Op die kassie sien ons hom nou in die rol van ’n afgetrede polisieman in die nuwe kykNET-reeks Spoorloos wat om ’n reeksmoordenaar draai. Maar in die akteur Lieb Bester se eie lewe het ’n moordtragedie ook al afgespeel.

Nou, 16 jaar later, spook die gebeure van 3 Julie 2002 steeds by hom – die dag toe hy die tyding ontvang dat sy eksvrou Hanlie (40) en hul jongste dogter, Suné (7), dood is en hul oudste, Nicole (toe 10), in ’n kritieke toestand in die hospitaal lê met ’n skietwond aan haar maag.

Die dogters se stiefpa, Gerhard Pieterse, ’n 41-jarige eiendomsagent, het ook sy eie dogter, Elzanne (17), by die gesin se huis in Rooihuiskraal, ’n gegoede buurt in Centurion, doodgeskiet voor hy homself om die lewe gebring het.

“Die hartseer gaan nooit weg nie,” sê die veteraanakteur met die blou oë en silwergrys hare wat veral vir sy rol as prof. Fritz Retief in die kykNET-sepie Villa Rosa onthou word.

Die lagplooitjies om sy oë maak plek vir diep kepe van smart toe hy oor die gesinsmoord praat wat sy lewe onherroeplik verander het. “Op sekere dae van die jaar vang dit ’n mens veral. Suné sou op 17 Augustus 25 geword het,” onthou hy.

Maar al bly die verlange na sy jongste dogter uit sy derde huwelik aan hom knaag, is dit ’n ligpunt in sy lewe dat haar ouer suster oorleef het. “Ek mis Suné se sonskynglimlag, haar drukkies. Maar ek is dankbaar dat Nicole agtergebly het,” sê Lieb (69).

Lieb word tydens Suné en Hanlie se begrafnis in 2002 deur ’n vriendin ondersteun. Foto: Argief.

Die hartseer waarmee hy moet saamleef oor sy jongste kind se lewe wat so wreed kortgeknip is, is nie al stryd wat hy die afgelope jare moes voer nie. Om op aftreeouderdom steeds as vryskutakteur aan die lewe te probeer bly, is nie maklik nie, erken Lieb. “Dit gaan daaroor om te oorleef, om werk te kry. Dit raak ’n oorlewingstryd.”

In die twee jaar sedert ons hom laas op die kassie in Villa Rosa gesien het, het hy harde bene gekou. Hy moes byvoorbeeld sy huis in Sandton, Johannesburg, verkoop, vertel hy waar ons in ’n koffierestaurant in Midrand gesels.

Hy woon nou op Heidelberg by sy broer, Nico (65), wat tot met sy aftrede vir Spoornet gewerk het. “Jy is in ’n gemaksone wanneer jy elke maand ’n salaris by ’n sepie kry. En as dit wegval, raak dit moeilik. Maar gelukkig bly ek en my broer lekker saam – dit help baie om saam kos te koop!” lag Lieb.

Sy oë lag saam en daar is ’n rustigheid aan hom, al sê hy hy sal moet werk tot hy “die dag dood neerslaan”.

Tog bekommer hy hom nie oor die dag van môre nie. “Ek bid elke dag die Here se gebed in Matteus: ‘Gee my vandag my daaglikse brood.’

“Nog nie een dag het verbygegaan dat Hy nie vir my gesorg het nie en dit is al wat ek nodig het.”

Sy loopbaan as akteur strek al oor amper ’n halfeeu. ’n Bloedjong Lieb het sy debuut in 1969 in die teaterstuk Die Ryk Weduwee deur Uys Krige gemaak. Vier jaar later het hy in die eerste van vele rolprente, Seun van die Wildtemmer, verskyn.

Tussen fliek- en televisierolle deur het hy sy brood in die weermag verdien, waarby hy in 1978 voltyds as voetsoldaat aangesluit het. Hy het ook onderwys aan Unisa studeer en spog met ’n meestersgraad in opvoedkunde.

Die rol van die geliefde Prof wat hy 12 jaar lank in Villa Rosa vertolk het, het van Lieb een van Suid-Afrika se bekendste akteurs gemaak. Dit het hom in 2012 en weer in 2013 ’n ATKV-Mediaveertjie vir beste akteur in ’n sepie besorg.

Toe dié sepie in 2016 ten einde loop, het dit hom swaar getref. “Ek het getjank die dag toe alles tot ’n einde kom,” vertel hy. “Onthou, dis ’n hele fabriek wat toemaak en dan skielik is daar niks.’’

