Geïnk

Ajiona het vier tatoes. ‘Een is agterop my nek, ek het een agter elke oor en aan die kant van my ribbekas,’ sê sy.

Sy’s hardwerkend

Ajiona het haar ongelooflike werketiek en passie bewys toe sy vertel het sy het die reekse Empire en 13 Reasons Why en die rillerprent Acrimony alles ­gelyktydig verfilm, boonop in verskillende stede!

G’n groentjie in die bedryf

Sy is Ajiona Alexus Brown gebore en het al op 12 begin toneelspeel.

Die Amerikaanse aktrise (22) is die bekendste vir haar rolle in die gewilde TV-reekse Empire en 13 Reasons Why. Vanjaar het sy ook die silwerdoek aan die brand gespeel in die rillerprente Breaking In en Acrimony.

Die Taraji-konneksie

Sy het vanjaar die tweede keer ’n jonger weergawe van die ­aktrise Taraji P. Henson (48) gespeel in die rillerprent Acrimony. Ajiona vertolk ook die rol van die jonger Cookie Lyon, Taraji se karakter in die reeks Empire.

Letsel

Ajiona was en is steeds ’n regte rabbedoe. Sy het op ses geval en ’n groot litteken aan haar regterwenkbrou opgedoen, vertel sy. Hoewel sy aanvanklik selfbewus was oor dié litteken, is sy nou trots daarop, sê sy.

Vele talente

Sy is ook ’n sangeres en het vroeër vanjaar die liriekvideo vir haar liedjie Baggage uitgereik.

Sy hoor boonop gereeld sy lyk nes twee gewilde sangeresse – Rihanna en Janet Jackson.

“Dis ’n groot kompliment, want hulle albei is in die musiekbedryf en het ’n groot invloed op my gehad.”