Hy het met die wete grootgeword dat sy oupa een van die bekendste maar ook mees omstrede kerkleiers in die land was en die sluipmoord op hom nooit opgelos is nie.

Dr. Johan Heyns (66) is op Guy Fawkes-aand in 1994 in sy huis in Waterkloofrif, Pretoria, doodgeskiet terwyl hy saam met drie van sy kleinseuns sit en kaart speel het.

Die akteur Adam Heyns (28) was nie een van die drie wat by die voormalige moderator van die NG Kerk was toe die enkele skoot deur die venster van die woonvertrek afgevuur is nie. Die koeël het hom agter in sy nek getref.

Adam, wat sy oupa se middelnaam het, het wel as vyfjarige die begrafnis bygewoon.

“Ek onthou die stoet en hoe ons met die hoofligte aan deur Lynwoodweg (in Pretoria) gery het. Op ’n hartseer foto staan ek en my suster en my een nefie by die kis en die trane loop.”

Op sy oupa se begrafnis staan sy suster Renée, sy neef Paul en die vyfjarige Adam by die graf.

Waar ons in ’n restaurant in die hartjie van Kaapstad gesels, beduie hy met sy vingers waar die traanspore was.

“Ek dink ek het toe besef mense gaan dood en hulle kom nie weer terug nie.”

Tog het die akteur wat onlangs na die Moederstad verhuis het, nooit volkome verstaan waarvoor sy bekende oupa alles geveg het nie. Sy sienings het die kerkleier destyds vermoedelik ’n teiken vir verregse ekstremiste gemaak.

'n Boks vol VHS-bande

Toe sy ouma Renée Heyns (nou 85) op ’n dag twee jaar gelede ’n boks vol VHS-videobande in Adam se hande druk, was dit asof ’n sluier oor die verlede lig. Onverwags het hy met ’n argief van toesprake van sy oupa en onderhoude met hom in sy hande gestaan.

Op Adam se geboortedag op 3 Julie 1989 saam met sy ouma Renée en oupa Johan, wat later vermoor is.

Adam het die een videoband ná die ander bestudeer en byna vanself het ’n dokumentêr oor sy bekende oupa se werk en dood begin vorm aanneem.

Dit is getiteld Dr. Johan Adam Heyns: Exorcist of Apartheid en sal op 23 Augustus vertoon word wanneer die oud-politikus en predikant dr. Allan Boesak die Johan Heyns-gedenklesing by die Universiteit van Pretoria lewer.

In die dokumentêr vertel Johan se weduwee, Renée, van die gebeure van die verskriklike aand toe haar man voor haar en hul oudste seun, Stephan, se kinders, Johan (toe 10), Theo (toe 8) en Hannes (toe 2), doodgeskiet is.

Swaarder gordyne

Die familie het in die laat 1980’s ’n aanslag op Johan se lewe gevrees toe hy as moderator die NG Kerk se steun vir apartheid bevraagteken, maar hulle het nie verwag ’n sluipmoordenaar sou op 5 November 1994 toeslaan nie.

“Sy (Renée) het glo in die verlede vir hom gesê hulle moet swaarder gordyne vir die vertrek kry waar dit gebeur het. Hy het net vir haar gesê as hulle hom wil kry, sal hulle hom kry.”

In Europa, waar Adam se pa, prof. Christof Heyns (nou 59), destyds met navorsing besig was, het die gesin die nuus oor Johan se dood gehoor.

Hulle het ’n jaar in Heidelberg, Duitsland, gewoon, vertel die akteur wat as ’n strooijonker in die rolprent Wonderlus te sien was. Hy vertolk ook die manlike hoofrol teenoor Mila Guy in ’n nuwe rolprent, Soek Jy ’n Lift?, wat pas klaar verfilm is.

Adam, ’n akteur en rolprentmaker, was ook in die fliek Wonderlus te sien.

Adam se pa is ’n menseregtekenner verbonde aan die regsfakulteit van die Universiteit van Pretoria en hy doen werk vir die Verenigde Nasies. Sy ma, Fearika Heyns (59), is ’n grafiese ontwerper en hy het twee susters, Willemien Rust (31) en Renée Heyns (26).

Ná byna 24 jaar onthou hy nog die naweek van sy oupa se dood toe hulle in Switserland gereis het.

“Ons het êrens heen gegaan om te gaan watervalle afneem. Dit was koud,” vertel Adam.

“Ek, my ma en my een sussie het gaan foto’s neem en toe ons by die kar kom, het my pa aan die passasierskant gesit. Hy het ’n donkerte om hom gehad en ek kon sien iets is nie lekker nie. Hy het Duits nie goed verstaan nie, maar iets oor die radio gehoor.