Om nou weer op televisie te verskyn is vir hom ’n groot lekkerte. “Dis absoluut heerlik om terug te wees en dit was baie lekker om ’n splinternuwe rol te vertolk. Hierdie reeks is drama op sy beste,” gesels Lieb oor Spoorloos, wat van 9 Oktober af uitgesaai word.

In dié dramareeks oor ’n reeksmoordenaar wat na die spookdorpie Digtersdal in die Oos-Kaap terugkeer, vertolk hy die rol van Gert Neethling, ’n oudpolisieman met ’n donker verlede.

Dis presies die teenoorgestelde van Prof se karakter. “Hulle verskil baie. Prof was sosiaal, hy het ’n uitgebreide familie gehad en kon die lewe se terugslae goed hanteer. Gert is ’n alkoholis, ’n totale introvert en hy steun op niemand anders behalwe sy vrou nie.”

Anders as sy karakter is Lieb enkellopend sedert hy 17 jaar gelede van sy derde vrou, wyle Hanlie, geskei is. Afgesien van sy dogter Nicole Nieman (nou 27) wat destyds die skiettragedie oorleef het, het Lieb ook ’n seun, Gobby (44), uit sy eerste huwelik en ’n dogter, Erika Venter (35), uit sy tweede. Hy is oupa van vier kleinkinders.

Nicole, wat ná matriek as hotelbestuurder en haarkapster opgelei is, woon in Kaapstad en is aan die begin van die jaar getroud. “Ons het van die begin af die genade gekry om nie op die tragedie te fokus nie en kon met die lewe aangaan,” onthou Lieb die uitdagende tyd nadat Nicole se ma en kleinsus van hulle weggeruk is.

Lieb en sy dogter Nicole in 2003 saam met haar hond, Kuschka. Lieb se jongste dogter, Suné, en haar ma, Lieb se eksvrou Hanlie, is in 2002 in ’n tragiese gesinsmoord doodgeskiet. Foto: Argief.

Tog erken hy: “Dit was moeilik om ’n enkelpa te wees, veral vir ’n tienerdogter. Wanneer ek vandag terugdink, besef ek ek het alles heeltemal verkeerd hanteer.” Nicole het ’n jaar ná die tragedie vir haar pa gesê sy wil by haar ma se vriendin, Zylia Marais, in die Kaap gaan woon.

Lieb het in daardie stadium as onderwyser in Pretoria gewerk. “Ek het dit verstaan; sy het ’n ma nodig gehad. Ek moes haar laat gaan. Dit het geen letsels gelaat nie,” sê hy van die tyd toe hy Nicole net in skoolvakansies te sien gekry het. “Sy het ’n wonderlike opvoeding gehad en ek is dankbaar daarvoor.”

Ná drie mislukte huwelike en ’n verhouding met ’n jonger vrou wat ook nie uitgewerk het nie, is Lieb nie gretig om weer te trou nie. “Ek het veral baie lesse uit my laaste verhouding geleer. Byvoorbeeld dat ’n generasiegaping ’n baie groot probleem kan wees. Ek weet nie hoekom ’n mens altyd ná die tyd besef iets het nooit gewerk nie,” sê hy reguit.

Om alleen te wees is ’n werklikheid waarmee hy begin vrede maak. “Die lewe is makliker wanneer jy op jou eie is, en daar is geen beloftes om aan mense te maak nie. “Ek sal nie sommer weer trou nie. Ek word ouer; ek werk in ’n moeilike bedryf. Ek wil nie hê iemand moet as gevolg van my sukkel nie,” verduidelik hy.

Sy passie vir sy werk – as akteur en ook musikant – laat hom elke dag met nuwe lewenskrag aanpak. Lieb, wat ses instrumente – klavier, orrel, klawerbord, trekklavier, konsertina en kitaar – bespeel, hou gereeld konserte in ouetehuise en kerke. “Ek is dankbaar vir die talent en geniet dit baie om musiek te kan maak.” Twee keer per week redigeer hy ook RSG se oggendgodsdiensprogram. Al het hy nog geen idee watter rol ná Spoorloos sy kant toe sal kom nie, bly hy positief oor die toekoms. “Ek het op ’n dag besef ek is nie so sterk nie, maar as ek in die krag van die Here leef, dan is ek sterk. Dit is deel van my lewensfilosofie om te weet vandag is die eerste dag van die res van my lewe. Leef hom voluit.”

Lees hier nog oor Spoorloos, die nuwe kykNET-reeks waarin Lieb eersdaags te sien is.