Barbra Gurupira het oor die paartjie se pad gekom toe hulle ’n skoonmaakdiens nader om iemand te kry om hand by te sit met die "chaos in hul huis".

Hulle het Barbra uitgevra oor haar familie en sy het toe vertel hoe sy haarself deur universiteit gesit het en einde 2018 haar L.L.B.-graad verwerf het - en dit boonop met ’n paar onderskeidings.

Hulle het Barbra se inspirerende verhaal in die sosiale media gedeel en gevra of enigeen weet waar sy haar klerkskap kan voltooi. En dit het duidelik vrugte afgewerp.

Barbra het vandeesweek by ’n klein regsfirma op Vredendal in die Wes-Kaap met haar klerkskap begin.

Tim het ’n foto van Barbra by haar nuwe werkplek met sy 14 100 Instagramvolgers gedeel en daarby geskryf: "Ons is ontsaglik opgewonde en uiters dankbaar! Barbra het hierdie week begin as artikelklerk by ’n wonderlike firma op Vredendal en ons sien werklik saam met haar uit na die reis wat vir haar voorlê. Dankie weer eens aan elke liewe persoon wat op die een of ander manier bygedra het, haar storie met kontakte en vriende gedeel het of bloot net duim vasgehou het. Dit was ’n voorreg om ’n klein deel van haar storie en alles wat sy tot dusver bereik het, te kon wees."

"Ek het ’n profiel wat ek bloot moes gebruik om haar te help; daarom is ons oorweldig en baie dankbaar vir die reaksie wat ons in die sosiale media gekry het," vertel Tim aan Huisgenoot. 

Na aanleiding van Tim se sosialemedia-inskrywings het iemand op Facebook die eienaar van die praktyk op Vredendal, waar Barbra tans werk, aangehaak. Sy is toe die geleentheid aangebied om haar klerkskap daar te doen, al het sy vir onderhoude by groot regsfirmas in Kaapstad gegaan.

Barbra is oorspronklik van Zimbabwe en het ’n vyfjarige dogter wat by haar ouers in Zimbabwe woon. Sy het gehoop sy sou ’n voet in die deur kry hier in Suid-Afrika.

"Ons het min gedoen. Barbra het self al die harde werk gedoen deur haar studie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) te voltooi," sê die akteur, wat op Stellenbosch woon en al te sien was in flieks soos Vuil Wasgoed en Klein Karoo.

Hoewel Tim voorheen gesê het Barbra wil verkieslik by ’n Kaapse firma werk, is sy meer as gelukkig op Vredendal sowat 303 km van Kaapstad.

"Vredendal is darem nie so ver nie; dis steeds in die Kaap.

"Die firma waarvoor sy werk het die skuif so maklik as moontlik gemaak vir haar. Hulle het nie net vir haar blyplek gekry nie; sy kry ook baie blootstelling en daar is steeds geleenthede vir haar om in die Kaap te werk," voeg hy by.

Tim is tans bedrywig. Hy het Maandag klaar verfilm aan die kykNET-gesinsreeks Alles Malan, wat in Julie op die kassie te sien sal wees. Hy speel in die reeks teenoor ander bekende akteurs soos Ivan Zimmermann en die voormalige Binnelanders-aktrise Nadia Valvekens.

Die pa van twee is ook besig met die vervaardiging van ’n fliek wat op die bekroonde skrywer Deon Meyer se boek Spoor gegrond is.