“Ek onthou net ons het toe opgepak en huis toe gegaan. Die res is vaag.”

Die hele storie

Die gesin het vir die begrafnis Suid-Afrika toe gekom. In die dae voor die roudiens was die familie saam by die huis toe ’n swart man instap en sy nefie optel. Later het Adam gehoor dit was  Nelson Mandela.

“Hy en Johan Heyns het mekaar geken.”

Gunsteling Afrikaner

In sy boek Playing the Enemy skryf John Carlin dat Nelson Mandela vir Johan Heyns "as sy gunsteling tipe Afrikaner" beskryf het.

"Moreel en fisies dapper, absoluut eerlik. Hy het laat in sy lewe die moed gehad om die foute van sy denkwyse in te sien". 

Bron: up.ac.za

Dis ook hoe Adam herhaaldelik na sy oupa verwys; ’n oupa op wie hy met reg trots kan wees, soos hy met die maak van die dokumentêr besef het.

Hy het die afgelope drie jaar alles oor sy oupa se lewe en dood gelees, vertel Adam, wat ’n graad in filosofie, tale en rolprentstudie aan die Universiteit van Pretoria gevolg het.

Hy het ook die NG Kerk se argief besoek en onderhoude met mense soos oudpres. FW de Klerk en oudmin. Pik Botha gevoer. Hulle het sy oorlede oupa goed geken.

Maar op die ou end het die vonds wat sy ouma weggebêre het alles opgelewer waarna hy op soek was.

“Die hele storie was in daardie boks,” sê hy.

“Weet jy hoe wonderlik dit is om te kan terugkyk, veral as ’n wit Afrikaanse man, en te sien almal was nie so sleg soos hulle vir my gesê het nie. En Johan Heyns was nie die enigste een nie; daar was ook ander.”

Sy oupa se geloof het hom in staat gestel om soveel te vermag, glo hy.

“Hy was gelowig en goed ingelig. En Max du Preez (die joernalis en politieke kommentator) het vir my gesê hy dink iets wat hom (Johan) gehelp het, is dat hy aantreklik was. Hy het ’n afgeronde, netjiese voorkoms gehad. Hy was glo ook ’n goeie luisteraar en altyd stiptelik.”

Johan was tussen 1986 en die vroeë 1990’s die moderator van die NG Kerk en het ’n deurslaggewende rol gespeel om die kerk se amptelike standpunt oor apartheid te verander.

Wyle dr. Johan Heyns was een van die bekendste NG Kerk-­moderators.

Die polisie kon nooit sy moordenaar vastrek nie, maar het gemeen dit was die werk van verregse ekstremiste.

In die dokumentêr sê Renée die skokkende gebeure van die aand van die sluipmoord was byna nie vir haar “onbekend” nie, vertel Adam.

“Sy was ’n maatskaplike werker en toe dit gebeur, was sy op daardie oomblik amper nie getraumatiseer nie. Sy het geweet sy moet die kinders wegkry en die polisie bel en deur die emosies gaan.”

Wie is die moordenaar?

Al het hy nog nooit met sy drie neefs gepraat oor die aand van die moord op hul oupa, waarvan hulle as kinders ooggetuies was nie, sê Adam die familie het nooit wraakgedagtes gekoester nie.

Hy vertel van ’n onderhoud met sy oom Johan-Dirk, wyle Johan se jongste seun, ’n dag ná die sluipmoord wat deel van die dokumentêr uitmaak.

“Hy het gesê dit is vir ons ’n geweldige skok, maar sy pa was ’n kerkman, hy het sy lewe aan die kerk gewy en ons hoop die moordenaar kan vrede vind.”

Die polisie het destyds vermoed hy is met 'n jaggeweer doodgeskiet. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Adam wil nie bespiegel oor wie die moordenaar was nie.

“Ek wil nie hê mense moet dink ek soek die moordenaar nie; dis nie waaroor dit gaan nie.”

Vir hom is die kern van die dokumentêr dié woorde van sy oupa in ’n toespraak: “Ons enkele grootste uitdaging, nie net vir politici nie, maar ook vir die kerk in Suid-Afrika, is om die vrees van wit mense met die aspirasies van swart mense te versoen.”

Dan sê Adam: “Dit is wat my oupa probeer fasiliteer het. Hy was ’n bemiddelaar, ’n moderator en ’n brugbouer.

Foto's: Misha Jordaan, Gallo Images/Rapport/Media24, Verskaf