Barbra het oor die paartjie se pad gekom toe hulle ’n skoonmaakdiens genader het om iemand te kry om uit te help met die "chaos in ons huis oor die vakansie", skryf Tim in die sosiale media.

Hulle het toe op 3 Januarie Barbra oor haar familie begin uitvra en die volgende uitgevind: "Sy het haarself deur universiteit gesit deur as ’n huishulp te werk, en het sopas einde 2018 haar LLB graad verwerf - met ’n paar onderskeidings ook nog!" het Tim in die sosiale media geskryf by ’n foto van hom, sy vrou, Juanli, en Barbra. 

View this post on Instagram

LEES ASB: Hierdie awesome dame is Barbra Gurupira. Ons het haar deur @sweepsouth_sa gekry om ons so ‘n paar keer te help met die chaos in ons huis oor die vakansie. Gister vra ons haar so ‘n bietjie uit oor haar familie en vind toe die volgende uit: sy het haarself deur Universiteit gesit deur as ‘n huishulp te werk, en het sopas einde 2018 haar LLB graad verwerf - met ‘n paar onderskeidings ook nog! Maar nou het sy iewers nodig om haar articles te doen. 1. Sy is duidelik nie bang vir hard werk nie, en baie gedissiplineerd - jy werk en swot immers nie tegelykertyd sonder daardie kwaliteite nie. 2. Haar Engels is uitstekend, en uit ons gesprekke was dit duidelik dat sy ‘n goeie kop op haar skouers het - sy en haar man (‘n rekeningkundige wat homself op soortgelyke manier ook deur Universiteit gewerk het) werk duidelik met ‘n plan om te kom waar hulle wil in die lewe. 3. As jy ons huis gesien het voor sy kom help het, sou jy geweet het sy skrik nie vir uitdagings nie! ?? Enige prokureurs/regspraktyke (in die Kaap verkieslik) wat bereid sou wees om haar ‘n onderhoud gee om ingeneem te word om haar articles te doen? Hier is ‘n kans om iemand ‘n geleentheid te gee wat ‘n massiewe verskil in haar en haar familie se lewe sal maak. Ons het al haar besonderhede, asook punte staat as bewys van haar kwalifikasie.

A post shared by Tim Theron (@timtheron) on

Tim en sy vrou was stomgeslaan toe hulle Barbra se verhaal hoor. Die reaksie was oorweldigend nadat hy Barbra se inspirerende storie in die sosiale media gedeel het. Hy het ook sy volgelinge gevra of enigeen weet waar sy haar artikels kan voltooi.

"Barbra is nog nie geholpe nie, maar daar is etlike mense wat gevra het vir haar CV, of gevra het dat sy hulle moet kontak, so ons is vol moed!,” vertel Tim vanuit Stellenbosch aan Huisgenoot. "Sy is stomgeslaan deur al die mense wat wil help," sê Tim, wat al te sien was in flieks soos Vuil Wasgoed en Klein Karoo.

Sy kom oorspronklik van Zimbabwe af en dit was soos ’n berg voor haar om iewers ’n voet in die deur hier in Suid-Afrika te kry. Barbra het ’n vyfjarige dogtertjie wat by haar ouers in Zimbabwe bly. 

"Ons het haar net eers die naweek gehelp om haar CV reg te kry, en vandag sertifiseer sy net al haar dokumente,” voeg hy by.

"Ek het ’n profiel wat ek eenvoudig net moes gebruik om haar te help," verduidelik hy. Barbra is ook besig om te studeer om haar as regsekretaresse te bekwaam om daardie opsie ook te hê.

“Maar nou het sy iewers nodig om haar articles te doen,” skryf Tim-hulle in die sosiale media. Hy gee dan ook redes hoekom hy dink sy ’n aanwins sou wees by enige prokureurspraktyk.

“Sy is duidelik nie bang vir hard werk nie, en baie gedissiplineerd - jy werk en swot immers nie tegelykertyd sonder daardie kwaliteite nie. Haar Engels is uitstekend en uit ons gesprekke was dit duidelik dat sy ’n goeie kop op haar skouers het - sy en haar man (’n rekeningkundige wat homself op soortgelyke manier ook deur universiteit gewerk het), werk duidelik met ’n plan om te kom waar hulle wil in die lewe.

“As jy ons huis gesien het voor sy kom help het, sou jy geweet het sy skrik nie vir uitdagings nie!”

Barbra wil verkieslik by ’n Kaapse firma geholpe raak. “Hier is ’n kans om iemand ’n geleentheid te gee wat ’n massiewe verskil in haar en haar familie se lewe sal maak. Ons het al haar besonderhede, asook puntestaat as bewys van haar kwalifikasie," sê hy.

Tim is eersdaags besig om te vervaardig aan ’n fliek wat op Deon Meyer se boek Spoor gegrond is.

In Februarie skiet hy ook in die Paarl aan sy tonele vir die nuwe kykNET-familiereeks Alles Malan.