Die rede? Op die foto lyk dit of die ma van ses die horlosie heeltemal teruggedraai het!

“Die enigste plek waar ’n koningin kan wegkruip, is die badkamer!,” het die ikoon, wat in Augustus haar 60ste verjaardag vier, by dié badkamerselfie geskryf.

Op die vleiende kiekie, waarop sy duidelik filters gebruik het, is haar vel vlekloos en sonder ’n plooi.

Haar aanhangers kon ook nie genoeg kry van die selfie nie.

“Jou vel lyk lieflik,” het een laat hoor. “Daardie wangbene werk oortyd, laat hulle rus vir ’n dag dame. #perfektegesig,” het nog een van haar 10,8 miljoen Instagram-aanhangers laat hoor.

Net ure later het steelfotograwe haar egter gekiek toe sy ’n partytjie in New York verlaat het, berig Mirror.

Met 'n sonbril op die oë het sy ewe die flitsende kameras probeer vermy, maar nie voor hulle die “regte” Madge vasgevang het – en dit sonder ’n filter in sig. Die Material Girl-sangeres het egter nog steeds jare jonger as haar 59 jaar gelyk, berig Mirror.

Madonna het in 2014 haar eie velsorgreeks, MDNA, bekendgestel. Een van die vele produkte in die reeks sluit in ’n chroomkleimasker wat magneties van die gesig verwyder word met ’n verjongingsapparaat, berig Hello!.

Sy probeer ook vreemde skoonheidsroetines om ewig jonk te lyk.

Sy het vroëer vanjaar ’n speelse video op Instagram gedeel en toe gebieg dat sy ook vurke – ja vurke! – inspan as deel van haar skoonheidsroetine. Haar gesig word met die vurke gemasseer.

Madge oefen ook glo tot vyf keer per dag, het haar persoonlike afrigter, Stacey Griffith, al laat val. Sy doen alles van joga tot boks en gewigoefeninge en het tot in 2010 haar eie rits Hardy Candy Fitness-gimnasiums geopen, berig Hello.

Tog is nie almal oortuig haar jeugdige voorkoms is net te danke aan oefening en velsorgprodukte nie.

Die ster het al deurgeloop onder gerugte dat sy onder die mes gegaan het, maar sy ontken dit.

“Ek is wat ek is. Ek hou nie van die idee dat iemand jou aan die slaap maak en dan messe op jou gebruik nie,” het sy al laat hoor.

Sommige Instagram-gebruikers is ook nie altyd gelukkig wanneer sy die klere laat waai in selfies wat sy op dié sosiale netwerk deel nie. Van hulle het veral gal gebraak toe sy bostukloos met net ’n handsak geposeer het. “Ag nee, hel, word groot!” het een laat hoor.

“Dis pateties dat jy jou ou borste op amper 60 wys,” het nog een gekla.

Maar Madge steur haar duidelik min aan dié kritiek . . .

Bronne: Mirror online, Hello