit nie kan doen nie, doen ek dit liefs glad nie."

Richard ken haar familie reeds vir ongeveer 15 jaar. "Toe ek hom weer in Positano raakgeloop het, het ek hom aan ons storie herinner. Ons karma het ons byeen gebring want die oomblik toe ons mekaar gesien het, het ons geweet ons ken mekaar reeds deur verskeie leeftye.

Bronne: hollywoodlife.com, people.com

'Gelukkigste man'

Richard het in vorige onderhoude gesê hy is die “gelukkigste man op aarde”.

“Hoe kan ek nie wees nie. Ek is getroud met die mooiste vrou wat slim, sensitief en daartoe verbind is om mense te help; wat prettig en geduldig is, wat weet hoe om te vergewe, wat ’n goeie kok is – en wat die beste slaai in die wêreld maak.”

Alejandra het ’n seun saam met haar eksman, Govind Friedland, met wie sy vanaf 2012 tot 2015 getroud was.

Govind Friedland, Alejandra se eks. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Alejandra met haar seun in November 2015 in Spanje. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Richard het ook ’n seun, Homer (18), by sy eksvrou, die aktrise Carey Lowell, met wie hy vanaf 2002 getroud was. Hul egskeiding is eers in 2016 gefinaliseer.

Richard was ook voorheen getroud met die supermodel Cindy Crawford vanaf 1991 tot 1995.

Bronne: UsWeekly, Mirror