Die voormalige Mej. Suid-Afrika Cindy Nell-Roberts sê sy mis haar mense net te veel wanneer sy vir die verfilming van die reeks moet reis.

“Dit was ’n moeilike besluit, maar ek wil naweke tuis saam met my kinders en man deurbring,” sê sy aan Huisgenoot.

Cindy vertel al was dit vir haar lekker om aan die vorige aflewering van die reeks te werk, is sy nie meer bereid om gesinstyd te besnoei nie.

“My kinders kom eerste.”

Sy wil ook vanjaar fokus op haar liefdadigheidsprojek, Woman 4 Woman, wat voorheen benadeelde vroue ophef en bemagtig.

“Ek is in ’n tyd van my lewe waar ek wil teruggee – tyd teruggee aan my kinders en tyd gee vir my liefdadigheidsprojek. Dit is wat my hart vol maak.”

Die pragtige donkerkopma van Ethan (6) en Aenea (4) laat ma-wees mooi en maklik lyk wanneer ’n mens na haar Instagram kyk.

“Hulle word so gou groot,” het Cindy onlangs by ’n pragtige foto van haar en haar oulike dogtertjie geskryf.

Aenea is nes haar mamma nie skaam vir die kamera nie en blaas vol selfvertroue soentjies met haar hartjiesonbril op die kop.

“Sy’s verlief op die bril en dra dit elke dag. Om te verduidelik sy kan dit nie skool toe dra nie, is ’n daaglikse gesprek.”

Op ’n ander pragtige foto is ma en dogter in wit handdoeke toegedraai voor ’n spieëlkas.

Die dogtertjie balanseer in haar ma se tiervelskoene op hemelhoë hakke.

“Is dit nie waaroor ma-wees gaan nie?” skryf Cindy by die foto.

Nog ’n oulike foto wys hoe Cindy vir Aenea ’n nuwe hangertjie aansit.

“Aantrek-aantrek saam met mamma het pas sommer baie lekkerder geword,” skryf sy hierby.

En mamma se lewe het ook lekkerder geword noudat sy kan uitsien na ’n jaar waarin sy meer tyd by haar kinders kan deurbring.