Dié bekroonde akteur, wat al in dramareekse soos Waterfront en Die Boekklub te sien was, het op Facebook onthul hy is in ’n verhouding met Handré Basson. 

Handré is volgens sy Facebook-profiel ’n Matie-student en navorser by die Lepidopterists Society of Africa, wat skoenlappers en motte navors. Op Handré se profielfoto pryk 'n kiekie van hom en Stian. Hy dui ook in sy verhoudingstatus aan dat hy in 'n verhouding is met Stian.

Op Facebook het Stian, wat mees onlangs in die fliek Die Verhaal van Racheltjie de Beer te sien was, geskryf hy en Handré het 10 maande gelede “wortel geskiet”

"’n Toevallig ontmoeting as gevolg van ’n Duitse Wespe. En ons lewens het ingrypend verander. Ons reaksies op mekaar was onmiddellik. Ek wou daarteen baklei, myself verset en dit ontken, soos soveel keer van tevore, maar ek kon dit nie regkry nie," skryf die pa van twee.

“Die Noordster het gaan nes skrop bo jou kop. Jy is Isis. Ek Osiris. Jy het my opgekapte dele bymekaar gaan maak en my tot die lewe geroep. En daarvoor sal ek jou altyd dankbaar wees. Ons is die rotsvy en die krans op Gifberg. Op mekaar aangewese om te oorleef. Jou empatie maak my nederig, jou passie en lewenslus gee my krag. Met jou is niks te groot of te klein nie," skryf Stian.

“Jou hart is die weduwee se kruik. Jou liefde ken geen perke nie. En jy gee dit vir my en my kinders sonder skaamte. En ons vat dit sonder ophou. Dankie dat ek nou saam met jou kan stap en aanvat wat voorlê.

“Ek het jou lief. Ek het jou lief. Ek het jou lief,” skryf hy verder.

Kort voor die inskrywing het Stian ook laat hoor dat daar vrees was. "Ten spyte van die vrees is daar oorvloed medemenslikheid, geluk, vreugde en liefde soos daagliks aan my ontbloot word. Ek kom uit 'n sterk familie. Die Bamme is gemaak van Kalahari-grond.

"Ek het 'n sterk vermoede my pa klim daagliks die rooi duin en vang vis by Sandwich Habour terwyl hy uitkyk oor die see en lekker lag in homself oor die k** wat ons aanvang, want hy het alreeds die kennis bekom. Dit was in hom al die tyd. Daai groot hart wat geen perke geken het nie. Dit is een ding wat ek van my ouers het. Die waarde van liefde wat hulle ons geleer het deur dit so onophoudelik en sonder skroom uit hulle te laat vloei het. En so het dit my geloof geword. Ek glo bo alles aan die liefde," skryf Stian. 

"En dit is liefde wat my stuur. Dis my navigator. My Polaris. Die liefde wat ek voel en wat ek kry. Die liefde vir my ouers en kinders is 'n onbeskryflike, bo menslike liefde. En die liefde wat ek van hulle kry wens ek almal toe. So ook die liefde vir my vriende vir wie ek in 'n oogwink my lewe sal gee.

"Ek dink dit mag dalk my Hamartia wees, dat met liefde ek nog nooit ras, geslag of spesie kon onderskei nie. Dat ek dit blindelings volg die onbekende in soos 'n besetene wat gesalf is met 'n duif of 'n vlam. En terwyl Jacosta hang, steek ek soms my oë uit en dwaal rond in die wildernis. Of staan op Horeb en is blind vir die grootsheid wat aan my gewys word. Ek vind maklik berusting in my opfok vermoë. 'n Noodlot van kindsbeen af al aan my ontbloot. 

"Maar ek maak reg as ek verbrou, tot die beste van my vermoë. Ek was ook nog altyd bewus van hoe bevoorreg ek is om in my posisie te wees. En dat ek nie alleen is nie. Dat ek my sterre dank vir die lewe wat ek nou het. Want as ek een ding mense kan toewens is dit die berusting en liefde wat ek daagliks ontvang. Van my twee kinders, my familie, my vriende, en ander in die verbygaan wat soms net 'n kop knik of 'n klein woordjie deel. Maar veral van Handré."

Talle mense het op dié Facebook-inskrywing gereageer. "Ek was reeds 'n fên. Nou is ek 'n groter fên," skryf een van sy Facebook-volgelinge. Die aktrise Ira Blanckenberg het laat hoor: "Skryf daai asseblief in 'n boek of 'n brief of 'n bundel. Skryf dit neer. Beeldskoon, Stian."

"Ek wens ek kon my gordyne wyd oopgooi en toelaat dat mense inloer soos jy," het nog een laat hoor. "Maar ek is eenvoudig te skroomvallig. Dis so mooi om jou te lees, Stian Bam. Spesiale mens."

Stian het by navraag aan Huisgenoot gesê: “Ek het nie meer te sê as dit wat al reeds daar buite is nie.”